Weerstand teen verpligte COVID-19-inentings bou op

  • 0

Al hoe meer burgerlike organisasies en politieke partye in Suid-Afrika is besig om hul stem dik te maak teen enige vorm van verpligte inentings teen COVID-19.

Ten spyte van ’n oorwig getuienis dat inenting teen COVID-19 help om die verspreiding van die virus te bekamp en help voorkom dat mense ernstig siek word of sterf as gevolg daarvan, is daar hewige teenstand onder baie Suid-Afrikaners wanneer dit by verpligte inentings kom.

Verskeie groepe en organisasies het reeds hul teenstand uitgespreek teenoor die regering se voorgestelde entstofmandaat wat toegang tot sekere plekke en aktiwiteite slegs aan ingeënte mense sal verleen.

Afgesien van ’n dreigende hofsaak deur die vakbond Solidariteit teen die Universiteit van die Vrystaat (UV) om te keer dat studente en werknemers verplig word om die COVID-19-inenting te kry, het die DA hulle ook Donderdag uitgespreek teen verpligte inenting hoewel die party COVID-19-inenting sterk ondersteun.

Nog ’n groep wat gekant is teen verpligte inentings vir werknemers, is die Kommissie vir Geslagsgelykheid (CGE), wat nie wil hê dat opvoedkundige instellings hul personeel en studente onder inentingsmandate moet plaas nie.

Hulle redenasie is dat daar ’n groot waarskynlikheid is dat ongeënte personeel afgedank kan word en dat dit Suid-Afrikaanse arbeidswette oortree. Hulle het werkgewers en instellings van hoër onderwys gewaarsku om nie personeel en studente te dwing om COVID-19-entstowwe te neem nie.

Solidariteit het reeds met regstappe teen die UV begin.

Die vakbond sê in ’n verklaring dit kom neer op die skending van menseregte en dat dit nie individue se unieke omstandighede in ag neem nie. Die hoof van navorsing, Connie Mulder, sê Solidariteit het meer as 300 klagtes oor die beleid ontvang en talle versoeke dat die vakbond regstappe doen.

Free State for Choice voer op hulle beurt in hofstukke wat by die Hooggeregshof in Bloemfontein ingedien is, aan dat mense wat teen die koronavirus ingeënt is en diegene wat daarteen vasskop se kans om die virus op te doen of dit te versprei dieselfde is.

Die DA het Donderdag in ’n verklaring gesê hulle het na lang konsultasie met openbaregesondheidskundiges standpunt ingeneem oor COVID-19-inentingsmandate. Dit word gebaseer op die huidige bewyse wat individuele regte en verantwoordelikhede balanseer, en openbare beleidsoorwegings soos die beskikbaarheid van meer effektiewe intervensies en die implementering daarvan.

Die party beklemtoon dat hulle sterk voorstanders en ondersteuners van COVID-19-inenting is om mense teen hospitalisasie en dood te beskerm.

“Ons is egter gekant teen verpligte inenting. Bewyse is besig om na vore te kom dat entstowwe minder doeltreffend is om oordrag te voorkom, aangesien golwe van infeksie steeds onder hoogs ingeënte bevolkings voorkom. Verder verlig die maatskaplike risiko wat die beleid van entstofmandate sou aanspreek buitensporige druk op hospitale weens COVID-19. Tog is daar tans geen noemenswaardige druk op hospitale weens COVID-19 nie.”

’n Mandaatbeleid ignoreer volgens die DA bewyse van ’n mate van natuurlike beskerming deur vorige infeksie. Die omvang van oortollige sterftes en verskeie teenliggaamstudies dui daarop dat ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking ’n mate van natuurlike immuniteit deur vorige infeksie verkry het. Volgens Wits-professor in entstofkunde Shabir Mahdi het 73% van die Suid-Afrikaanse bevolking ’n mate van immuniteit.

Die DA sê selfs al was ’n strategie van staatsopgelegde entstofmandate regverdigbaar, het die staat nie die vermoë om dit te implementeer en af ​​te dwing nie.

Volgens Solidariteit sal enige vorm van “kombersbenadering” wat nie die unieke situasie van individuele werknemers of studente in ag neem nie, onwettig maar ook onwenslik wees.

“Daar lê reusegevaar in ’n bestel waarin die regering of ander liggame inentings verpligtend maak en daardeur mense se regte beperk. Geen staat behoort oor sulke mag te beskik nie – veral nie een wat reeds so baie van sy bevolking se vertroue geskend het nie,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Op ʼn praktiese noot sien ons ook dat verpligting nie goed is vir ’n langtermyn-inentingsprogram nie. Dit skep weerstand, verbreek vertroue en vernietig verhoudings. Internasionale tendense wys ook dat lande wat suksesvol was met hul inentingsprogram, nie inentings verpligtend gemaak het nie, veral nie in die werkplek nie. Suid-Afrikaners word al hopeloos te lank in die donker gehou. Die onsekerheid knou ons ekonomie en ons gemoedere. Daar moet drasties tot aksie oorgegaan word,” het Hermann gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top