....
Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):
Verklarings van Media24:
Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.
....
Die mediamaatskappy Media24 het ’n multimiljoenrand-skikkingsbedrag betaal aan die voormalige Nasionale Party-minister Barend du Plessis vir die skade wat die omstrede boek Die seuns van Bird Island aan sy reputasie aangerig het, asook aan die reputasie van twee ander voormalige NP-ministers.
Dit volg na ’n uitgerekte stryd tussen Du Plessis en die uitgewer van die boek waarvan die besonderhede nou in ’n nuwe webwerf onthul word.
Die volle verhaal agter die skerms oor die boek se onttrekking uit die mark word op https://www.thelostboysofbirdisland.co.za/index.html vertel. Du Plessis se regspan vertel op die webwerf hoe hulle maande lank gespook het om sy naam in ere te herstel nadat hy in die boek daarvan beskuldig is dat hy ’n pedofiel is wat kinders gemolesteer het.
Die boek, wat in 2018 deur NB-uitgewers se druknaam Tafelberg-uitgewers uitgegee is, was ’n topverkoper. Dit het die hele land aan die gons gehad oor die beweerde pedofielnetwerk in die ou Nasionale Party waarby drie (oud)ministers na bewering betrokke was. Die ander twee was Magnus Malan en John Wiley. Later het dit geblyk nie een van hulle was by so ’n pedofielnetwerk betrokke nie.
Die maatskappy het aanvanklik ’n skikkingsbedrag van R150 000 aan Du Plessis aangebied en ’n aanbod om R2,3 miljoen aan ’n liefdadigheidsorganisasie van sy keuse. Sy prokureur, Johan Victor, het die aanbod destyds namens sy kliënte verwerp en gesê dit is onvoldoende en dat ’n R150 000-skikking ’n belediging vir Du Plessis sou wees.
Du Plessis se regspan het vir maande gepoog om die boek van die rakke onttrek te kry en ’n verskoning uit die uitgewers te wurg. Aanvanklik het hulle geweier en by die "feite" gestaan. Daar was selfs sprake van ’n film en ’n opvolgboek. Daarvan het niks gekom nie.
Na ’n lang geveg het Du Plessis en sy regspan uiteindelik die stryd gewen. Al die oorblywende boeke is van alle winkelrakke onttrek en verpulp. Die uitgewers het uiteindelik ’n onvoorwaardelike verskoning aan Du Plessis gerig en nou ook ’n onbekende bedrag skadevergoeding betaal wat volgens sy regsverteenwoordigers ’n multimiljoenrandbedrag is.
Daarvan moes Du Plessis meer as R3 miljoen opdok aan regskoste en ook mediese en ander koste wat veroorsaak is weens die emosionele stres wat hy deurgemaak het as gevolg van die vals bewerings.
Die doel van die webwerf is volgens Victor onder andere om diegene wat die bewerings in die toekoms op die internet lees, in te lig oor die “kwaadwillige en valse” bewerings in die boek en sekere van die rolspelers se “kwaadwillige” bedoelings daarmee aan die kaak te stel.
Victor het aan Voertaal gesê na al die jare duur die gerugte steeds voort, al bestaan daar geen eedsverklaring van ’n enkele slagoffer nie.
“Na al die publisiteit en selfs een van die skrywers, Mark Minnie, wat drie dae voor publikasie vir die uitgewer en sy medeskrywer Chris Steyn gesê het: ‘Ons het geen eedsverklaring van een slagoffer nie’ (want daar was nie so iemand nie) duur die gerug steeds voort.
“Gedagtig aan die Breytenbachstorie en hoe vinnig minstens 36 slagoffers (onder eed) na vore gekom het, is dit nie vreemd dat hier nie een enkele slagoffer is nie?”
Victor sê die nastrewing van die waarheid en geregtigheid noodsaak die daarstel van die webwerf. “Deur middel van hierdie medium het die publiek nou toegang tot die ware feite en meer inligting sal volg en bygewerk word.”
Media24 het in hulle gedrukte Afrikaanse koerante Beeld en Die Burger ook oor die webwerf berig, maar sê die maatskappy het geen kommentaar om daarop te lewer nie.
Die Sondagkoerant Rapport het sewe maande na hulle eerste berig oor die boek op 14 April verlede jaar onder die opskrif “Bird Island: Ons het ’n fout gemaak” onvoorwaardelik verskoning gevra vir hulle aanvanklike berig oor die boek.