Daar is groot kommer en ontevredenheid by Afrikaanse mense oor die onlangse besluit deur die Regspraktykraad (RPR) om toelatingseksamens vir kandidaatprokureurs voortaan slegs in Engels toe te laat en Afrikaans uit te sluit.
Die DA en AfriForum eis albei dat die regspraktykraad eksamens in Afrikaans herinstel.
Die RPR voer aan dat Afrikaanse studente onregmatig bevoordeel word as ander studente dit nie ook in hul moedertaal kan doen nie.
AfriForum het in ’n skrywe aan die Regspraktykraad geëis dat die raad se toelatingseksamens steeds in Afrikaans afgelê moet kan word.
????????????????????????????????????????????????????????????????????????
AfriForum eis dat Regspraktykraad eksamens in Afrikaans herinstel https://t.co/kx9SSBmEwW pic.twitter.com/UpUBNbVnXg— AfriForum (@afriforum) January 8, 2024
Die DA het ’n beroep op die RPR gedoen om hierdie beleid dringend te heroorweeg, met belanghebbendes te skakel en te werk aan ’n oplossing wat die grondwetlike ideale van diversiteit, insluiting en gelyke geleenthede in die regsberoep handhaaf. Die strewe moet wees om die rykdom van ons linguistiese erfenis te akkommodeer en te vier eerder as om dit te beperk, sê die DA.
Die party sê in ’n verklaring dit is ’n ontnugtering om te verneem dat regspraktisyns wat in Afrikaans studeer, eers weke voor hul eksamen van hierdie beleidsverandering ingelig is, wat hul voorbereiding ondermyn en hul prestasie moontlik kan beïnvloed. “Dit lyk asof die besluit die grondwetlike verbintenis tot linguistiese diversiteit verontagsaam.”
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sou die RPR se verduideliking dat die afskaffing van Afrikaanse eksamens eintlik ’n regstelling is, lagwekkend gewees het as dit nie so kommerwekkend was nie.
“Die RPR beweer Afrikaanse kandidate word onregmatig bevoordeel omdat hulle in hulle moedertaal geëksamineer word, terwyl die eksamens nie in enige ander inheemse taal afgelê kan word nie. Die oplossing is om taalregte uit te brei en die eksamenmateriaal in meer tale beskikbaar te stel. In plaas daarvan is die RPR se oplossing om net nog meer mense van hulle taalregte te ontneem. Hierdie is duidelik ’n aanslag teen Afrikaans en Afrikaanse regslui, en geen poging om enigeen se regte te beskerm of bevorder nie.”
Bailey sê dat AfriForum in die verlede peilings onderneem het wat duidelik bewys het dat regslui en hulle kliënte behoefte het aan die gebruik van hulle eie tale. “Hoewel die hofrekordtaal byvoorbeeld tans net Engels is, lewer regslui uitgebreide dienste aan die publiek. Hulle stel onder meer ook kontrakte en testamente op, bied advies aan oor uiteenlopende kwessies en pak litigasie aan. In al hierdie gevalle moet die kliënte die prosesse en inhoud van die dienste volkome verstaan. Dit is nie so goed moontlik in ’n tweede of derde taal as in die kliënt se moedertaal nie. Misverstande weens vertaalfoute kan lei tot skade vir die kliënte, wanpraktyke en regsverydeling. Dit is daarom noodsaaklik dat Suid-Afrikaanse regslui nie net in Engels vaardig moet wees nie. AfriForum het ook in ons skrywe gevra watter stappe die RPR [doen] om eksamens in die toekoms in meer amptelike tale beskikbaar te maak.
“Die RPR as regsliggaam behoort juis ’n dieper insig in die regte van mense en gemeenskappe te hê. Hierdie kortsigtige en vyandige besluit van hulle is tragies en moet teengestaan word. As die RPR nie positief op AfriForum se skrywe reageer nie, sal laasgenoemde in samewerking met ander liggame die nodige stappe neem [sic] om dit te doen,” het Bailey gesê.
Die DA se nasionale woordvoerder, Werner Horn, sê in sy verklaring die DA bevraagteken die RPR se rasionaal agter hierdie besluit, aangesien dit blykbaar gegrond is op die idee dat die skryf van eksamens in Afrikaans ’n onregverdige voordeel bied.
“Ons beweer dat die bevordering van inklusiwiteit die prioriteit moet wees, om gelyke geleenthede vir alle kandidate te verseker, ongeag hul moedertaal.”
Verder strook hierdie stap volgens Horn met die kommerwekkende neiging om Engels as die enigste taal van rekord en bedryf in die howe te bevorder. Hy sê hierdie benadering loop die risiko om die regspleging en die funksionaliteit van die regstelsel te ondermyn. “’n Diverse linguistiese landskap is noodsaaklik vir ’n robuuste regsraamwerk wat werklik die belange van alle Suid-Afrikaners dien.”