Waarskuwing oor moontlike terroriste-aanval het Suid-Afrikaners aan die raai

  • 0

Dit gons onder Suid-Afrikaners oor ’n veiligheidswaarskuwing wat die afgelope week deur die Amerikaanse regering uitgereik is oor ’n moontlike terroriste-aanval hierdie naweek in Sandton.

Sandton is die finansiële hartklop van Johannesburg en vorm deel van die Stad Johannesburg se metropolitaanse munisipaliteit.

Volgens ’n inskrywing op die webwerf van die Amerikaanse konsulaat in Suid-Afrika het die Amerikaanse regering inligting ontvang dat terroriste moontlik beplan om ’n aanval uit te voer teen groot byeenkomste mense op ’n ongespesifiseerde plek in die groter Sandton-gebied van Johannesburg op 29 Oktober 2022.

Daar is geen verdere inligting oor die tydsberekening of die metode of teiken van die potensiële aanval gegee nie. Die Amerikaanse ambassade het hulle personeel aangeraai om skares mense en ander groot openbare byeenkomste in die groter Sandton-gebied gedurende die naweek van 29–30 Oktober te vermy.

Die waarskuwing het Suid-Afrikaners hot en haar laat gis op sosiale media oor die potensiële teiken van die beweerde aanval en of dit  ernstig opgeneem moet word.

Die Suid-Afrikaanse regering het die waarskuwing aanvanklik by monde van Mondli Gungubele, minister in die presidensie, onderspeel. Hy het aan die SABC gesê die  wetstoepassingsowerhede ondersoek die berig, maar die regering dra nie kennis of het enige bewyse van ’n potensiële bedreiging nie.

In ’n opvolgverklaring wat later uitgereik is, het die Suid-Afrikaanse regering gesê hy het “kennis geneem” van die waarskuwing van die Amerikaanse konsulaat.

“Dit is die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte om te verseker dat alle mense in ons land veilig voel. Ons werk hard daaraan om ons nasie en sy mense veilig te hou,” lui die verklaring.

“Ons gaan voort om die situasie te monitor vir bedreigings teen ons burgers, nasie en soewereiniteit. Bedreigings word deurlopend beoordeel en daar word opgetree om die veiligheid van almal te verseker.”

Die regering het gesê hy sal Suid-Afrikaners dringend inlig oor enige onmiddellike bedreigings, sou die behoefte ontstaan.

Die Instituut vir Sekerheidstudies het ’n beroep op die publiek gedoen om nie paniekerig te raak nie, maar wel waaksaam te wees.

Een van die moontlike teikens waaroor daar Donderdag in die media en op sosiale platforms bespiegel is, is die Gay Pride-geleentheid en ’n vertoning van twee weke wat deur die Joodse komediant Nik Rabinowitz in Sandton opgevoer word. Die waarskuwing het vrese ontketen by sommige lede van die LGBTQIA+-gemeenskap, wat na verwagting hierdie naweek in groot getalle by die Pride Parade in Sandton sal opdaag.

Die organiseerders van die parade het op Facebook gesê hulle is bewus van die betrokke inligting en sal later ’n verklaring  uitreik.

Johannesburg Pride, wat Pride of Africa genoem word, is die oudste en grootste Pride-byeenkoms in Afrika, met ’n bywoning van meer as 120 000 mense in 2019 en ’n toenemende aantal besoekers uit die res van Afrika.

Die organiseerders sê op hulle webwerf hulle visie is om elke LGBTQ+-persoon regoor Afrika te bevry om hul mees outentieke lewe te lei. Die Pride of Africa-uitreikprogram strek van Johannesburg tot Gaborone, en sluit vlugtelinge en asielsoekers uit Afrika in.

Bespiegelings lui dat die beweerde aanval verbind word aan die Islamitiese Staat, maar dit kon nie amptelik bevestig word nie. Die Islamitiese Staat  het voorheen gedreig om aanvalle op Suid-Afrika uit te voer weens die land se betrokkenheid by ’n teeninsurgensie-operasie in die noordooste van Mosambiek, waar die Islamitiese militante sedert 2017 aanvalle uitvoer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top