Die wêreldbekende Robbeneiland, waar die wêreldberoemde Nelson Mandela 18 van sy 27 jaar in die tronk spandeer het, verkeer in ’n finansiële verknorsing.
Daar word al maande in die media berig dat hierdie historiese erfenis van Suid-Afrika gruwelik verwaarloos word, vervalle is en in ’n toestand van wanorde verkeer.
Toeriste wat die eiland besoek, kla ook oor die buitensporige prys wat hulle moet betaal om daarheen te gaan.
Die eiland is een van die land se belangrikste post-1994 erfenissimbole. Dit is in 1998 deur die Verenigde Nasies se Unesco as ’n Wêrelderfenisgebied aangewys.
In ’n berig wat vandeesweek in Business Day verskyn het, word daar opnuut ernstige bewerings van growwe wanbestuur en verkwistende uitgawes oor die eiland gemaak.
Robben Island Museum knocks on Treasury’s door https://t.co/MFsTtTUnC2
— Business Day (@BDliveSA) January 25, 2022
Die koerant berig dat die eiland die afgelope tyd in ’n uiters swak toestand verkeer, met sy veerbootdiens grootliks in puin en sy geboue wat verval te midde van swak bestuur.
Daar is al verlede jaar in verskeie media berig oor die kontroversie rakende die Robbeneiland-museum en sy oënskynlik verwaarlooste toestand.
Na die mediaberigte het die Ex-Political Prisoners Association (EPPA) en die Demokratiese Alliansie (DA) in die Wes-Kaap hul kommer oor die verval en agteruitgang van bates op die eiland beklemtoon.
EPPA het selfs ’n beroep op Cyril Ramaphosa gedoen om in te gryp en ’n toesigbesoek af te lê.
Skynbaar het sake sedertdien niks verbeter nie en verkeer die eiland tans in groter wanorde as ooit.
Volgens die jongste berigte het inkomste uit toeristebedrywighede daar in 2021 met 95%, of R134 miljoen, gedaal vergeleke met die vorige jaar. Die museum het ’n tekort van R55 miljoen vir die tydperk gehad, met fondse onder druk deels weens die behoefte om diesel vir elektrisiteitsopwekking aan te skaf, en ’n groter behoefte aan instandhouding en infrastruktuurkapitaalprojekte.
Die kansellering van toere vir ses maande van die 2020/2021-boekjaar vanweë COVID-19-regulasies, het die eilandbestuur volgens Business Day gedwing om die meerderheid van hul finansies te gebruik om kontraktuele verpligtinge na te kom, insluitend die betaling van salarisse.
Abigail Thulare, uitvoerende hoof, het die afgelope week aan parlementslede gesê hulle moes aan die deur van die nasionale tesourie klop om te verseker dat daar bykomende finansiering is gegewe die huidige situasie in die toerismebedryf.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het volgens Business Day gesê staatsentiteite sal nie enige bykomende befondsing op medium termyn ontvang nie, weens die regering se druk om openbare besteding te besnoei.
Die Sunday Times het ook berig dat die museum finansiële probleme in die gesig staar wat veel verder gaan as net COVID-19-regulasies. Dit word gekoppel aan onreëlmatighede wat in ’n forensiese ondersoek deur die geoktrooieerde rekenmeesters Morar Incorporated gelys is. Morar het dissiplinêre stappe teen Mava Dada, die voormalige uitvoerende hoof van die museum, aanbeveel weens kontrakbreuk.
Voormalige gevangenes het in November 2018 ook ’n ondersoek gevra na beweerde onreëlmatige verkryging van ’n multimiljoenrandveerboot en samespanning tussen veerbootdiensverskaffers.
Nog ’n onlangse verslag, deur MacRobert Attorneys, waarop die museumraad blykbaar staatmaak, het uitvoerende beamptes van wanbestuur kwytgeskeld.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan, ’n regeringsbloudruk vir die skep van ’n baie meer welvarende samelewing, erken die belangrikheid van erfenisterreine, en sê “kuns en kultuur maak kragtige ruimtes oop vir betrokkenheid oor waar ’n samelewing homself bevind en waarheen dit op pad is”.
Dit lyk egter nie of hierdie edel doelstellings tred hou met dit wat in werklikheid op die eiland gebeur nie.