Suid-Afrika se politieke landskap op plaaslike vlak het dié week soos handomkeer verander. Die ANC is in minstens drie van die land se metrorade uit die kussings gelig deur opposisiepartye wat kragte saamgesnoer het.
Nog verrassings is moontlik op pad wanneer die laaste verkiesings van burgemeesters Woensdag gehou word in onder andere eThekwini, waar daar moontlik nog ’n verrassing op die ANC wag.
Die grootste verrassing was die ANC se nederlaag in Ekurhuleni, waar geen party verwag het die ANC sou die onderspit delf nie. In Johannesburg is die ANC wéér uit die kussingtuig gelig toe ActionSA se Herman Mashaba hom nie verkiesbaar gestel het as burgemeester nie. Sy party en die EFF het hulle gewig agter die DA ingegooi en sodoende vir ’n onverwagse groot DA-oorwinning gesorg.
Die DA, wat tot op die nippertjie volgehou het hulle is nie daarvoor te vinde om deel te wees van minderheidsregerings wat met die EFF se hulp aan bewind gekom het nie, is totaal onkant gevang toe die EFF hulle gewig by die DA ingooi om die ANC te ontsetel.
Dit plaas die DA nou in die ongemaklike posisie dat hulle nie anders kan as om wel met die EFF in gesprek te tree as hulle aan die bewind wil bly in munisipaliteite waar daar nie ’n volstrekte meerderheid is nie en waar die EFF gehelp het om die goue ketting om die burgemeester se nek te hang.
Dieselfde tendens het ook in ’n aantal kleiner plaaslike owerhede afgespeel.
DA-leier John Steenhuisen het Dinsdag ’n olyftak uitgehou na ander partye en sê die DA sal uitreik na daardie partye wat tot dusver nie deel van hulle koalisie-ooreenkomste was nie.
"We will make the case to them that the only way to make progress in these metros, and then protect this progress from the dangers of an unstable minority government, is by building an unassailable majority." - @jsteenhuisen
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 23, 2021
Die nuutverkose burgemeester van Johannesburg, Mpho Phalatse, sê haar verkiesing tot dié amp is ’n teken dat Suid-Afrika nou gereed is vir ’n veelpartyregering, wat dui op ’n volwasse demokrasie.
Phalatse, wat Johannesburg se eerste vroueburgemeester is, sê dit is nou die tyd dat die inwoners van Johannesburg toegang tot basiese dienste moet kry – ongeag aan watter politieke party hulle behoort.
Sy het 144 stemme op haar verenig, terwyl die ANC se kandidaat, Mpho Moerane, net 121 stemme kon kry. Die DA beklee ook die poste van speaker en hoofsweep van die metroraad: Vasco da Gama is tot speaker verkies en Tyrell Meyers is die nuwe hoofsweep.
ActionSA, wat vanjaar vir die eerste keer aan ’n verkiesing deelgeneem en vriend en vyand verras het met die steun wat hulle gekry het, is waarskynlik die party wat die lekkerste lag. Hulle kon daarin slaag om koningmaker in van die land se grootste metro’s te word sonder om ’n koalisie met die DA te hoef aan te gaan.
ActionSA se president, Herman Mashaba, het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy is bereid om die verskille tussen hom en die DA opsy te sit en saam te werk in die belang van dienslewering, die bekamping van korrupsie en werkskepping.
"We note the communication by John Steenhuisen, in which he appears to have extended the olive branch to political parties.
This new approach is a radical improvement from the DA's bulldozing of coalition discussions last week, and we welcome it."https://t.co/ELIv8zSELA
— ActionSA (@Action4SA) November 23, 2021
Nog ’n verrassing van die afgelope week was dat die EFF vir die eerste keer daarin kon slaag om iemand uit hulle geledere as burgemeester en speaker verkies te kry. In ’n dag propvol politieke drama is EFF-raadslid Selloane Motjoane verkies tot burgemeester van die Metsimaholo-munisipaliteit in die Vrystaat wat in die verlede deur verdeeldheid gekenmerk is.
BREAKING NEWS
Fighter Selloane Motjeane Has Been Elected Executive Mayor of Metsimaholo Local Municipality in the Free State.
iEFF Ingenile. #EFFCouncillors pic.twitter.com/wqEwaGg4gz
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) November 22, 2021
Dit is die eerste munisipaliteit wat deur die EFF gelei word nadat die party aanvanklik probeer het om ’n ooreenkoms met die ANC op nasionale vlak aan te gaan maar wat nie gerealiseer het nie.
Kaapstad, waar die DA met ’n volstrekte meerderheid regeer, se nuwe burgemeester, Gordin Hill-Lewis, sê sy hoofprioriteit in dié amp is om ’n oplossing vir beurtkrag te vind.
Hill-Lewis het Maandag sy burgemeesterskomitee bekendgemaak. Die komitee is saamgestel uit agt mans en vier vroue en sluit ses nuwelinge in: Eddie Andrews, Theresa Uys, Patricia van der Ross, Siseko Mbandezi, Beverley van Reenen en Desiree Visagie. JP Smith behou sy posisie as burgemeesterskomiteelid belas met veiligheid en sekuriteit. Hill-Lewis sê sy ander drie prioriteite is die beveiliging van gemeenskappe, die herstel van die stad se openbarevervoerstelsel – veral treine – en die lewering van basiese dienste.