Weerstand bou op teen Eskom se "absurde" tariefverhogings

  • 0

Eskom se voorgenome tariefverhogingsaansoek van 32,7% te midde van die voortslepende beurtkrag waaronder Suid-Afrikaners gebuk gaan, kom al hoe meer onder skoot en kan selfs in die hof gaan draai.

Die vakbond Solidariteit het Woensdag 20 Julie Eskom se jongste aansoek by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) as absurd, irrasioneel en onwettig bestempel.  

Die beweging sê in ’n verklaring indien die voorstel aanvaar word, sal Solidariteit dit met elke regsopsie tot sy beskikking teenstaan. Dit volg nadat Eskom in sy jongste aansoek benewens ’n stewige verhoging ook gevra het dat ’n tarief van R938 per maand op verbruikers gehef word wat self krag opwek.

Privaat sonkraggebruikers is woedend oor die moontlikheid hulle Eskom dalk meer as R900 per maand sal moet betaal indien hulle self krag opwek. Eskom sê egter hy probeer nie mense ontmoedig om hulle eie sonkraginstallasies te installeer nie.

Eskom beoog om hulle nuwe tariefvoorstel volgende maand aan Nersa voor te lê. Dit sal vanaf 1 April 2023 tot 31 Maart 2024 van toepassing wees indien dit goedgekeur word.

Ook die DA het Eskom se tariefverhogingsvoorstel by Nersa veroordeel.

Die party het gesê die verhoging sal onhanteerbaar wees vir Suid-Afrikaanse huishoudings en besighede, veral in die lig van volgehoue ​​kragonderbrekings.

Kevin Mileham, DA-parlementslid, het opgemerk dat Eskom miljarde rande se skuld het terwyl hulle nie eers in staat is om die verdere miljarde terug te vorder wat munisipaliteite hulle skuld nie.

Hy het bygevoeg dat die voorgestelde prysverhoging Eskom se manier is om sy finansiële las te verminder. Hy sê dit is nie die verbruikers wat moet opdok daarvoor nie, maar die munisipaliteite wat aanhou om die kragvoorsiener met onbetaalde elektrisiteitsrekeninge lam te lê.

’n Onafhanklike ekonoom, Elize Kruger, het op BuisnessTech gesê tariefverhogings van hierdie aard sal nadelig vir die ekonomie wees.

“Huishoudings is reeds onder geweldige druk weens hoër voedsel- en brandstofpryse, ’n hoë belastinglas en stygende rentekoerse. ’n Verhoging van hierdie aard sal huishoudings nog verder knou en lei tot minder besteebare inkomste en sodoende ekonomiese groei verder afwaarts druk.”

Sy sê verbruikersvertroue en sakevertroue kwyn onder al die negatiewe verwikkelings, waarvan beurtkrag op die voorgrond staan. “Nou sal baie meer betaal moet word vir krag wat tans vir baie ure per dag nie eens vir die ekonomie beskikbaar is nie.”

Volgens Solidariteit lê Suid-Afrika se enigste hoop uit die huidige kragkrisis in kleinskaalse kragopwekking wat op ’n groot skaal plaasvind. Solidariteit is van mening dat Eskom se voorstelle soos hierdie ’n geleentheid vir groter kragsekerheid in ’n bedreiging daarvoor omskep.

“Dit is een ding as Eskom nie tot die oplossing van Suid-Afrika se kragkrisis wil bydra nie. Maar deur sulke voorstelle te maak verander Eskom van ’n meulsteen om die nek na ’n vyand van betroubare kragvoorsiening. As Eskom dan nie self by oplossings betrokke wil wees nie, sal ons litigeer totdat Eskom ten minste nie meer in die pad van ander wat dit wil oplos staan nie,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit voer aan dat die regering juis nou doelbewus moeite moet doen om privaat kragopwekking aan te moedig en te vergemaklik terwyl Eskom se tariefvoorstel die situasie net vererger.

“In plaas daarvan om privaat kragopwekking aan te moedig, wil Eskom dit nou belas. Om belasting vir ’n diens te betaal is een ding; om belasting te betaal vir geen diens nie, is iets totaal anders. Nou wil Eskom jou werklikwaar belastings hef op Suid-Afrikaners wat weens Eskom se onvermoë om krag te voorsien hul eie dienste begin lewer. Deur bloot net so ’n voorstel te opper, word enorme onsekerheid al geskep. Die voorstel moet so spoedig as moontlik verwyder word. Indien nie, sal ons die howe nader om dit te doen,” het Hermann gesê

  • 0
Top