Die waterkrisis in dele van die land het nou sulke ernstige afmetings aangeneem dat die DA wil hê die weermag moet help met watervoorsiening waar sulke dienste besig is om in duie te stort.
Die potensiële waterkrisis het reeds gelei tot die sluiting van verskeie watertoevoerpunte in Tshwane. Rand Water het inwoners egter verseker dat ’n “Dag Zero-ramp” nie op die horison is nie.
Rand Water het Saterdag tydens ’n noodvergadering aan Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni se munisipaliteite gesê hul waterberging in reservoirs het tot onder 30% gedaal. Dit het beteken dat die munisipaliteite onmiddellike ingrypings moes implementeer om die krisis te versag, aangesien hulle deur die betrokke reservoirs van water voorsien word.
#RWMetersReadings #RWWaterDemand #RWWaterSupply #RWWaterSustainability
The yellow line represents pumped volumes (4948 Ml/d) on average. This is the water that Rand Water produces and pumps. The blue lines is then the volumes which reach the customers (4606 Ml/d on average). pic.twitter.com/9xwJokVGtX— Rand Water (@Rand_Water) March 18, 2024
Die DA het Maandag stappe aangekondig om waterstorting en diensleweringsineenstortings in Gauteng en KZN aan te pak.
Die DA se vyfpunt-ingrypingsplan poog om die bestuur en politieke onstabiliteit wat in die land se groot metropolitaanse gebiede ervaar word, aan te spreek.
Dit behels ’n dringende beroep op president Cyril Ramaphosa om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) te mobiliseer om van hul logistieke infrastruktuur en watertenkwaens gebruik te maak as ’n korttermynmaatreël om te verseker dat daardie inwoners wat die meeste deur waterverliese geraak word, in staat is om skoon drinkwater te kry totdat die krisis opgelos is.
Die DA doen ook ’n beroep op plaaslike en provinsiale regerings om openbare-private vennootskappe te stig en aan te moedig om saam die waterstortingskrisis aan te spreek, deur hulpbronne en kundigheid van beide sektore te benut om volhoubare oplossings te vind.
Derdens doen hulle in ’n verklaring ’n beroep op die SAPD om ’n gespesialiseerde SAPD-ondersoekspan te stig om sabotasiedade wat tot die ineenstorting van dienslewering bydra, te hanteer en te ondersoek en te verseker dat hulle aan die portefeuljekomitee in die Nasionale Vergadering verslag doen oor die vordering wat gemaak word.
Die party gaan ook die regering versoek om aan boord te kom en fondse toe te wys aan nieregeringsorganisasies (NRO’s) en niewinsgewende organisasies (NWO’s) om ondersteuning te bied aan die gebiede wat die ergste geraak word, om te verseker dat hulp diegene in nood bereik.
Politieke partye maak toenemend ’n verkiesingskwessie van die waterkrisis in die land. Verskeie senior DA-leiers, en ander politici soos Mmusi Maimane van Build One South-Africa (Bosa), het die afgelope paar dae sterk op die waterkrisis gefokus.
Die DA se premierskandidate in Gauteng en KZN het albei gesê die krisis is nou so erg dat dringende ingryping nodig is.
????The DA has announced steps to tackle water-shedding and service delivery collapses in Gauteng and KZN.
Measures include SANDF to assist deploying water tankers, encourage government to onboard NGOs and NPOs and urge for a SAPS unit to fight service delivery sabotage.… pic.twitter.com/PQQEkzVMRS
— Democratic Alliance (@Our_DA) March 18, 2024
Christopher Pappas, burgemeester van uMngeni en die DA se premierskandidaat in KZN, het gesê die DA sal onder meer infrastruktuurprogramme uitrol om die provinsie se water- en elektrisiteitsuitdagings aan te spreek. Anders as die regering se werkskeppingsbenadering, uitsluitlik gerig op die jeug, het Pappas gesê die DA se provinsiale regering se werkskeppingsprogramme sal ook voorsiening maak vir diegene wat ouer as 35 is.
Hy sê ’n DA-geleide regering sal nie net waterinfrastruktuurprogramme uitrol en werk skep nie, maar sal ook ’n permanente oplossing vir die provinsie se huidige wateruitdagings kan bewerkstellig deur middel van ’n openbare-private vennootskap.
Volgens Pappas is die waterkrisis in KZN nie ’n natuurramp nie, maar ’n mensgemaakte ramp.
Maimane het op X gesê die ANC-regering het alles gebreek, van water en elektrisiteit tot skole, klinieke, polisiestasies, treine en vliegtuie.
Water ❌. Electricity❌. Schools❌. Clinics❌. Police stations❌. Trains❌. Planes❌.
They have broken everything. We must vote. https://t.co/qFdfruOujb
— Mmusi Maimane (@MmusiMaimane) March 18, 2024
Volgens Rand Water verbruik die metro’s al ’n geruime tyd water ver bo ooreengekome skale, en is hulle aangemoedig om besparingsmaatreëls in te stel.
Die aantal lekkasies in die munisipale waterverspreidingstelsels in Gauteng het die afgelope tien jaar aansienlik toegeneem weens ’n gebrek aan instandhouding deur munisipaliteite terwyl die watervoorsieningsituasie in ander dele van die land ook kommerwekkend is.
Die direkteur-generaal van water en sanitasie, Sean Phillips, het alle munisipaliteite in Gauteng versoek om water te bespaar en waterlekkasies te vermy.