In Suid-Afrika is die gebruik, oor dekades heen, om die opening van die parlement gedurende die dag te hou, enkele jare gelede na ’n aandgeleentheid verander. Dit is gedoen om meer landsburgers die kans te bied om die gebeure op televisie of radio (en nou toenemend aanlyn) te volg, op dié wyse deel te laat voel van die rooitapytvertoonmakery en op hoogte gebring te word van wat die president gesê het.
Einde verlede week was dit die beurt van pres Matamela Cyril Ramaphosa om sy sê te sê toe hy sy eerste “eie” staatsrede gelewer het. Dit was ’n Donderdagaand, en dit is gekenmerk deur Ramaphosa se eie Martin Luther King-agtige “Ek het ’n droom”-afsluitingsopmerkings – ’n droom oor onder meer ’n “nuwe Suid-Afrika”-stad, hipermodern, en ’n sneltrein waardeur hoofsentra in die land verbind word.
Nou word hy deur politieke waarnemers en die media daaroor gekoggel, in Afrikaans en in Engels, indien nie verguis nie.
Dit sal ons dalk baat om ’n tree terug te gee na die termyne van Ramaphosa se voorgangers en hoe dit daar uitgesien het.
Gedurende die een termyn van Nelson Mandela was die fokus klokslag op versoening en die oorgang van ’n verdrukkende stelsel van apartheid na die era van demokrasie; met Thabo Mbeki se net minder as twee termyne was die ekonomie, die oorbrugging van die welvaartgaping tussen wit en swart en die Afrika-Renaissance bo-aan sy prioriteitslys, gemeng met indrukwekkende filosofiese aanhalings van groot denkers; en mees onlangs met Jacob Zuma het die begrip “radikale ekonomiese transformasie” die wagwoord geword.
Die “toesighoudende” termyn van Kgalema Mothlanthe, gedurende die 18 maande tussen Mbeki se herroeping en Zuma se oorname, word nie hier in berekening gebring nie, omdat dit hom te min tyd gebied het om sy eie stempel af te druk.
Zuma sou uiteindelik dieselfde lot as Mbeki deel: In Februarie 2018 is hy gedwing om te bedank nadat Cyril Ramaphosa in Desember 2017 as partyleier van die ANC verkies is. Die verskil was weliswaar dat terwyl die ekonomie in Mbeki se termyne tot so ’n mate gegroei het dat Suid-Afrika selfs ’n surplus kon opbou, is die ekonomie in Zuma se twee termyne vernietig en die staatskas geplunder.
Dié plundering van die staatskas, wat op verskillende wyses gemanifesteer het, onder meer deur die bedenklike toekenning van staatskontrakte aan omkopers, swendelaars en Zuma-lojaliste, het die term “staatskaping” tot die land se daaglikse woordeskat gevoeg.
Ramaphosa, gesoute onderhandelaar as oudvakbondleier en Mandela se gesalfde wat die onderhandelings vir ’n nuwe grondwet betref het, het dus net op die regte tyd na vore getree, was die algemene konsensus.
Geen onduidelikheid was in sy gesigsuitdrukkings of in sy stemtoon of in sy uitsprake te bespeur oor presies hóé groot hierdie verantwoordelikheid was wat nou op sy skouers rus nie. ’n Trefferlied van die jazz-legende Hugh Masekela, “Thuma Mina”, oftewel “stuur my”, het sowel ’n persoonlike pleidooi van hom aan Suid-Afrikaners geword as ’n oproep van hom aan landsburgers om saam te werk aan die herstel van alles wat onder Zuma tot niet gegaan het.
En só kon Ramaphosa op die rug daarvan in betreklike vrede en sonder te veel kritiek twee staatsredes ter voltooiing van Zuma se kortgeknipte tweede termyn lewer – in Februarie verlede jaar en in Februarie vanjaar – voordat die Mei 2019-verkiesing die weg vir hom gebaan het om met 57% kiesersteun as staatshoof aan te bly.
Nou was hy in ’n posisie waartoe hy verkies is; nou het hy sy “eie mandaat” gehad. Ramaforie het geseëvier. Of so het ons geglo – en politieke waarnemers en die media het saam in die “Thuma Mina”-koor gesing.
Dit sou hom in ’n posisie plaas om onder meer sy eie kabinet saam te stel, eerder as om aan te hou om saam met sommige van Zuma se korrupte kalwers te ploeg; en nou sou hy ook die beleidsfokus kon plaas waar dit nodig was om ekonomiese groei te verseker en die internasionale graderingsagentskappe se goedheid en guns terug te wen.
In sy staatsrede verlede Donderdagaand het Ramaphosa sy bes probeer om aan die verwagtinge te voldoen. Hy het goed weggespring deur erkenning aan die leiers van opposisiepartye te gee – en te beklemtoon dat hulle, soos hy, tydens die verkiesingsveldtog “gehoor het wat die mense sê”. Dit was ’n manier om hulle voor te berei op die lys van sewe prioriteite en vyf “ambisieuse doelwitte” wat hy en die ANC vir hierdie sesde administrasie (sedert 1994) saamgestel het.
Wat uitgestaan het in die lys prioriteite, was ekonomiese transformasie (let daarop dat “radikale” nie gebruik is nie), sosiale kohesie, veiligheid en ’n kundige staatsdiens; onder doelwitte was dit die verbintenis om armoede, werkloosheid en ongelykheid die nekslag toe te dien – ’n kritieke noodsaaklikheid as jy in ag neem dat nagenoeg 20 miljoen Suid-Afrikaners van maatskaplike toelae afhanklik is; dat werkloosheid tot 30% beloop en onder die jeug tot 50%; en dat Suid-Afrika globaal as die mees ongelyke samelewing voorgehou word.
Ramaphosa het ook na die land se Nasionale Ontwikkelingsplan verwys, ’n reddingspoging wat moet help dat die land se ekonomiese en maatskaplike probleme die hoof gebied word en dat die land tot sy volle potensiaal sal ontwikkel. Onder die Zuma-regering is dit opsy gestoot; dit was die era van gryp en vraatsugtigheid. En nou sit die Ramaphosa-regering met die gebakte pere, soos die R230 miljard-skuldlas van die elektrisiteitsverskaffer Eskom, wat byna kunsmatig deur die staat aan die lewe gehou word.
Hieroor het Ramaphosa dit duidelik gestel dat die land geen ander keuse het as om dié entiteit van algehele ondergang te red nie, want dit sou ook die ondergang van die land beteken – en terselfdertyd het hy dit onomwonde gestel dat die tydperk waartydens swart mense aangemoedig is om die betaling van byvoorbeeld munisipale dienste te boikot, nou verby is en dat elkeen wat krag ontvang, hetsy individue of munisipaliteite, eenvoudig moet begin om daarvoor te betaal.
Die President het ’n velerlei ander behoeftes aangespreek, onder meer oor voorskoolse ontwikkeling, werkskepping vir die jeug, kleinsake-ontwikkeling, openbare gesondheidsdienste en dies meer.
Uiteindelik het hy dié vraag gestel: “Watter soort Suid-Afrika verlang ons?” In sy eie geestesoog is dit ’n Suid-Afrika waar almal gemaklik en voorspoedig lewe; ’n Suid-Afrika wat hoop bied. En toe begin hy liries te raak oor sy droom van ’n Suid-Afrika waar jy onder meer ’n nuwe stad bou, een waar alles tegnologies gedrewe is, skole, fabrieke, noem maar op, gedagtig daaraan dat 75% van alle Suid-Afrikaners na verwagting teen 2030 in stedelike gebiede woonagtig sal wees. Wat goed hierby behoort in te skakel, is sy ander droom van ’n sneltrein wat binne oomblikke ’n skakel tussen verskillende sentra sou bewerkstellig, stad tot stad.
Maar politieke waarnemers en die media skyn nie in te koop in dié dromery nie; hulle soek oplossings vir nóú, nie oor tien jaar in 2030 nie, betoog hulle in hul kommentaar op Ramaphosa se staatsrede. “Time for dreaming is over, Mr President,” skryf die Sunday Times. “There’s work to be done.” En Rapport: “Dis jammer dat ’n president wat in sy kort tyd aan die stuur reeds só baie reggekry het die kluts in een toespraak so kan kwytraak. Ons hoop saam met Ramaphosa dat Donderdag se ‘I have a dream’-toespraak in die jare wat kom nie vir hom ’n verleentheid gaan word nie.”
Wat die kritici die meeste oor sy staatsrede pla, is die afwesigheid van praktiese aksieplanne met meetbare doelwitte. Maar as iemand wat die politiek al sedert Mandela se termyn dek, was ek nogal altyd onder die indruk dat ’n staatsrede veronderstel is om ’n oorsig te gee van die regering se planne en dat dit aan die kabinetslede oorgelaat word om die fyner besonderhede en aksieplanne bekend te maak en te sorg vir die uitvoering daarvan. Natuurlik moet die president verseker dat dit wel gebeur; maar hy sal tog nie alles op eie houtjie kan doen nie.
En ek het vertroue dat Ramaphosa sy woord gestand sal doen dat sý termyn deur behoorlike dienslewering gekenmerk sal word. Dit sou in elk geval nie geloofwaardig of haalbaar voorgekom het as hy, asof ’n ingenieur, Donderdagaand gewoon ’n lys van aksiepunte aan ons voorgehou het nie. Zuma het dit tot sielsdodende vlakke toe gedoen - en weinig geléwer.
Wat is ’n leier tog as hy nie ook sy mense met visionêre denke – en dróme – kan inspireer nie?
Buro: MvH