Die waterkrisis in Suid-Afrika se grootste stad, Johannesburg, het ’n kritieke punt bereik, met duisende inwoners wat reeds vir meer as drie weke sonder betroubare toegang tot skoon drinkwater leef.
Wat begin het as infrastruktuurprobleme ná ’n ernstige ongeluk by ’n watersuiweringsaanleg, het nou ontwikkel in ’n stadwye situasie wat aan “Dag Zero” herinner. Alles word boonop vererger deur arbeidsoptrede, hoë verbruik en chroniese gebreke aan die onderhoud van stelsel.
Volgens WaterCAN, ’n burgerlike organisasie wat al maande lank die krisis monitor, woon baie inwoners reeds onder “Dag Zero”-toestande met droë krane, min of geen spoelwater vir toilette nie, en onreëlmatige watertenklewerings wat gemeenskappe in konflik laat verval.
JOBURG WATER CRISIS
Johannesburg is facing a widespread and escalating water crisis, with residents across the city effectively living under Day Zero conditions https://t.co/qqy85M5fUR #watercan #joburgwatercrisis #waterjustice— WaterCAN (@WaterCANsa) February 9, 2026
WaterCAN se direkteur, Ferrial Adam, sê die stad se waterkrisis is nie net ’n tegniese kwessie nie, maar ’n samelopende krisis van swak bestuur, gebrekkige infrastruktuur en onvoldoende voorbereiding, wat tot sosiale spanning en ongeregtigheid lei. Gemeenskappe wag ure vir watertenklewerings. In gebiede waar daar geen watertenks is nie, is kwesbare inwoners gestrand sonder enige hulp.
Die verslegting van die situasie kan aan ’n paar sleutelontwikkelings toegeskryf word.
Op 27 Januarie 2026 het ’n elektriese motor by een van die pompe by die Zuikerbosch-watersuiweringsaanleg in Gauteng onklaar geraak. Dit is Rand Water se grootste aanleg. Dit het gelei tot ’n gedeeltelike stilstand en drasties verminderde pompkapasiteit, wat reservoirs in Palmiet, Eikenhof en Mapleton se vlakke drasties laat daal het. Ondanks herstelwerk is daar steeds lug en lae druk in die stelsel.
Kort ná die Zuikerbosch-ongeluk is daar ’n groot lekkasie by die Klipfontein-reservoir geïdentifiseer, wat verdere onderbrekings veroorsaak het. Hierdie knelpunte is vererger deur bykomende hoë waterverbruik wat die stelsel oorlaai, asook gewone instandhoudingsaksies en kragonderbrekings by belangrike pompstasies.
Intussen verloor Johannesburg miljoene liter skoon drinkwater as gevolg van lekkasies wat geen aandag kry nie. Die DA sê dit is die eintlike rede waarom mense nie water in hulle krane het nie.
🚨💧 Joburg is losing millions of litres of clean drinking water because of unattended water leaks. This is the real reason why you do not have water in your taps.
Watch the DA Johannesburg Mayoral Candidate, Helen Zille, report on the ground. pic.twitter.com/KY0FgnB7NJ
— DA Gauteng (@DAGauteng) February 10, 2026
Meer as 2 000 werkers van Johannesburg Water het boonop verlede Vrydag onbeskermd (sonder wetlike beskerming, dus, volgens arbeidswetgewing) begin staak oor onbetaalde prestasiebonusse en ’n geskil oor hoe bonusse bereken is. Hierdie optrede het herstelwerk grotendeels tot stilstand gebring met min spanne wat lekkasies herstel, riool bestuur of watertenklewerings koördineer.
Die staking kom op ’n tyd wanneer Rand Water reeds aangekondig het dat hulle die toevoer na hoëverbruiksgebiede sal verminder om die hele netwerk te stabiliseer, wat verder druk op verskaffing plaas.
Woonbuurte soos Midrand, Melville, Bezuidenhout Valley, Emmarentia, Parktown, Crown Gardens, South Hills en ander is al meer as 20 dae sonder gereelde water.
Saying there’s "no water crisis outside parts of Soweto" doesn’t match reports of dry taps and reservoir strain in many Johannesburg areas. Reality on the ground needs to be acknowledged and addressed urgently. pic.twitter.com/UNuz4MQcC2
— Water Crisis Committee (@WaterCrisisJHB) February 10, 2026
Frustrasie by inwoners het reeds tot proteste gelei, onder meer by Johannesburg Water se hoofkantoor in Newtown. Inwoners kla oor die gebrek aan kommunikasie, swak leierskap en verlore menswaardigheid as hulle geen water het nie.
Justice Malala, een van Suid-Afrika se prominentste politieke kommentators, joernaliste, skrywers en mediapersoonlikhede, het op X gesê dele van Melville het al drie weke lank geen water gehad nie. Hy sê regoor die land ervaar stede en dorpe dieselfde "tekorte".
“Ek weet eerlikwaar nie hoe die ANC dit regkry om aan bewind te bly terwyl daar soveel wanhoop en verval in die land is nie.”
Parts of the suburb of Melville in Johannesburg has not had water in three weeks. All across the country, cities and towns are experiencing the same “shortages”.
I honestly don’t know how the ANC manages to stay in power when there is so much despair and decay in the country.— Justice Malala (@justicemalala) February 9, 2026
Mense staan in toue vir private watertenklewerings, gebruik geskenkwater of koop water teen hoë pryse. Baie huishoudings sukkel met basiese take soos skoonmaak, kook en die spoel van toilette.
🚨DECLARE A WATER CRISIS!!! 🚨
We just met with officials from Johanesburg Water and the only thing we derived from our meeting is WE NEED TO DECLARE A WATER CRISIS!!
Years of neglect and underinvestment in infrastructure has led us to this point. Worse still is the deafening… pic.twitter.com/OOAkmhKA61
— Malebo Kobe, MP (@KobeMalebo) February 8, 2026
WaterCAN en ander organisasies eis dat die krisis as ’n nasionale ramp verklaar word sodat noodfondse, bestaande rampreaksie-eenhede en beter skikking van hulpbronne geaktiveer kan word. Hulle sê die situasie vereis bestuur oor provinsiale en nasionale grense heen om stabiliteit te bewerkstellig.
Johannesburg Water het gesê hulle werk met goedgekeurde kontrakteurs om noodherstelwerk voort te sit, maar erken dat dienste onder groot druk verkeer. Hulle beskryf die staking as “onwettig” en waarsku dat werknemers wat betrokke is, geen loon sal ontvang nie.
Die DA het die situasie as ’n “mensgemaakte droogte” bestempel en vra vir dringende ingryping deur hoër regeringsvlakke. Hulle kritiseer ook swak bestuur, onderfinansiering van infrastruktuur, en onakkurate kommunikasie aan inwoners.
Johannesburg se burgemeester en waterbeheerliggame het vroeër aangekondig dat daar planne is om miljarde rand in nuwe reservoirs, verbeterde pypleidings en die opknap van ou infrastruktuur te belê, maar kritici sê hierdie beloftes is onvoldoende solank daar geen onmiddellike daaglikse kommunikasie of realistiese herstelplan is nie.
Die krisis wys hoe kwesbaar stedelike stelsels kan wees wanneer infrastruktuur lank verwaarloos word en die vraag steeds styg. Sonder dringende reaksie, samewerkende bestuur en volhoubare planne kan miljoene inwoners moontlik vir maande sonder behoorlike watervoorsiening moet sien en kom klaar.

