Wêreld frons oor "bisarre ontwapening" van boere

  • 0

Suid-Afrikaners in die buiteland, asook ambassades, buitelandse regerings en internasionale agentskappe gaan betrek word in ’n internasionale veldtog om te keer dat wettige vuurwapeneienaars ontwapen word.

Die ANC se inisiatief om die besit van ’n vuurwapen vir doeleindes van selfverdediging onwettig te maak, is veral in die landbougemeenskap besig om opslae gemaak. Verskeie landbou-organisasies in Suid-Afrika het toegetree tot die stryd oor wat beskou word as die ontwapening van wetsgehoorsame burgers.

Die familieboereorganisasie Saai, die Suid-Afrikaanse Landbou-Unie (TLU SA) en Agri SA het almal hulle misnoeë uitgespreek met die voorgestelde wysiging van die vuurwapenwet.

Uit gesprekke met ambassades, besoekende parlementslede uit Europa en buitelandse joernaliste, asook digitale vergaderings met landbou-unies elders in die wêreld, blyk dit volgens Saai dat die hele wêreld frons oor wat hulle bestempel as die bisarre ontwapening van boere.

Saai sê in ’n verklaring uit terugvoer van hulle lede is dit duidelik dat boere nie nou gaan toelaat dat hulle ontwapen word nie. TLU SA sê hulle vind die voorgestelde veranderinge aan die vuurwapenwet nie net absurd nie, maar ook teenstrydig met die Suid-Afrikaanse Grondwet, terwyl Agri SA sê Suid-Afrikaners het die reg om hulself te beskerm.

Daar is die afgelope week begin met ’n openbare veldtog genaamd #StillNoGun. Dié veldtog is deur Saai begin om druk op die polisie te plaas om sy jare lange agterstande in aansoeke vir nuwe vuurwapens, amnestie en hernuwings van bestaande vuurwapens uit te wis en vuurwapens aan hul regmatige eienaars terug te besorg. Lees verder op https://www.stillnogun.co.za meer oor hierdie veldtog.

Die polisie het honderde duisende vuurwapens ingeneem om kwansuis ballistiese toetse daarop te doen, maar kon volgens Saai nog nie verduidelik hoe sulke toetse op haelgewere gedoen word nie. Boere is veral skepties oor die polisie se kapasiteit om dit te doen en hulle vermoë om die vuurwapens intussen veilig en versigtig te stoor.

“Teen ’n gemiddeld van ’n plaasaanval elke tweede dag en ’n plaasmoord elke vyfde dag oor die afgelope 25 jaar, bevind Suid-Afrika se boere hulle in onveilige omstandighede wat in elke opsig aan die definisie van ’n lae-intensiteit-burgeroorlog voldoen,” sê Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai.

TLU SA sê in hulle verklaring die Grondwet van Suid-Afrika bepaal in die Handves van Menseregte dat elke persoon die reg op ’n veilige omgewing het. “Aangesien die regering klaaglik daarin faal om Suid-Afrikaners se veiligheid te waarborg, moet elke persoon die reg hê om daardie beskerming self oor te neem.”

Suid-Afrikaners is, soos dinge staan, reeds soos voëls op ’n tak wat letterlik en figuurlik links en regs moet koes vir skote wat afgevuur word, sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Solank as wat misdaad in die land hoogty vier en die regering nie die veiligheid van elke Suid-Afrikaner kan waarborg nie, is die voorstel dat vuurwapens nie vir selfverdediging gebruik mag word nie, belaglik.”

“Om te verwag dat boere, wat verafgeleë en afgesonderd is, hulleself nie mag beskerm nie, is ondenkbaar.”

Dis veral in plattelandse polisiestasies in stelsels waar daar geen kapasiteit, geen kundigheid, geen plan en geen wil is nie, waar boere bekommerd raak dat hulle hul vuurwapens nie weer gaan terugkry nie.

Die parlementêre portefeuljekomitee het verlede week gehoor dat die sentrale vuurwapenregister in absolute chaos verval het. Saai sê elke akademiese studie oor die onderwerp oor die afgelope twee en ’n half dekades, alle navorsing deur institute, universiteite en selfs van die staat self, sowel as AfriForum se omvattende data oor plaasaanvalle en plaasmoorde, is dit eens dat ’n plaasgesin se vermoë om ’n plaasaanval te oorleef allereers gegrond is op hulle gereedheid om terug te skiet en deur selfverdediging tyd te koop vir die buurtwag en dalk die polisie om op die toneel op te daag.

Agri SA sê in hulle verklaring in ’n land met een van die hoogste moordsyfers in die wêreld is dit ondenkbaar dat gemeenskappe nie toegelaat sal word om hulle reg op selfbeskerming uit te oefen indien die voorgestelde wysiging in die wet goedgekeur word nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top