Walus se aanhouding druis in teen Grondwet se "menslike" waardes

  • 0

Chris Hani, die eertydse leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), sou in Junie vanjaar 80 jaar oud geword het. Maar dié mylpaal is hom nie beskore nie, omdat hy in April 1993 – ’n jaar voor die land se eerste nierassige, demokratiese verkiesing – deur die Pools-gebore immigrant Janusz Walus doodgeskiet is.

Die besonderhede is bekend en hoef dus nie hier herhaal te word nie. Wat die gebeure tans weer nuus maak, is Walus se aansoek in die Konstitusionele Hof om hersiening van die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, se besluit om nie sy parool goed te keur nie.

Telkens wanneer Walus om parool aansoek doen, skop Hani se weduwee, Limpho, die SAKP en (nou ook) die minister, soos sy voorgangers, daarteen vas. Hulle kan hulself net nie vryheid voorstel vir die man wat drie dekades gelede so byna verantwoordelik was vir ’n algehele bloedbad in die land deur ’n struggle-ikoon te vermoor nie.

Sonder die gesaghebbende, versoenende en morele leierskap van Nelson Mandela, wat te midde van ’n nasionale opstand in reaksie op Hani se dood ’n oproep om kalmte gedoen het, kon sake heel anders (vernietigend, bloedig) uitgespeel het.

Dit sou kon beteken het dat die internasionale opgewondenheid oor die oorgang na ’n nuwe bestel in April 1994 baie maklik deur die gebeure van April 1993 as ’n onmoontlikheid gestuit kon gewees het.

Roelf Meyer, wat die destydse Nasionale Party-regering se hoofonderhandelaar was, het die 36 ure ná Hani se dood as ’n kantelpunt beskryf. Dit kon die land maklik oor die afgrond gestoot het, het hy gesê. Die vlamme van oproer kon die kanse op ’n vreedsame oorgang verswelg het. Mandela se statuur het die gemoedere laat kalmeer: “Ons hartseer en woede skeur ons uitmekaar,” het Mandela by Hani se begrafnis gesê, maar terselfdertyd het hy die swart meerderheid landsburgers daarop gewys dat dit ’n wit vrou “van Afrikaner-oorsprong” was wat haar eie lewe in gevaar gestel het “sodat ons kon weet wie die sluipmoordenaar is” en dié geregtigheid in die gesig kon staar.

Dié sluipmoordenaar, nou alombekend, het sy geboorteland verlaat om die “verdrukkende kommunistiese regime” aldaar te ontvlug. Noudat daar vir hom tekens was dat sy aangenome land, Suid-Afrika, ook ’n “verdrukkende kommunistiese” roete kon volg, moes hy sy deel doen om dit in die kiem te smoor.

Hani was vir hom die gesig van dié veronderstelde “kwaad”. Wat sou dan só erg wees daaraan dat Hani homself, soos in ’n Britse TV-onderhoud as ’n “ongekompromitteerde vegter vir geregtigheid, vryheid en nierassigheid” geïdentifiseer het? Of was dit, soos wat hy ook in die onderhoud sê, die feit dat vryheid vir hom nie slegs ’n nuwe nasionale vlag en lied durf beteken nie? “Sosio-ekonomiese herstrukturering” was ononderhandelbaar, was sy oortuiging. Die rykdom van die land kon nie langer in “slegs enkele hande – wit hande – bly nie”, ’n stelling waaroor hy “verafsku” is, het hy self gesê, deur “diegene wat die rykdom van die land besit”.

Maar selfs al het dié stellings deur hom sommige ongemaklik (bekommerd, vreesbevange) gelaat, was Hani onder sy kamerade bekend as iemand wat vrede voorgestaan het, soos wat Tokyo Sexwale – een van die eerste ANC-leiers op die Hani-moordtoneel – agterna in ’n SABC-onderhoud benadruk het. In dié onderhoud beklemtoon hy ook die feit dat dit ’n (ander) wit vrou was, die ANC-lid Gill Marcus, wat reeds óp die toneel – en selfs vóór Mandela - ’n oproep om kalmte gedoen het. Nóg iets wat hy in die onderhoud byhaal, is dat Hani se kamerade nie geglo het dat Walus en sy medebeskuldigde, Clive Derby-Lewis, alleen die sluipmoord beplan het nie. Hierin lê ’n deel van die teenstand teen Walus se vrylating op parool opgesluit. Of hy dus ooit vrygelaat sal word (en, soos hy graag wil, na sy geboorteland sal kan terugkeer), sal afhang van die beslissing van die Konstitusionele Hof oor die aansoek wat hy tans bring.

Die vraag wat gevra moet word, is of sy volgehoue aanhouding geregverdig kan word. Tot wie se voordeel is dit? Word hy steeds as ’n gevaar vir die samelewing beskou? Gaan sy vrylating ou wonde vir die Hani-familie open? Omgekeerd: Verdien hy nie ook om, soos elke ander aangehoudene in Suid-Afrika, die reg op vrylating te hê wanneer en indien hulle aan die wetlike vereistes voldoen nie? Of sit daar wel meer agter die gebeure van April 1993 wat bekend kan word wanneer Walus die dag vry rondloop? Wie anders, behalwe Walus en Derby-Lewis, wou Hani dood hê?

Miskien, as hulle dit nog nie gedoen het nie, moet Limpho Hani, die SAKP en Lamola die boek Incorruptible. The story of the murders of Dulcie September, Anton Lubowski and Chris Hani lees, waarin die Nederlandse joernalis Evelyn Groenink onder meer onthul hoedat die polisie getuienis versteek het dat niks minder nie as drie ooggetuies glo nóg ’n moordenaar saam met Walus gesien het.

Om hom op byna 70-jarige ouderdom te laat aanhou boet vir die Hani-moord, terwyl ander reeds vir ewe erge misdade begenadig is, is, soos sy regsverteenwoordiger dit stel, ’n “wrede, onmenslike en vernederende straf”. Dit druis in teen die grondliggende waardes wat vervat is in die Grondwet waarvoor Hani geveg en gesterf het.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top