Daar is toenemende druk op die Suid-Afrikaanse regering om sy raswetgewing te laat vaar sodat die land se ekonomie kan groei om ’n nuwe ekonomiese era in te lui.
Volgens ’n nuwe verslag van die Wêreldbank is daar hoop vir Suid-Afrika se ekonomie mits die ANC sy ekonomiese beleid drasties aanpas. Daar moet afgesien word van rasgebaseerde beleide wat verband hou met regstellende aksie soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en streng arbeidsregulasies wat ekonomiese groei belemmer..
Die Wêreldbank wil hê Suid-Afrika moet hierdie beleide aanpas om dit minder veeleisend te maak vir buitelandse maatskappye om in die land te belê.
In ’n oorsig oor inklusiewe ekonomiese groei in Suid-Afrika het die wêreldwye uitlener gesê die land moet sy regulasies by die markrealiteite aanpas.
Die Wêreldbank, ’n invloedryke internasionale finansiële instelling wat dikwels ekonomiese advies en steun aan ontwikkelende lande bied, sê Suid-Afrika se huidige rasgebaseerde beleid belemmer ekonomiese groei.
Die instelling se standpunt is dat hierdie beleide, wat ontwerp is om historiese ongelykhede aan te spreek, nou eerder ’n struikelblok vir investering, werkskepping en algemene ekonomiese vooruitgang geword het. Die verslag waarsku ook dat buitelandse beleggers afgeskrik word deur wat hulle as oormatige regulering en onbuigsame arbeidsmarkte beskou.
Die verslag is getiteld “Driving Inclusive growth in South Africa: Quick wins with competitive markets and efficient institutions” en is op 28 Februarie 2025 gepubliseer.
Die geleentheid vir verandering is nóú, sê die bank. Hulle verslag bied volgens die bank sleuteloplossings vir ’n sterker, regverdiger ekonomie.
🇿🇦 #SouthAfrica: The opportunity for change is NOW! The "Drivers of Inclusive Growth" report offers key solutions for a stronger, fairer economy. Join us LIVE tomorrow from Cape Town for expert insights and a lively panel discussion.
🔗 https://t.co/DNXm8vvhp1 pic.twitter.com/WpNQI548RZ— World Bank Africa (@WorldBankAfrica) February 27, 2025
Volgens die Wêreldbank bied die nuwe politieke konteks wat uit die Mei 2024-verkiesing na vore kom, ’n unieke geleentheid vir Suid-Afrika.
Die bank sê dit bied ’n platform om ’n beslissende transformasieproses van stapel te stuur, selfs al is daar nog nie ’n ooreenkoms oor watter ekonomiese hervormings toegepas moet word nie.
“Sulke belyning was die sleutel agter die suksesvolle ekonomiese transformasie van China in die vroeë 1980’s, Viëtnam in die laat 1980’s en 1990’s, Pole in die 2010’s, en Indië in die vroeë 2020’s.”
Volgens die bank bied hulle verslag pragmatiese beleidsopsies wat aangepas is vir Suid-Afrikaanse beleidmakers wat korttermynresultate wil verkry, terwyl dit momentum skep vir strukturele hervormings om ekonomiese groei te hervat en die algehele welstand van burgers, veral die mees benadeeldes, te verbeter.
Hierdie druk word gesien as ’n teken dat internasionale instellings wat Suid-Afrika se ekonomiese gesondheid noukeurig dophou, toenemend skepties is oor die ANC se benadering. Die ANC het sedert 1994 regstellende aksie as ’n kernpilaar van sy beleid gebruik om die ongelykhede van apartheid uit te wis, maar kritici wat nou ook internasionaal uitkring, argumenteer dat die implementering hiervan verouderd is en nie meer die gewenste resultate lewer nie. In plaas van om armoede en ongelykheid effektief te verminder, word gesê dat dit soms korrupsie, nepotisme en ’n afhanklikheid van staatsingryping bevorder het, terwyl dit die privaatsektor se vermoë om te groei beperk.
In Suid-Afrika sal daar gemengde gevoelens oor die verslag wees. Voorstanders van hervorming, soos die DA, sal dit as ’n welkome oproep beskou om die ekonomie te moderniseer en op werkskepping eerder as rasgebaseerde kwotas te fokus.
The DA in the GNU is fighting for real economic reforms & not more burdens on South Africans.
✅ No VAT, income, or corporate tax hikes.
✅ Cut R60 billion in wasteful spending, not from taxpayers.
✅ Expand the economy.Join the fight, sign here: https://t.co/saRH6izPa3. pic.twitter.com/W9lDETk6H9
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 28, 2025
Organisasies soos Solidariteit, wat al lank teen raswette veg, het dit reeds as ’n oorwinning gevier. Hulle beskou dit as ’n deurbraak en ’n teken dat die “tydsgees” verander en dat die ANC se greep op rasgedrewe beleid onder internasionale en plaaslike kritiek begin verkrummel.
Merkwaardige nuus. Die momentum begin swaai. Raswette is boos.
SA moet ras- en arbeidsbeleide verlig, sê Wêreldbank-verslag - Maroela Media https://t.co/JtBrV2Fk5K
— Dirk Hermann (@SolidariDirk) March 2, 2025
Vakbonde soos Cosatu en politieke partye soos MK en die EFF sal egter waarskynlik minder in hulle noppies wees oor die moontlike afskaffing van rasgebaseerde beleide.
Binne die ANC self kan daar spanning wees. Die party se historiese verbintenis tot regstellende aksie en staatsondersteuning vir transformasie kan beteken dat sommige faksies die Wêreldbank se voorstelle as ’n verwatering van hul agenda beskou. Die ANC het nog nie amptelik gereageer nie, maar interne spanning is moontlik, veral ná die Wêreldbank se implisiete kritiek op die doeltreffendheid van huidige beleide.
- Die Wêreldbank se volledige verslag kan hier gelees word.