Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers het in die derde kwartaal van die jaar effens gedaal, maar die land worstel steeds met hoë werkloosheidskoerse.
Volgens Statistiek SA het werkloosheid in die derde kwartaal van vanjaar met 0,7% afgeneem en het die aantal mense wat in hierdie kwartaal in diens geneem is, tot 16,7 miljoen toegeneem.
Die nasionale werkloosheidskoers staan nou op 31,9%. Volgens die uitgebreide definisie is die werkloosheidskoers egter steeds bo 41%.
Byna 50% van diegene tussen die ouderdomme van 15 en 34 jaar was in die derde kwartaal steeds werkloos. Statistiek SA sê die jeug bly kwesbaar in die arbeidsmark. Die derde kwartaal se resultate toon egter dat die totale aantal werklose jeugdiges tussen die ouderdomme van 15 en 34 jaar afgeneem het.
Almost 50% of those aged 15 - 34 years were unemployed in Q3:2023. Join me on @eNCA at 09h40 today as I unpack the latest Quarterly Labour Force Survey results for Q3:2023.
More here: https://t.co/OK1xSUX1AP#Stats SA pic.twitter.com/49mWoN2IRM— Statistician-General Risenga Maluleke (@SGMaluleke) November 15, 2023
Uit die nege provinsies in Suid-Afrika was die Wes-Kaap weer eens die provinsie met die laagste werkloosheidsyfer, met meer as 300 000 werksgeleenthede wat in ’n jaar in die provinsie geskep is. Die Wes-Kaap is die enigste provinsie in Suid-Afrika wat deur ’n opposisieparty geregeer word.
Noordwes is die provinsie met die hoogste werkloosheidsyfer, naamlik 51,2%.
The Western Cape is the only one out of the nine provinces in South Africa that is governed by an opposition party.
Real unemployment rate by province in South Africa, as of September:
Western Cape 25.6%
Gauteng 39.4%
Northern Cape 42%
Eastern Cape 43.9%
Free State 44.7%
KZN… pic.twitter.com/AMg6jYnwB1— Multi-Party Coalition Advocacy Group (@MultiCoalition) November 14, 2023
Die meeste van die werksgeleenthede in die derde kwartaal is in die formele sektor geskep, terwyl die informele sektor ook werk geskep het. Die bedrywe wat die grootste indiensneming oor hierdie tydperk aangeteken het, was in finansies, gemeenskaps- en maatskaplike dienste en landbou.
Vir die eerste keer sedert die Covid-pandemie het die indiensnemingsvlakke dié van tydens die pandemie oortref. Volgens Statistiek SA het die land sy agtste agtereenvolgende kwartaal van indiensnemingstoename aangeteken, wat 399 000 werkers gevoeg het by diegene wat werk in die land het.
Voor die pandemie is indiensnemingsvlakke in die eerste kwartaal van 2020 op 16,4 miljoen aangeteken. Tydens die pandemie het indiensnemingsvlakke 14,1 miljoen bereik. Volgens die kwartaallikse arbeidsmagopname vir die derde kwartaal van 2023 het die aantal werkende persone met 399 000 tot 16,7 miljoen toegeneem, vergeleke met die tweede kwartaal van 2023.
Nie net het indiensnemingsvlakke verbetering in die arbeidsmark getoon nie, die aantal werklike ure gewerk het ook drasties verbeter ná Covid.
Statistiek SA sê in ’n verklaring miljoene mense se lewensbestaan, werk en gesondheid was in die gedrang weens die krisis wat deur Covid veroorsaak is. Die impak van die pandemie en die verwante inperkingsmaatreëls het gelei tot ’n ernstige inkrimping in ekonomiese aktiwiteit, aangesien baie mense nie in staat was om te gaan werk of om werk te soek nie. Besighede kon nie meer funksioneer nie. Suid-Afrika was geen uitsondering nie, met die aantal werkende persone wat in die tweede kwartaal van 2020 met meer as 2,2 miljoen afgeneem het.
Die DA het gesê die jongste kwartaallikse arbeidsmagopname beklemtoon bloot die regering se versuim om meer werk te skep, ten spyte van die afname in die werkloosheidskoers.
Die DA se skaduminister van indiensneming en arbeid, Michael Cardo, sê in ’n verklaring die ANC het niks gedoen om die strukturele hindernisse op te los wat Suid-Afrika se groei stuit en werkskepping belemmer nie. Benewens sy onvermoë om die nodige groei te bevorder, het die ANC volgens hom nie daarin geslaag om arbeidsmarkregulasies te verslap en die gehalte van ons onderwysstelsel te verbeter nie.
“In skrille kontras met die nasionale tendens, het die DA-geleide Wes-Kaap weer eens gedemonstreer dat goeie bestuur die ekonomie kan laat groei en Suid-Afrikaners uit armoede kan lig. Die Wes-Kaap se werkloosheidskoers staan nou op 20,2%, ’n afname vanaf 20,9% in die vorige kwartaal. Ekonomieë waar die DA regeer, groei. Hierdie prestasie kan regdeur Suid-Afrika herhaal word met ’n bekwame regering en ’n private sektor wat bevry is van oorregulering,” het Cardo gesê.
- Statistiek SA se volledige verslag kan hier afgelaai word.