Want daar is g’n "klein" of "groot" sonde in staatskaping nie

  • 0

Amnestie is weer ’n warm besprekingspunt in Suid-Afrika: op radio-inbelprogramme, op televisiebesprekingsprogramme, in rubrieke, in meningsartikels, in die briewekolomme van koerante; en rondom naweke se gewilde braaivleisvure.

Terwyl dit ook hier in die algemeen met politieke oortredings geassosieer word, oftewel met vergiffenis, kwytskelding en begenadiging van dade met ’n politieke motivering, is die beweegrede hierdie keer anders.

Hierdie keer is dit nie oor die amnestie wat gedurende die oorgangsjare as deel van die Waarheids-en-versoeningskommissie se werksaamhede aangebied is ─ in ruil vir die volle waarheid oor wat presies gebeur het ─ aan oortreders wat met wandade gedurende apartheid verbind is nie.

Hierdie keer het dit eweneens met ’n ánder bedoeling ter sprake gekom as die meer onlangse amnestie wat, byvoorbeeld, aan vuurwapeneienaars gebied is om hul ongelisensieerde wapens te laat registreer.

Dit is die land se voormalige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, deesdae aan die Universiteit Stellenbosch verbonde, wat opnuut die kwessie van amnestie op die tafel van openbare diskoers geplaas het.

Haar redenasie is dat indien jy die geel wortel van amnestie voor die neuse van klein rolspelers in staatskapingskorrupsie hou, sal hulle geredeliker met inligting vorendag kom wat die sogenaamde groot visse aan die kaak sal stel.

Staatskaping is ’n internasionale verskynsel wat plaaslik veral met die termyn van oudpres. Jacob Zuma verbind word: dit was naamlik onder sy bewind dat vermeende korruptes soos die Gupta-broers en hul meelopers vrylik in die staat se bedrywighede, besluitneming, batebestuur én veral banksake kon inmeng.

Madonsela het ’n ondersoek hierna geloods en het teen die einde van haar eie termyn as OB in 2016 ’n verslag, getiteld “State of Capture”, bekendgestel. Dit is in een lange, lomp sin beskryf as die “Report on an investigation into alleged improper and unethical conduct by the President and other state functionaries relating to alleged improper relationships and involvement of the Gupta family in the removal and appointment of Ministers and Directors of State-Owned Enterprises resulting in improper and possibly corrupt award of state contracts and benefits to the Gupta family’s business.”

Haar aanbevelings het ingesluit dat ’n geregtelike kommissie na staatskaping deur die President ingestel word – en dit het eers ’n Konstitusionele Hof-beslissing gekos om Zuma, wat toe nog die presidentskantoor in die Uniegebou beset het, sover te kry om só ’n kommissie wel in te stel. (Maar terwyl hy homself daarop roem dat dit uiteindelik tóg hy was wat die kommissie laat realiseer het, skop hy steeds met mening vas teen ’n verdere verskyning voor die kommissie, terwyl die getuienis waarin hy geïmpliseer word van ’n molshoop tot ’n berg groei.) ’n Stokkie moes boonop gesteek word voor sy aandrang daarop dat dit hý – eerder as die hoofregter – moes wees wat die regter moet aanwys wat die kommissie moes lei. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het toe sy adjunk, regter Raymond Zondo, die taak opgelê om die oopvlekking van die beweerde Zuma/Gupta-wanbestuur te lei – en later is die kommissie se mandaat deur Zuma se opvolger, Cyril Ramaphosa, verbreed om die ondersoeknet veel wyer te gooi.

Nou glo Madonsela dat as jy die staatskapingsardientjies kan oorreed om die fluitjie teen die korrupsiehaaie te blaas, sal jy veel gouer méér inligting én meer skuldigbevindings hê. Hopelik, óók, sal jy vinniger van die gesteelde geld terugkry.

Die Madonsela-voorstel het egter die spreekwoordelike kat in die duiwehok los gelaat – en dit het die openbare mening behoorlik verdeel tussen diegene wat glo haar voorstel het meriete, terwyl ander daarin lees dat jy ’n geleentheid kan skep vir sommige skuldiges om maklik daarvan af te kom.

Wat hierdie skrywer laat kopkrap, is eerstens die tydsberekening van Madonsela se voorstel. Waarom nóú, sowat twee maande voordat die Zondo-kommissie in Desember sy sittings afsluit en nagenoeg vyf maande totdat Zondo sy verslag rondom Maart moet indien? En waarom het sy nie reeds as deel van haar “State of Capture”-verslag in 2016 die moontlikheid van amnestie aan sommige oortreders genoem nie?

Haar destydse oorhaastigheid om die verslag af te handel ─ byna op die vooraand van haar vertrek as OB ─ het vir ’n taalkundig ietwat slordige eindproduk gesorg; en haar eie tydsraamwerk vir die afhandeling van die kommissie se werk was boonop erg misplaas en onderskatte: 180 dae, oftewel ses maande, het sy aanbeveel ─ en hier trek die kommissie meer as twee jaar ná sy inwerkingstelling in Augustus 2018 stééds swaar om die wa deur die drif te kry (selfs met ’n verlengde sperdatum).

Maar wat dalk die meeste pla, is die veronderstelling dat die staatskapings-“ondergeskiktes” nooit self enige korrupte ingesteldheid of bedoelings gehad het nie, maar gewoon die opdragte van hul base uitgevoer het. Dit kan tog nie waar wees nie in ’n land waar jy deesdae, net soos wat jy in byvoorbeeld Nigerië vind, om elke hoek en draai ’n amptenaar vind wat (om die minste te sê) ’n koeldrank of middagete se geld “versoek” ten einde dié sover te kry om take (waarvoor hulle reeds salarisse ontvang) af te handel. Toegegee, Madonsela stel darem ook voor dat staatsamptenare heropgelei word om hulle te skool in wat aanvaarbare (etiese?) optrede is, maar dít weet hulle tog reeds aangesien die regulasies oral opgeplak en geboekstaaf is en op tenderdokumente aangebring word.

Waaraan amnestie geen verandering sal maak nie, is die gebruik om ANC-gesindes in poste aan te stel en om aan ontplooide partykaders voorkeur te gee. Die verwaandheid van ’n houding van onaantasbaarheid kom daarmee saam. Dít raak dan die kern van wat tot ’n algemene korruptheid aanleiding gee, waar jy soms (of meermale) met die indruk gelaat word dat eerlikheid die uitsondering eerder as die reël is.

Maar Madonsela se voorstel vir amnestie vir sogenaamde “ondergeskiktes” ten einde die “groot visse” vas te trek, is uiteindelik ’n gedagte wat vasgeval is in die maalstroom van ’n denkskool wat glo dat daar “klein sonde” en “groot sonde” in die pleeg van korrupsie en staatskaping is. En daar is nie: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword,” staan daar in Jacobus 2 vers 10 geskrywe.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top