Hier aan die voetenent van Afrika begin die jaar met die vooruitsig van die dertigjarige viering van twee van die belangrikste politieke gebeurtenisse in Suid-Afrika se bestaan.
Dit is die toespraak van oudpres FW de Klerk op 2 Februarie 1990, waartydens hy belangrike politieke verandering aangekondig het, en die vrylating van oudpres Nelson Mandela net meer as ’n week later op 11 Februarie 1990. Natuurlik het eersgenoemde die weg vir laasgenoemde gebaan, sowel as vir die ontbanning van vryheidsbewegings soos die ANC, PAC en ander.
Uiteindelik het dit gelei tot ’n onderhandelde skikking, en dié skikking het weer aanleiding gegee tot die eerste demokratiese en nierassige verkiesing in April 1994, ’n moment wat wêreldnuus oorheers het, soos De Klerk se toespraak en ook Mandela se vrylating.
Wat hieruit voortgespruit het, nadat die ANC die 1994-verkiesing gewen het, was die aanwysing en inhuldiging van Mandela as Suid-Afrika se eerste swart president – én die eerste wat na afloop van ’n demokratiese verkiesing waaraan alle landsburgers deelgeneem het, verkies is. De Klerk het saam met oudpres Thabo Mbeki, wat Mandela later opgevolg het, as adjunkpresident gedien (totdat hy die Nasionale Party in 1997 uit die regering van nasionale eenheid onttrek het).
Die eenheidsregering was ’n resultaat van veelparty-onderhandelings – aanvanklik net tussen die NP en die ANC – waarmee ook in 1990 by die sogenaamde Groote Schuur-beraad begin is. Agterna is die onderhandelings opgevolg met die proses om ’n nuwe grondwet deur die Grondwetlike Vergadering geskryf te kry.
In sowel die onderhandelings as die grondwetskrywende fase van die oorgangstydperk het Cyril Ramaphosa, eens ’n vakbondman, toe sekretaris-generaal van die ANC, ’n kritieke rol as die ANC se hoofonderhandelaar gespeel.
Dit is nou al welbekend dat hy Mandela se keuse was om hom as president op te volg – nie omdat Mandela nie geglo het dat Mbeki geskik was vir die pos nie – allermins – maar eerder omdat hy die indruk wou nek omdraai dat leierskap in die ANC slegs vir “Xhosa-gesalfdes” beskore was.
Ramaphosa is van Venda-afkoms. Terwyl hy self nooit groot gewag daarvan maak nie, is sy verkiesing as ANC-leier in Desember 2017 tog deur sommige as ’n (twyfelagtige?) oorwinning vir hierdie “minderheidsgroep” beskou. “When Thabo Mbeki was president, you had to be Xhosa to get anywhere,” het The Washington Times ene Mike Kunene destyds aangehaal. “Under Zuma, the Zulus have led the way. I am hoping that Cyril as a Venda will have to involve all South Africans because his own people are so few.”
Hierin is dalk ’n verklaring opgesluit vir waarom Ramaphosa se leierskapingesteldheid nog altyd as “Mandelaïsties” beskou is: saambindend eerder as uitsluitend, ’n karaktereienskap wat hom ook goed te pas sou kom toe hy Zuma in Februarie 2018, die jaar van wat Mandela se 100ste verjaardag sou gewees het, as staatshoof vervang het. En toe hy boonop vroeër dieselfde maand op die Kaapse Parade ’n toespraak lewer ter herdenking van Mandela se eerste openbare toespraak in 1990, het hy beklemtoon hoe belangrik dit is om Madiba se nalatenskap te eer en na te volg.
Oor Madiba se vrylating het hy gesê: “On that day, our people saw the future of South Africa in Nelson Mandela. He became an embodiment of their shared hopes, dreams, aspirations and their sense of a common nationhood. In him, they saw a repository of all the best values and attributes necessary for a new united and democratic society to be built.”
Die Mandela-eeufeesviering het ’n geleentheid gebied, aldus toe nog adjunkpresident Ramaphosa, vir “vernuwing en herbouing”.
Eweneens het Ramaphosa se “bewindsoorname” as staatshoof kort daarna nuwe hoop gebring vir ’n land wat mank loop aan die skade wat gedurende die Zuma-era aangerig is. In hóm het Suid-Afrikaners die verpersoonliking gesien van hul aspirasies en drome en van die waardes en karaktereienskappe wat post-Zuma nodig was vir “vernuwing en herbouing”.
Ramaphosa self het ’n “nuwe daeraad” belowe, vry van die korrupsie, staatskaping en swak dienslewering wat hy by sy voorganger(s) geëerf het. Die lofsange het ingestroom, welverdiend, wat nuwe belangstelling in die land meegebring het en ook – ten spyte van die nimmerwykende wolk van rommelstatus – ekonomiese inspuiting by wyse van ’n indrukwekkende veldtog om nuwe beleggings te lok. Ramaphosa kon nou die dag spog dat hy reeds die helfte van sy teiken hiermee behaal het.
Ander hoogtepunte vir die land sedert die Mei 2019-verkiesing, waartydens hy sy eie mandaat gewen het, sluit in besoeke aan die land deur onder andere die hertog en hertoging van Sussex, Harry en Meghan, en hul babaseun Archie, asook onlangs die befaamde Liverpool-sokkerafrigter Jurgen Klopp. Die Ndlovu-jeugkoor het ook die verbeelding van die wêreld aangegryp met hul deelname aan en vordering tot in die nommer 2-posisie van die America’s Got Talent-realiteitsreeks, terwyl die Springbokke die Wêreldrugbybeker uit Japan huis toe gebring het en Mej Suid-Afrika 2019, Zozibini Tunzi, die Mej Heelal-kroon op haar kop kon plaas.
Dit was veronderstel om die perfekte aanloop tot vanjaar se herdenking van die De Klerk-toespraak en Madiba se vrylating ná byna drie dekades in aanhouding te wees. Maar die betekenisvolheid van die viering van dié historiese gebeure loop nou gevaar om ietwat te vervaag te midde van groeiende krisisse waaraan Ramaphosa aandag moet gee – tot so ’n mate dat hy onlangs ’n amptelike besoek aan Egipte moes kortknip weens die hoogste fase van beurtkrag wat ingestel is; en pas het hy ook sy beoogde deelname aan die Wêreld Ekonomiese Forum-beraad in Davos uit sy program geskrap.
Waar hy eens geprys is as “die meester van die lang spel”, iemand wat die kuns van geduld vervolmaak het, word daar nou algaande klippe van kritiek na hom gegooi deur selfs diegene wat eens van sy grootste ondersteuners was. Die reëlmaat waarmee politieke kommentators en rubriekskrywers tans sy vermoë bevraagteken om die land uit die moeras te lei, het straks daartoe bygedra dat Ramaphosa hierdie week in sy gereelde nuusbrief moes wal gooi dat Suid-Afrika “nié ’n disfunksionele staat is nie”.
Die De Klerk-Mandela-vieringe vroeg in Februarie sal aan Ramaphosa ’n geleentheid bied om met ’n inspirerende boodskap ’n deel van sy verlore aansien by landsburgers en die media terug te wen. Maar dit sal van verbygaande aard wees: Wat hy benodig is ’n drastiese ingryping, soos om veranderings aan sy kabinet aan te bring ten einde die oorblywende Zuma-invloed uit te werk en volle beheer te kan oorneem.
Dán het hy ’n kans om, soos De Klerk en Mandela, ’n blywende historiese impak te maak; as hy dit nie doen nie, is die asblik van die geskiedenis heel moontlik sy voorland.
Buro: MvH