Wat gaan gebeur as Trump wen?

  • 0

’n Amerikaanse polisieman kniel op iemand se nek in Minnesota en dae later word die standbeeld van ’n ou Boerepresident in veilige bewaring geneem. Net soos die koronavirus uit Wuhan wat uitslaan in die Amasone, bring dit ons weer onder die indruk van die diepte van globalisering. Die vraag wat ons nou almal op ’n persoonlike vlak kan raak, weer eens, is: Wat gaan gebeur as Donald Trump die verkiesing in November wen?

Daar is reeds genoeg spekulasie oor wat gaan gebeur as hy verloor. Hy en sy mense se konstante propaganda is dat die Demokrate gaan kul met die stemmery en al sy virusprobleme, beide biologies en elektronies. Dat die Amerikaanse weermag dit nodig vind om die publiek te laat weet hulle sal ’n bevel verontagsaam as Trump ’n noodtoestand uitroep, dui daarop dat sommige generaals reeds so ’n scenario in hul CCC-sentrums het (CCC staan vir Command Control Communication). Daar is waarskynlik ook ’n paar generaals en/of kolonels wat Trump graag as noodpresident sal wil beskerm.

Gelukkig lyk dit nog alte veel na spekulasie. En volgens die meningspeilings gaan Joe Biden die paal haal, maar wat ons ook moet oorweeg, is watter kragte ’n Trump-oorwinning sal loslaat. Van globalisering gepraat, selde het ’n enkele man – met die van Chauvin nogal – se heerssugtige sadisme sulke globale reperkussies gehad: Black Lives Matter het nou uitgebrei na krieketspelers in Wes-Indië en die Britse parlement, waar die Engelse sokkerhoof sy spelers se swartmagsalute en kniebuigings – saam met die skeidsregters – heelhartig ondersteun het.

Op die oomblik lyk dit asof Trump se hantering van die landwye betogings, waartydens hy sy diktatoriale instinkte ontbloot het, en van die koronakrisis, hom twee nekslae toegedien het, en spreek al meer Trump-aanhangers hul berou uit dat hulle in 2016 vir hom gestem het. Maar ’n mens moet waarnemers soos Wolfgang Münchau gelyk gee dat daar teen November ’n konserwatiewe teenreaksie kan ontwikkel, net soos die Franse na 1968 vir Charles de Gaulle met ’n groter meerderheid herkies het. Soos ek elders geskryf het, is daar genoeg Amerikaanse kiesers wat hom sien as ’n aweregse rebel teen die verstokte establishment, en is genoeg van hulle te heerssugtig om Trump nou al af te skryf – gedagtig daaraan dat hy ook teen Hillary Clinton ’n buiteperd was.

Die ding is dat Black Lives Matter nou gaan om meer as, wel, swart lewens. Daar is ’n oorvleueling met die onvergenoegdheid wat blootgelê is deur die koronakrisis. ’n Raaisel vir baie waarnemers, soos Johnny Steinberg, is waarom mense dwarsoor die wêreld aanvanklik so geredelik die drastiese ingryping van grendelstate in hul lewens aanvaar het. Die antwoord is dalk heel eenvoudig: Hulle wou ’n “breek vat”, ’n bietjie asemskep, veral as dit agter ’n masker is, van die dolle gejaag na nêrens waarin hulle nie veel van ’n sê het nie. Mense dwarsoor die wêreld is keelvol vir die heersende verbruikersetos en sy waardes van die oombliklike versadiging van kunsmatige behoeftes ten alle koste. Dit is ’n globale masjien wat oor enkelinge loop, veral dié aan die rand van die gemeenskap, wat meer geneig is om ander velkleure as wit te hê.

Die hantering van die virus gaan veroorsaak dat al meer wit mense ook verarm raak, en dat die grense tussen hulle en onderdrukte swart mense gaan vervaag. Die politieke wetenskaplike Francis Fukuyama meen dat die virus die borrel van populisme gaan prik wat grootpraters en spekskieters soos Trump, Jair Bolsonaro en Boris Johnson aan die bewind gebring het. Black Lives Matter kan inderdaad All Lives Matter word, hoewel nie soos die regse skeppers van laasgenoemde slagspreuk dit voorsien nie.

Daar is ’n groeiende gevoel onder veral jongmense, dié wat meer geneig is om sonder werk te sit, dat die wêreld nie kan voortgaan soos wat dit nou is nie. ’n Trump-oorwinning sal vir hulle soos ’n rooi vlag wees, ’n teken dat hul eie persoonlike toekomste gekompromitteer word deur die identiteitsbehoeftes van ’n ouer geslag, en ter wille van wie se beskerming teen die virus die globale ekonomie in duie laat stort is … jongmense wat in die virtuele wêreld van die tegnologiese revolusie grootgeword het en vir wie rykdom nie meer so baie tel nie.

’n Verdere scenario wat reeds aan die uitspeel is, kom uit Beijing. Net soos China met sy reusagtige sentrale moniteringstelsel ’n stap voor die res van die wêreld was met die koronavirus – ook natuurlik omdat dit daar eerste uitgeslaan het – weet die kommunistiese generaals reeds baie omtrent opstandige jongmense. Op ’n redelik siniese wyse het hulle Trump en Amerika se rondvallery met die virus en Black Lives Matter gebruik om drakoniese nuwe wetgewing op Hongkong af te dwing. Die maskers wat jongmense laasjaar in die stad gedra het om hulself identiteitloos te maak, is ’n perfekte simbool van die interseksionaliteit (oorvleueling) wat BLM-opstandelinge en koronarebelle by mekaar kan uitbring.

Hoe sal ’n wêreldwye opstand teen Trump Suid-Afrika raak? Miskien sal president Steyn se standbeeld weer verskuif moet word, dié keer na die Kangogrotte of so, en sommer enige wit mens s’n. Maar die grootste gevaar is dalk dat die Chinese sulke oproerigheid sal gebruik om die skuiwe te maak wat hom vroeg reeds as die sosialistiese supermoondheid van die derde millennium kan vestig – iets wat Beijing se chauviniste lankal koester en as onafwendbare geskiedenis beskryf. Deur sy Gordel en Roete-inisiatief het hy reeds voete in baie deure in Oos-Asië gekry, en hy is reeds Afrika se nuwe koloniseerder.

Suid-Afrika se heersers, die elite van die nasionaal-demokratiese revolusionêre alliansie rondom die ANC, is bekend as bewonderaars van China. Dit is moontlik dat die hardhandigheid van ons gewapende magte, wat nog steeds nie terug in hul barakke is nie, gegrond is op die templaat van ’n Chinese moniteringstaat. Of die regering hier in staat is tot dieselfde deeglikheid as die Chinese in die onderdrukking van hul burgers, is natuurlik ’n ander saak.

Hoe dit ook al sy, hou maar die Amerikaanse verkiesing dop. En in die onwaarskynlike geval dat die virus teen November sou verdwyn het, hou maar die maskers byderhand – ons sal hulle dalk vir ander doeleindes nodig hê.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top