Weermag gaan help om boere te beveilig

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANDF) en die landbou-organisasie Agri SA gaan hande vat om die landbougemeenskap, wat swaar gebuk gaan onder plaasaanvalle, te beveilig.

Verteenwoordigers van die twee organisasies het die afgelope week vergader om gebiede van samewerking te identifiseer en planne te beraam vir landelikeveiligheidsinisiatiewe en ekonomiese ontwikkeling op landelike gebied.

Agri SA en die SANDF sê in ’n gesamentlike verklaring wat Woensdag uitgerek is hulle het die afgelope week die samewerkingterreine verder bespreek. Daar is ooreengekom dat landbou ’n noodsaaklike voertuig is om by te dra tot ekonomiese groei. Daarom is dit volgens hulle noodsaaklik om effektief met misdaad en ander gemeenskapsprobleme op die grens en in plattelandse gebiede af te reken.

Die weermag sê hulle werk tans baie hard aan die finalisering van die Mzantsi-tuiswag wat sal help dat die weermag meer proaktief kan optree wanneer dit gaan oor georganiseerde en gekoördineerde optrede van weermagaksies op die platteland.

Die hoof van die SANDF, Solly Shoke, sê die weermag moet ’n rolspeler wees om gemeenskappe in nood en boerderygemeenskap by te staan. Die weermag kan ’n brugbouer wees om dit te vermag. Shoke sê hy is bewus van die sekuriteit- en veiligheidsbedreigings wat landbougemeenskappe in die gesig staar op die land se grense en dat oorgrensmisdaad ’n saak is waarmee daar gehandel moet word om die bedreiging die hoof te bied.

Agri SA se president, Pierre Vercueil, sê sy organisasie wil graag met die weermag saamwerk om die landbou se bydrae tot voedselsekerheid te beskerm en armoede in landelike gebiede aan te spreek. “Die veiligheid van ons boerderygemeenskap op die land se grense is vir Agri SA belangrik. Daarom behoort Agri SA en die Suid-Afrikaanse Weermag saam te werk om landelike sekuriteit en veiligheid te beskerm.”

Die Mzantsi-tuiswag se lede sal basiese militêre opleiding ontvang en ook bykomende opleiding met betrekking tot die insameling van inligting, rampbestuur en hulpverlening aan gemeenskappe in nood, soos watersuiwering en ander noodsaaklike dienste. Hulle sal ook ’n kernrol speel in landelike veiligheid en sekuriteit. Agri SA het die totstandkoming van die tuiswag verwelkom. Hulle sê dit sal ’n groot bydrae lewer ten opsigte van landelike veiligheid, sekuriteit en die verdere implementering van die nasionale landelikeveiligheidstrategie.

Volgens die weermag is hulle projek Koba-Tlala, wat beteken om honger te verdryf, ook hoog op die agenda. Die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het ’n konsep goedgekeur waarvolgens die weermag sy teenwoordigheid sal gebruik om in landelike en semilandelike gebiede lewensvatbare en volhoubare gemeenskappe help skep.

Agri SA sê uit die weermag se voorlegging blyk dit dat Koba-Tlala die vlagskipprojek is van generaal Shoke, waardeur die weermag ook wil help met die ontwikkeling van opkomende boere om armoede te help uitwis.

Die gedagte is dat die weermag bystand sal verleen met die fasilitering van die proses om kommersiële boere, kleinskaalboere en opkomende boere te help om hande te vat en saam vooruit te boer.

Daar is reeds stappe gedoen om in samewerking met Agri SA opkomende boere te help ontwikkel en hulle by te staan met die uitwissing van armoede met die hulp en bystand van kommersiële boere. Agri SA sê hulle is daartoe verbind om met die weermag saam te werk om ’n sukses te maak van die projek en die Mzantsi-tuiswagstelsel om landelike veiligheid en sekuriteit te bevorder.

Shoke het reeds versoek dat daar opvolgvergaderings plaasvind met Agri SA om die implementering van Koba-Tlale te bespreek. Verdere gesamentlike plaaslike inisiatiewe gaan geloods word om onder andere die verbetering van die misdaadsituasie op die grense te verseker.

Die weermag sal ook ander rolspelers in die landbouketting betrek om hulle rol in die implementering van die projek te bepaal.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top