Weg met Bela-wet of weg met deelname aan RNE, sê betogers

  • 0

Sowat 10 000 optoggangers van meer as 40 organisasies het Dinsdag in Pretoria deelgeneem aan ’n protesoptog teen die omstrede Bela-wet oor onderwys.

Die groep het politieke partye soos die DA, Vryheidsfront Plus en Gayton McKenzie se PA ingesluit, asook die organiseerders van die betoging, naamlik AfriForum en Soliditeit, en mense soos die sanger Steve Hofmeyr.

Hulle het by die Voortrekkermonument byeengekom om hul teenstand te toon teen die wysigingswet op basiese onderwyswette en deur Pretoria se strate na Vryheidspark by die Uniegebou gestap.

’n Memorandum met eise is aan die DA en VF+, as ondersteuners van die protesaksie, oorhandig waarna ’n vreedsame optog van nagenoeg 1,8 km op Reconciliationweg vanaf die Voortrekkermonument tot by Vryheidspark aangepak is.

“Bela is ons rooi lyn. Ons sê dit vir al die politieke partye in die RNE sodat hulle kan verstaan hoe sterk die gemeenskap voel. Meer as 10 000 mense het vandag gesê hulle sal nie toelaat dat hulle kinders se toekoms gevat word nie,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê. 

AfriForum het die DA en die Vryheidsfront Plus gevra om die RNE te verlaat as Ramaphosa nie klousules 4 en 5 van die Bela-wet laat verander nie.

Hulle sê as die Bela-wet nie gekanselleer word nie, sal dit ’n bespotting van die RNE maak.

By Vryheidspark het AfriForum en Solidariteit ’n memorandum aan die regering oorhandig oor die omstrede onderwyswetgewing. Die organisasies sê twee klousules in die wet ontneem skoolbestuursliggame die reg om belangrike besluite oor toegang tot skole en taal te neem.

Die hoof van AfriForum, Kallie Kriel sê die wet in sy huidige vorm teiken Afrikaanse skole en skep nie ruimte vir moedertaalonderrig nie. Hy sê dit is nie net ’n stryd teen die Bela-wet nie, maar ’n stryd teen kulturele oorlewing.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het in sy toespraak gesê die Grondwet is duidelik: Elkeen het die reg om onderrig te ontvang in die amptelike taal of tale van hul keuse.

Hy het gesê die DA het lank reeds sy teenkanting uitgespreek teen klousules 4 en 5 van die Bela-wet. Eenvoudig gestel gee hierdie klousules die staat beheer oor wie by enige spesifieke skool onderrig kry, en in watter taal.

Skole word deur hul beheerliggame in staat gestel om besluite te neem wat die behoeftes van ouers en die plaaslike gemeenskappe weerspieël. Steenhuisen sê daar kan nie toegelaat word dat hierdie gesag aan ’n amptenaar in ’n provinsiale kantoor oorgedra word wat ver verwyder is van die behoeftes en begeertes van die beheerliggame nie.

Hy  sê hierdie swaar verdiende regte wat in die Grondwet verskans is, kan nie sommer met die haal van ’n pen weggegee word nie.

“Beskerming van moedertaalonderrig is van kritieke belang. Stel jou voor dat jy probeer om wiskunde of wetenskap te leer in ’n taal wat nie jou huistaal is nie, of wat jy nie verstaan ​​nie. Ons sal dit nooit toelaat nie.”

“Ons moet fokus op die verbetering van die standaard van onderwys in ons skole oor die algemeen, eerder as om taal- en toelatingsbeleide te mikrobestuur. As ons leerders wil oplewer wat gereed is om in diens geneem te word, het hulle deernisvolle, toegewyde onderwysers nodig. Kinders moet geleer word waar dit ook al die gerieflikste is vir hulle om skool toe te gaan. Dit is nie die staat se besluit nie,” het hy gesê.

AfriForum se Kallie Kriel het die protesoptog as ’n “historiese dag” bestempel en die grootste optog van Afrikaanssprekendes sedert 1994. “Mense is kwaad en dit het hulle vandag hier kom wys. Hulle is kwaad, want ons kinders word geteiken deur ’n wet wat Afrikaanse skole aanval en eintlik ons kulturele voortbestaan bedreig.”

Gayton McKenzie van die PA het gesê hy ondersteun die optog en sal nie toelaat dat sy kinders in ’n ander taal onderrig  word nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top