Daar word wyd bespiegel waaroor Cyril Ramaphosa en sy Russiese ampsgenoot Wladimir Poetin dié week alles gesels het tydens ’n telefoonoproep tussen die twee leiers.
Het dit ook die internasionale gevolge ingesluit indien Poetin Suid-Afrika sou besoek tydens die Brics-beraad in Augustus en bewerings van onwettige wapenverkope tussen die twee lande?
Oekraïne en sy bondgenote is min beïndruk met gerugte dat Suid-Afrika dit oorweeg om vanjaar se Brics-beraad na ’n ander land te skuif om die wetlike implikasies te ontduik dat Suid-Afrika verplig sal wees om Poetin in hegtenis te neem as hy sy voete in Suid-Afrika sou sit.
Suid-Afrika bevind hom in ’n netelige situasie met Poetin se voorgenome besoek, aangesien die Internasionale Strafhof (IS) ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik het weens beweerde oorlogsmisdade tydens die oorlog in Oekraïne. As lid van die IS en ondertekenaar van die Statuut van Rome is Suid-Afrika verplig om die Russiese leier in hegtenis te neem indien hy die land binnekom.
Volgens berigte sou die kabinet Woensdag ’n aanbeveling oorweeg om die Brics-beraad na China te skuif, na aanleiding van ’n regsmening deur ’n tegniese span wat deur Ramaphosa aangestel is om die wetlike implikasies te ondersoek indien Poetin die land sou besoek.
Die Oekraïense minister van buitelandse sake, Dmitro Kuleba, het volgens mediaberigte gesê hy “gee nie om” as Suid-Afrika sou besluit om die Brics-beraad te verskuif nie. Wat hy wil hê, “is die respek vir die oppergesag van die reg”, het TimesLive berig.
Ukrainian foreign minister Dmytro Kuleba says he “does not care” if South Africa decides to move the upcoming 15th Brics summit. What he wants “is the respect for the rule of law and principle”.https://t.co/jF9figfL7L
— Times LIVE (@TimesLIVE) June 8, 2023
Bronne het aan Daily Maverick gesê dat die Brics-aangestelde tegniese span se mening wat aan die interministeriële komitee onder leiding van adjunkpresident Paul Mashatile voorgelê is, ’n negatiewe bevinding was indien Poetin die beraad sou bygewoon.
Ramaphosa het vroeër die week ’n telefoongesprek met Poetin gehad waarin hy hom, volgens ’n verklaring deur die presidensie, ingelig het oor die komende vredesending vir Afrikaleiers na Oekraïne en Rusland. Die verklaring maak geen melding van die Brics-beraad en Poetin se teenwoordigheid daar nie.
Die presidensie sê die telefoongesprek met Poetin het gevolg op ’n bespreking wat op Maandag 5 Junie 2023 onder die Afrika-leiers plaasgevind het.
Daar word egter wyd bespiegel of Ramaphosa nie dalk “beleefd” vir Poetin gesê het hy kan nie die beraad in Suid-Afrika bywoon nie.
Did President Cyril Ramaphosa politely tell Russian President Vladimir he couldn’t come to the BRICS summit? https://t.co/G2kNFKOt9g
— Daily Maverick (@dailymaverick) June 8, 2023
Die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Emma Louise Powell, sê in ’n verklaring hierdie “laaste-minuut-geskarrel deur die ANC is niks meer as ’n desperate poging om aanspreeklikheid te ontduik nie”.
Inligting wat daarop dui dat die kabinet Woensdag ’n besluit sou neem om die komende Brics-beraad na ’n sekondêre land te skuif, is volgens Powell die duidelikste aanduiding nog dat die ANC-regering eenvoudig nie bereid is om hul wetlike verpligtinge na te kom en die “vermeende oorlogsmisdadiger, Wladimir Poetin, in hegtenis te neem nie”.
Enige besluit om die beraad te skuif in plaas daarvan om die betrokke wetlike verpligtinge uit te oefen om ’n arrestasie uit te voer, sal volgens die DA die effek hê om Poetin se voortgesette skrikbewind in Oekraïne direk te help.
“Suid-Afrika het reeds miljoene opgedok in voorbereidings vir die beraad, wat dalk nou heeltemal vermors is. Om die beraad na ’n sekondêre land te skuif, is niks anders as ’n vals poging wat ontwerp is om die indruk te skep dat Suid-Afrika neutraal is nie,” sê Powell.
Sy sê die realiteit is dat die ANC eenvoudig nie bereid is om die wet te handhaaf nie, omdat hul verkiesingsvoorspoed in 2024 direk gekoppel is aan voortgesette guns by Rusland.
“Die ANC se voortdurende verbintenis met Moskou het reeds ernstige gevolge vir Suid-Afrika gehad.”
Daar word ook berig dat Formule 1-planne laat vaar is om die Suid-Afrikaanse Grand Prix volgende jaar in die land aan te bied as gevolg van die land se versuim om Russiese aggressie in Oekraïne te veroordeel. Honderde miljoene rande se direkte buitelandse investering en advertensie-inkomste vir Suid-Afrikaanse firmas is glo reeds as gevolg daarvan verlore.
Hierdie disinvestering sal volgens die DA voortduur tot tyd en wyl Suid-Afrika bereid is om by die globale gemeenskap van demokrasieë aan te sluit om vas te staan op sy grondwetlike waardes en om Russiese aggressie in ’n soewereine staat aan die kaak te stel.