Waardevolle Vlaamse skildery in SA opgeveil

  • 0

Kunsliefhebbers regoor die wêreld wag in spanning vir die Stephan Welz-afslaers om bekend te maak hoeveel daar betaal is vir die meer as 400-jaar oue skildery van die bekende Vlaamse skilder Peter Paul Rubens wat onlangs in Suid-Afrika ontdek en verlede week aanlyn opgeveil is.

Die kunswerk Portret van ’n heer is verlede September in Suid-Afrika opgespoor en is na raming sowat R8 miljoen werd.

Die aanlynveiling van die skildery het verlede week tot ’n einde gekom maar niemand weet nog wie die trotse nuwe eienaar van hierdie meesterstuk is, en vir hoeveel dit opgeveil is nie. ’n Johannesburgse gesin wat anoniem wil bly het Stephan Welz-afslaers genader om die skildery te waardeer.

Die skildery (https://www.stephanwelzandco.co.za/wp-content/uploads/2018/06/RUBENS-Digital-catalogue.pdf) word deur kunskenners as ’n uitsonderlike fonds bestempel en kunsversamelaars brand van nuuskierigheid om te weet wie die nuwe eienaars is.

Volgens die kunskenner Johan Myburg plaas die ontdekking van die skildery Suid-Afrika weer bietjie in die kollig betreffende die kunste. Myburg het aan Netwerk24 gesê dit is ’n sensitiewe portret en eintlik intiem as mens kyk na die sagte verfhale wat Rubens gebruik het.

Die skildery wat verlede jaar in ’n privaathuis in Johannesburg ontdek is, is vermoedelik in die dertigerjare vanuit Duitsland na Suid-Afrika gesmokkel. Die skildery, en hoe dit in Suid-Afrika beland het, gryp kunsliefhebbers regoor die wêreld se verbeelding aan.

Die familie in wie se besit die skildery was het die afslaers Stephen Welz & Co genader om dit te waardeer. Die afslaers het die waarde daarvan tussen R5 en R8 miljoen geskat. Volgens die familie is daar ’n brief wat aandui die skildery, waarna daar verwys word as “snaakse ou man”, kan moontlik ’n Rubens wees.

Een van die redes waarom dit so lank geduur het om die kunswerk op te veil was omdat die Stephan Welz-afslaers eers bo alle twyfel die egtheid en oorspronklikheid van die skildery moes vasstel. Volgens die afslaers was dit ’n pynlike en tydsame proses om te verseker dat die portret nie vervals is nie voordat die maatskappy dit bekend gestel, en op ’n aanlynveiling verkoop het.

Die kunskenner Luke Crossley het aanvanklik vermoed dit was dalk ’n vervalsing wat deur mense verkwansel wil word wat geld probeer maak uit die nagemaakte werke van Ou Meesters. Hy het egter besef dat dit dalk oorspronklik mag wees toe hy hoor dit is reeds sedert die dertigerjare in die familie se besit.

Crossley het verlede jaar in ’n onderhoud aan Radio 702 gesê dit was ’n ongelooflike fonds dat die skildery opgespoor is en hy was uit die veld geslaan oor die ontdekking. Hy het sy betrokkenheid by die skildery as ’n kunsavontuur beskryf.

Verskeie mediahuise in Suid-Afrika het sedert September oor die skildery berig en daar is ook ’n video daarvan op You Tube te sien:

Crosley glo die portret is na raming 420 jaar oud. Sover vasgestel kan word is die skildery vir die eerste keer in 1740 op ’n veiling in België verkoop. Dit is glo in 1925 deur ’n Joodse kinderdokter van Duitsland by die Kunsthandel Komter-veiling in Amsterdam gekoop en het kort daarna sy weg na Suid-Afrika gevind waar dit onlangs ontdek is. 

Buro: NB
  • 0
Top