Suid-Afrika se ietwat laer werkloosheidsyfer wat die afgelope week bekend gemaak is, bied nie veel om oor opgewonde te raak nie.
Hoewel die land se werkloosheidsyfer ietwat gedaal het vergeleke met die eerste kwartaal vanjaar, het Suid-Afrika steeds een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld.
Meer as sestig persent van Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar het glad nie werk nie.
Die resultate van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname (QLFS) dui daarop dat die aantal werkende persone in die tweede kwartaal van 2023 met 154 000 tot 16,3 miljoen toegeneem het vergeleke met die eerste kwartaal van 2023.
Die aantal werklose persone het in dieselfde kwartaal met 11 000 tot 7,9 miljoen afgeneem. Boonop het die aantal mense wat om ander redes as ontmoediging nie ekonomies aktief was nie, met 93 000 tot 13,3 miljoen toegeneem. Die moedelose werksoekers het in die tweede kwartaal van 2023 met 94 000 afgeneem vergeleke met die eerste kwartaal van 2023, wat gelei het tot ’n netto afname van 1 000 in die nie-ekonomies-aktiewe bevolking.
Wanneer die jongste statistiek ontleed word, blyk dit dat die land se jeug steeds uiters kwesbaar is en dat werkloosheid onder die jeug ’n tikkende tydbom bly.
Ten spyte van ’n toename in die aantal jeugdiges wat gedurende die vorige kwartaal in diens geneem is, bly jeugdiges “kwesbaar” vir werkloosheid, sê Statistiek SA in ’n verklaring.
“Die jeug bly kwesbaar in die arbeidsmark, met die resultate van die tweede kwartaal van 2023 wat toon dat die totale aantal werklose jeugdiges [tussen 15 en 24 jaar oud] met 131 000 tot 4,7 miljoen afgeneem het terwyl daar ’n toename van 105 000 in die aantal werkende jeugdiges tot 5,7 miljoen gedurende dieselfde tydperk was.
“Dit het gelei tot ’n afname in die jeugwerkloosheidsyfer van 1,1 persentasiepunte tot 45,3% in Q2:2023,” het Statistiek SA gesê.
Die DA sê in hulle reaksie ’n dieper ontleding van die syfers onthul dat die ANC-regering se onvermoë om stabiele kragvoorsiening te verseker die werkloosheidskrisis laat voortduur, veral onder jong Suid-Afrikaners.
Die jongste syfers dui daarop dat ’n kommerwekkende 3,4 miljoen jongmense (wat verantwoordelik is vir 34,2% van die ouderdomsgroep 15–24) nie in ’n werk, die onderwys of opleiding is nie.
“Selfs meer kommerwekkend is dat 60,7% van Suid-Afrikaners in hierdie ouderdomsgroep glad nie werk het nie.”
Die drie provinsies wat die grootste indiensnemingstoenames aangeteken het die afgelope kwartaal, is Limpopo met ’n styging van 80 000 werksgeleenthede, Wes-Kaap met ’n styging van 54 000 en KwaZulu-Natal, waar daar ’n styging van 48 000 aangeteken is.
“Verliese in indiensneming is in dieselfde tydperk in die Vrystaat [met 59 000] en Noord-Kaap [met 17 000] aangeteken,” het Statistiek SA gesê.
Die DA sê in ’n verklaring in skrille kontras met die nasionale tendens het die Wes-Kaap, wat deur die DA beheer word, weer eens gedemonstreer dat effektiewe bestuur die indiensnemingsyfers aansienlik kan beïnvloed. “Met ’n werkloosheidsyfer van 20,9% vergeleke met die nasionale gemiddelde van 32,6% wys die Wes-Kaap wat met ’n bekwame staat bereik kan word.”
Die party se skaduminister van indiensneming en arbeid, Michael Cardo, sê nie net is 2023 gekenmerk deur ongekende kragonderbrekings nie, maar die ANC het ook al hoe meer voortgegaan met maatreëls wat tot meer werksverliese sal lei.
“Deur die Wysigingswet op Diensbillikheid en sy gepaardgaande regulasies het die ANC toenemend aggressief geraak in sy aandrang op die afdwing van irrasionele raskwotas in die arbeidsmark. In sommige provinsies word die “numeriese teikens” vir sekere rassegroepe arbitrêr op 0,0% gestel. Die ‘raskwota’-wet sal beleggings afskrik, groei onderbreek en werksgeleenthede vernietig.”
Geslagsverskille in die arbeidsmark duur ook voort. Statistiek SA sê die syfers eggo die behoefte om die verbetering van vroue se algehele deelname aan indiensneming te versnel, toegang tot meer geleenthede oor ekonomiese sektore heen te verseker, en die aanspreek van werksgapings wat verder strek as werkloosheid aan te spreek.
“Werk is die mees effektiewe strategie vir ekonomiese bemagtiging vir vroue. Vroue se arbeidsmarkdeelname moet gevolglik verhoog word. Die verbetering van geslagsgelykheid het talle positiewe uitwerking op beide individuele persone en die samelewing in die geheel,” sê Statistiek SA.
- Die volledige verslag kan hier afgelaai word.