Voer Zuma iets in die mou?

  • 0

Daar word wyd bespiegel oor die redes waarom Jacob Zuma minder as ’n maand voordat sy korrupsieverhoor moet begin, skielik sonder enige regsverteenwoordiging sit.

Zuma se regspan het vroeër die week uit die bloute aangekondig dat hulle onttrek aan die verhoor, wat op die hofrol is vir 17 Mei in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg. Hulle wou geen redes verskaf vir hul onttrekking nie.

Zuma se prokureur, Eric Mabuza, en advokaat Muzi Sikhakhane het die Hooggeregshof Woensdag (21 April) in kennis gestel van hul onttrekking as Zuma se regsverteenwoordigers. Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales staan tereg op aanklagte van korrupsie, geldwassery en rampokkery in verband met die wapenaankopeskandaal in die negentigerjare toe hy adjunkpresident was.

Sedertdien word daar wyd bespiegel of dit vir hom ’n terugslag is en of dit ’n nuwe slenter is om sy saak nog ’n keer uitgestel te kry.

Wat voer Zuma dié keer in die mou? Dit is die vraag op almal se lippe. Het sy regspan die hasepad gekies omdat Zuma platsak is en hy hulle nie meer kan betaal nie of steek daar meer daaragter? Die Appèlhof het onlangs beslis dat die staat nie vir sy regskoste verantwoordelik is nie. ’n Hofsaak van dié aard, waarvoor daar verskeie dae uitgesit is, kan Zuma maklik tussen R15 000 en R20 000 per dag uit die sak jaag. Die saak is geskeduleer om van 17 Mei tot 30 Junie vanjaar in Pietermaritzburg se Hooggeregshof aangehoor te word.

Die meeste kommentators meen dit is deel van Zuma se bekende taktiek om die hofsaak vir die soveelste maal uit te stel.

Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy bly gereed om op 17 Mei met Zuma se korrupsieverhoor te begin al is die kennisgewing dat Zuma se regspan aan die saak onttrek drie weke voor die verhoordatum ingedien. Die kennisgewing volg ná drie jaar se regsprosedures voordat ’n verhoordatum uiteindelik vasgestel is.

Die mediagroep IOL berig ’n bron in die Zuma-kamp het aan Independent Media gesê die besluit dat Zuma en sy regsverteenwoordigers se paaie skei, is gegrond op Zuma se oortuiging dat sy verhoor nie meer ’n kriminele verhoor is nie maar eintlik ’n politieke verhoor om finaal met hom af te reken.

“Hy het sy regspan in die pad gesteek en sal homself in die hof verdedig. Hou dié spasie dop. Wanneer hy volgende maand hof toe gaan, sal daar geen regsverteenwoordiger aan sy sy wees nie. Hou die werklike sepie van nou af dop,” het Independent Media se bron volgens die mediagroep gesê.

Een van die ander moontlike redes wat deur regskenners genoem word waarom hulle paaie skei, is ’n verskil van mening oor die strategie wat tydens die hofsaak gevolg moet word.

Zuma is egter bekend daarvoor dat hy telkens van uitsteltaktiek of die Stalingrad-metode gebruik maak om sy “dag in die hof” so lank as moontlik uit te stel. Soos dinge nou lyk, sal Zuma se saak op 17 Mei vir ’n verdere ses maande uitgestel word. Hy sal waarskynlik aanvoer dat hy geen regsverteenwoordiger het nie en dat die saak nie kan voortgaan nie. Regkenners meen dat die howe se geduld besig is om ook hiervoor op te raak en dat hulle een of ander tyd ook ’n stokkie daarvoor sal steek.

Die een ding wat Zuma nie langer kan uitstel nie, is die uitspraak van die Konstitusionele Hof nadat hy die land se hoogste hof doelbewus geminag het omdat hy nie weer voor die Zondo-kommissie wou verskyn nie. Dit is feitlik ’n uitgemaakte saak dat die hof geen ander keuse het as om hom skuldig te bevind in hierdie verband nie.

Die Zondo-kommissie het gevra dat hy vir twee jaar tronk toe gestuur word. Dit is onwaarskynlik dat ’n hof iemand sonder die keuse van ’n boete tronk toe sal stuur vir minagting van die hof wanneer dit ’n eerste oortreding is. Zuma se skynbare uittartende houding kan moontlik teen hom tel en vermoedelik ter verswaring van sy vonnis dien, wat beteken ’n oranje oorpak vir Zuma is nie heeltemal vergesog nie. Dié uitspraak word binnekort verwag.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top