Wat Amerika oor George Floyd se dood by Suid-Afrika kan leer

  • 0

Soos ek, wil jy seker ook al teen hierdie tyd begin wegkyk van die televisieskerm of die kanaal verander wanneer jy ’n verwysing na die George Floyd-gebeure sien en hoor; jy wil dalk ook jou ore toedruk of die “mute”-knoppie op die televisie se afstandbeheer druk.

Maar die beeld is kragtiger as ’n magneet, die klank is angswekkend.

Wat aanhoudend by ’n mens bly spook, weergalm, is dríé woorde, drie eenvoudige woorde, waarmee Floyd – geboei, vasgepen op die grond – in oortreffende trap soebat, soos kleintyd toe ons mekaar met kussings speels versmoor het, maar hierdie is geen kinderspeletjie nie en George Floyd is ’n ongewapende volwasse man wat om hulp roep, wat om genade pleit by die polisieman, Derek Chauvin, met sy knie teen Floyd se nek, vuurwapen in die sy, en sy hand in sy broeksak. Die doelgerigtheid en die inspanning en die vasbeslotenheid waarmee die polisieman van Minneapolis in die deelstaat Minnesota in Amerika sy plig om misdaad te bekamp op hierdie oomblik uitvoer, maak hom doof vir die woorde wat die ganse wêreld wel kan hoor: “I can’t breathe!”

George Floyd-protes in Amerika in Mei 2020 (Foto: Dan Aasland [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)

Die voorval het op 25 Mei 2020 plaasgevind. Dit is vandag 3 Junie 2020. In die nege dae tussenin het die storie die internasionale nuusagenda oorheers – en Amerika laat ontplof. Proteste – en uiteindelik ook vandalisme – het van deelstaat tot deelstaat versprei; dit het die stilte verbreek wat deur inperkingsmaatreëls weens die globale COVID-19-pandemie meegebring is; en dit het ’n seisoen van solidariteit in Europa, Asië en Afrika laat aanbreek.

In Amsterdam is daar teen polisiebrutaliteit betoog; in Brittanje was die Formule 1-kampioen Lewis Hamilton “oorkom deur woede”; in Parys is die Franse regering aangemoedig om polisiegeweld ernstig op te neem; in Australië het die Floyd-ervaring die kollig opnuut geplaas op die geval David Dungay, ’n 26-jarige Aborigine-man wat in 2015 in ’n tronk dood is nadat hy deur vyf wagte “in bedwang gebring is”. Selfs die Chinese en Irannese regerings – beslis nie die voorbeeldigste regimes in terme van respek vir menseregte nie – het die Amerikaanse regering geroskam oor dié se reaksie teen die proteste. In Kanada moes premier Justin Trudeau vir 21 sekondes nadink toe ’n joernalis hom oor die gebeure in Amerika pols: “We all watch in horror and consternation what's going on in the United States,” het hy geantwoord – en terselfdertyd Kanada se eie rasuitdagings erken. “It is a time to learn what injustices continue despite progress over years and decades.”

Protes in Amsterdam op 1 Junie 2020 (Foto: Karen Elliot (BAMCorp) [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)

Probeer gerus dié boodskap aan pres Donald Trump oordra. “We are putting everyone on warning,” het Trump, wat vir ’n wyle vir sy eie veiligheid in ’n ondergrondse skuiling versteek is, vroeër verklaar. Dit was toe hy aangekondig het dat hy “derduisende en swaar gewapende” soldate, militêre personeel en wetstoepassingsbeamptes teen die “betogings, plundery, vandalisme, aanvalle en kwaadwillige vernietiging van eiendom” gaan ontplooi.

Hierna is hy op TV gesien waar hy buite die Withuis saam met amptenare en veiligheidspersoneel ’n draai loop, reg oorkant die terrein waar protesgangers vroeër verwyder is. Die boek in sy hand waarmee hy die aandag van TV-kameras getrek het, was glo ’n Bybel, maar niks was op die omslag geskryf nie, slegs onleesbare woorde op die rugkant daarvan. “Is that your Bible?” wou ’n verslaggewer weet. “It’s a Bible,” het die President geantwoord.

Dit spreek boekdele oor sy geloofwaardigheid dat hy enigsins so ’n vraag gevra is. Maar dalk moes die vraag oor sy vertoonmakery eerder gewees het waarvoor hy hom na die Woord wend – en dit is te betwyfel of dit dieselfde rede was as die gebed van die Keniaanse opposisieleier, Raila Odinga, dat daar “geregtigheid en vryheid vir alle mense sal wees wat Amerika as hul tuiste beskou”. Indien dit ’n vingerwysery na Trump was, het Odinga se ander vier vingers huis toe gewys toe hy ook sê dat om weg te doen met die gebruik dat mense op grond van hul velkleur beoordeel word, “’n droom is wat ons in Afrika ook aan ons eie burgers verskuldig is”.

Hier aan die voetenent van die vasteland sou dié versugting beslis aanklank moes vind by Suid-Afrikaners ná onlangse voorvalle van hardhandige optrede deur polisie- en weermaglede wat na bewering tot die dood van Collins Khosa gelei het. Hoewel die Floyd-voorval (nog) nie plaaslik tot proteste aanleiding gegee het nie, het dit wel ’n debat laat ontstaan oor die (laer) vlak van ontstokenheid wat getoon is oor Khosa se dood teenoor Floyd s’n. Indien jou simpatie meer oorhel na laasgenoemde, het die radiopersoonlikheid Eusebius McKaiser getwiet, “moet jy reflekteer oor wat dit sê oor jou en oor ons – en tot hoe ’n mate ons (nie) swart Suid-Afrikaanse lewens waardeer (nie)”.

McKaiser se twiet maak egter nie melding van die rol in die verskillende reaksies wat die feit speel dat Floyd se dood op video vasgevang was en wyd versprei is, terwyl geen beeldmateriaal oor die gebeure in Khosa se huis bestaan nie. Die beelde en klanke van die Floyd-geval is daarom nou reeds ingeëts in die geheue van die wêreldpubliek, soos wat polisie- en weermagoptrede teen swart Suid-Afrikaners gedurende apartheid was. Plaaslik – anders as met die Floyd-situasie – was die fokus ook nie op die velkleur van die beweerde oortreders nie; en dáárin is nóg ’n belangrike onderskeid te tref: Die Khosa-voorval (hoewel ook onaanvaarbaar in die hoogste graad) het in die konteks van die COVID-19-inperking geskied, terwyl die Floyd-voorval beoordeel word in die breë konteks van rassediskriminasie en polisiëring in Amerika en die skeefgetrekte, geteikende wyse waarop daar teen swart mans opgetree word.

Kareem Abdul-Jabbar, wat weens sy aansien as basketbalster eenmaal as die “mees sigbare swart man in die land” bekend was, dui wel ’n raakpunt tussen die twee invalshoeke aan in ’n meningsartikel in die Los Angeles Times: “The black community is used to the institutional racism inherent in education, the justice system and jobs,” skryf hy. “But COVID-19 has been slamming the consequences of all that home as we die at a significantly higher rate than whites, are the first to lose our jobs, and watch helplessly as Republicans try to keep us from voting.”

En óók uit Abdul-Jabbar se artikel, asof deur ’n digter geskryf: “Racism in America is like dust in the air. It seems invisible – even if you're choking on it – until you let the sun in.”

Die dood van die 46-jarige George Floyd laat nou weer die son skyn op die werklikheid van en die stryd teen geïnstitusionaliseerde rassisme, wat al sedert die dae van slawerny, en toe swart mense in die openbaar gehang is (“lynchings”), gevoer word, en wat voortgesit is deur die menseregtebeweging van Martin Luther King jnr en verewig is in die skryfwerk van onder andere James Baldwin.

Baldwin kon nie dit wat hy wou hê sy vernaamste boek moes wees – oor die moord op King en twee ander swart Amerikaanse menseregteleiers, Medgar Evers en Malcolm X – voor sy eie dood in 1987 voltooi nie. Maar in 2017 het die filmmaker Raoul Peck die 30 bladsye Baldwin-aantekeninge vir die boek, wat hy Remember this house sou noem, in ’n dokumentêre rolprent omskep, getiteld I am not your Negro; die resultaat word beskou as ’n “radikale, kragtige en poëtiese werk” oor ras in Amerika – tóé en vandag.

En vandag blyk dit dat die Baldwin-skryfprojek in werklikheid nog nie afgehandel kán word nie, gegee die voortgesette polisiemoorde op bepaald swart mans in Amerika. In Policing the black man (Pantheon Books 2017) begin die samesteller, Angela J Davis, haar inleiding met name “uit ’n lang lys van ongewapende swart seuns en mans” wat in die onlangse verlede aan die hand van polisiebeamptes gesterf het: Michael Brown, Eric Garner, Tamir Rice, Walter Scott, Freddie Gray, Sam DuBose, Terence Crutcher. Ander meer onlangse gevalle sluit in Alton Sterling, Philando Castile en Stephon Clark. En dan was daar die bisarre voorval in September 2018 toe ’n (wit, vroulike) polisiebeampte, Amber Guyger, by ’n woonstel in dieselfde kompleks waar sy gewoon het, ingestap het en die swart man Botham Jean koelbloedig doodgeskiet het ... omdat sy glo gedog het dit is haar eie eenheid en dat Jean ’n inbreker was.

Wat tot hierdie soort denke aanleiding gee, word deur Bryan Stevenson, stigter en uitvoerende direkteur van die Equal Justice Initiative, in die Davis-boek verduidelik as “die las van skuldvermoede en gevaar” wat veral jong swart mans in Amerika met hulle saamdra. Dit kan net aangespreek word as Amerika die dag bereid is om wat betref sy geskiedenis van rassegeweld ’n proses van “waarheid en reparasie” te ondergaan – soos wat Duitsland, Rwanda en Suid-Afrika gedoen het, skryf Stevenson.

Maar solank as wat Amerika weier om hieraan gehoor te gee, sal George Floyd – nou die mees sigbare swart man in die wêreld – se versmorende pleitroep teenoor Derek Chauvin nog vir generasies lank bly weergalm: “Ek. Kry. Nie. Asem. Nie!”

Lees ook op LitNet

2015 teenoor 2020: ’n Vriendeliker ideologiekritiek?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top