Wêreld wonder en gons oor tienling van Suid-Afrika

  • 0

Redaksionele nota: Voertaal se redaksie het kontak gemaak met Gauteng se departement maatskaplike ontwikkeling. Ons navrae is vriendelik, maar onbeantwoord, verwys na die departement gesondheid, wat ten tyde van die plasing glad nie gereageer het nie.

***

’n Vrou van Gauteng wat glo geboorte geskenk het aan 10 babas het Suid-Afrikaners en die res van die wêreld die afgelope week aan die gons gehad toe selfs die regering nie daarin kon slaag om die vrou en haar kroos op te spoor nie.

Die nuus van die geboorte is deur die Pretoriase dagblad Pretoria News gepubliseer en die wêreld ingestuur waar dit soos ’n veldbrand versprei het. Geen ander koerant of nuusagentskap het van enige sout of water geweet nie en kon ook nie die geboortes bevestig nie.

Volgens die Pretoria News, wat aan die mediagroep IOL behoort, het die 37-jarige Gosiame Thamara aanvanklik gedink sy verwag agt babas. Tydens die geboorte Maandagaand was die familie glo verras toe sy lewe aan nie minder nie as 10 babas skenk.

Die amptelike wêreldrekord vir die meeste babas op een slag word gehou deur Malian Halima Cisse van Marokko wat verlede maand lewe aan nege babas geskenk het.

Volgens IOL het Thamara sewe seuns en drie dogters gehad. Sy was glo sewe maande en sewe dae swanger toe die kroos Maandagaand gebore is. “Ek is gelukkig en emosioneel,” het haar man Teboho Tsotsetsi volgens Pretoria News gesê.

Die ma van die babas beweer dit was ’n normale swangerskap en dat sy geen vrugbaarheidsmiddels gebruik het nie. Sy is ook die ma van ’n sesjarige tweeling.

Die babas se geboorte is met groot skeptisisme in Suid-Afrika begroet. Talle mense het dit afgemaak as fopnuus. Selfs die regering en die ander mediagroepe het langtand aan die storie gebyt.

Netwerk24 en Maroela Media het albei Woensdag berig daar is talle vrae oor die tienling se geboorte.

Die regering het op Twitter gesê ondanks verskeie pogings kon hulle teen Maandagaand geen spoor van die babas vind of die hospitaal waar hulle gebore is nie. Die regering se direkteur-generaal van kommunikasiediens, Phumla Williams, het op Twitter gesê hulle het geen inligting oor die vrou en haar tien babas ontvang nie. Die Departement van Binnelandse Sake, wat die babas moet registreer, het ook van niks geweet nie.

Die burgemeester van Ekurhuleni, Mzwandile Masina, het aanvanklik gesê haar kantoor en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling dra ook nie kennis van die babas, wat in Tembisa gebore is nie. Sy het op Twitter gesê hulle sou graag die familie wou bystaan as dit waar is, maar wou weet of die hoofstroommedia dalk tot ’n fopnuusfabriek gedaal het. Dié twiet is later verwyder.

Woensdag het Masina egter getwiet dat hulle die familie opgespoor het. “Ons het die familie gevind en dit gaan goed met die babas. Sal die inligting met die nasionale regering deel. Ek weet ons was gister ’n grap toe die regering ernstig op soek was na die familie. Van ons plaaslike comrades staan die familie by. So alles is wel,” het sy getwiet.

Guinness World Records het op hulle beurt aan die New York Post gesê hulle is bewus van die nuus dat Sithole na bewering geboorte geskenk het aan ’n tienling. ’n Woordvoerder het gesê hulle is besig om vas te stel of die nuus waar is en dat die ma en kinders se welstand die eerste prioriteit is indien dit waar is.

Volgens IOL is dit Pretoria News se scoop en kon die koerant dit regkry om die storie stil te hou totdat hulle die nuus in hulle gedrukte uitgawe gepubliseer het.

Op sosiale media is daar op groot skaal gespot omdat die regering so sukkel om vas te stel of die berig waar is. #NationalBabyshower het op Twitter gegons, maar Woensdagmiddag (9 Junie) was daar nog geen amptelike bevestiging van regeringskant of daar wel ’n tienling in Suid-Afrika gebore is nie.

IOL sê egter hulle is gevra om die geboorte van die babas nie voor die tyd uit te lap nie en die publikasie daarvan vertraag ter wille van die ouers se privaatheid en om kulturele redes. Daar het nog nêrens in die media enige foto’s van die babas verskyn nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top