Suid-Afrika se werkloosheidsyfer is steeds van die hoogste ter wêreld. Werkloosheid het in die eerste kwartaal vanjaar tot 32,9% gestyg vergeleke met die vorige syfer van 32,7%.
Dit is ten spyte daarvan dat meer mense in die eerste kwartaal vanjaar werk gehad het vergeleke met die vorige kwartaal.
Syfers van Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling toon dat 268 000 méér mense in die eerste kwartaal van vanjaar werk gehad het, maar dat die werkloosheidskoers persentasiegewys effens gestyg het.
Swart Suid-Afrikaanse vroue bly steeds die kwesbaarste met ’n werkloosheidskoers van 39,9% in die eerste kwartaal vanjaar. Dit is 4,5% hoër as die nasionale gemiddelde vir vroue op 35,4%.
[Thread] SA’s official #unemployment rate stands at 32,9%. There were 179 000 more people who were unemployed in Q1:2023 than in Q4:2022. #StatsSA pic.twitter.com/IQf0o0L10g
— Stats SA (@StatsSA) May 16, 2023
Statistieke Suid-Afrika sê in ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is dat die aantal nie-ekonomies aktiewe persone in die eerste kwartaal vanjaar met 296 000 afgeneem het vergeleke met die laaste kwartaal verlede jaar.
Die uitgebreide definisie beskryf werklose mense as diegene wat nie in die verwysingsweek in diens was nie, beskikbaar was om te werk, maar nie werk gesoek het nie óf omdat hulle ontmoedig word om werk te soek óf nie werk gesoek het om ander redes as moedeloosheid nie. Volgens hierdie definisie het werkloosheid in die eerste kwartaal van vanjaar, vergeleke met die vorige kwartaal, met 0,2% gedaal.
Suid-Afrika het in 2022 vier opeenvolgende kwartale van werkstoename aangeteken namate die land sy ekonomiese herstel voortgesit het ná die COVID-19-grendelstaat..
Herstelpogings word egter gedwarsboom deur die gebrek aan konsekwente elektrisiteitsvoorsiening, aangesien Eskom die ergste kragonderbrekings op rekord implementeer weens sy onvermoë om genoeg megawatt te produseer om in die vraag te voorsien, wat Suid-Afrikaners tot 10 uur per dag sonder elektrisiteit laat.
Met die hoogste tydverwante onderindiensnemingskoers van 5,9% bly swart mense kwesbaar in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark, omdat hulle meer ure wil werk. Die Indiër-/Asiatiese en blanke bevolkingsgroepe het die laagste tydverwante onderindiensnemingsyfers (0,9% elk). Die enigste afname in tydverwante onderindiensneming is onder die Indiër-/Asiatiese bevolkingsgroep aangeteken (1,7%).
Met die uitsondering van die Vrystaat, wat ’n afname van 1,7% kwartaal op kwartaal getoon het, het alle ander provinsies ’n toename aangeteken in die persentasie mense wat deur tydverwante onderindiensneming geraak word.
Werknemers van Limpopo, die Oos-Kaap en Mpumalanga het die hoogste voorkoms van tydverwante onderindiensneming aangeteken. Die Wes-Kaap, Noordwes en Gauteng het die laagste onderindiensnemingskoers in die eerste kwartaal van 2023 aangeteken.
Gegradueerdes word die minste deur werkloosheid geraak, met die laagste onderindiensnemingskoers op 1,2% vir die eerste kwartaal vanjaar.
Die aantal nie-ekonomies aktiewe persone het in die eerste kwartaal vanjaar met 296 000 afgeneem vergeleke met verlede jaar se laaste kwartaal.
The number of Not Economically Active persons decreased by 296 000 in Q1:2023 compared to Q4:2022.
Read more here: https://t.co/GQMEsmY30M#StatsSA #unemployment pic.twitter.com/1ldMjcG0iq
— Stats SA (@StatsSA) May 16, 2023
Beurtkrag het ’n uitmergelende impak op huishoudings en besighede. Dit sal na verwagting druk op die indiensnemingstatus van baie plaas, aangesien sommige firmas sukkel om aan die gang te bly.
Risenga Maluleke, die statistikus-generaal, sê egter verdere ontleding moet gedoen word om te bepaal of konsekwente kragonderbrekings indiensneming beïnvloed.
"As jy na gebiede soos die mynbou en vervaardiging kyk, het hulle werk verloor, maar dit verg ’n verdere ontleding," het hy tydens ’n media-inligtingsessie gesê.
’n Groot bekommernis is die vlak van jeugwerkloosheid op 46,5%, aangesien dié in die ouderdomsgroep 15–34 verantwoordelik is vir meer as die helfte van die land se indiensneembare bevolking van 40,6 miljoen tussen die ouderdomme van 15 en 64.
Volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid wat diegene insluit wat ontmoedig is om werk te soek, was 42,4% sonder werk vergeleke met 42,6% in die vierde kwartaal van 2022.
Soos met die werkloosheidsyfer, ervaar jongmense onderindiensneming teen veel hoër koerse as ouer persone. Vir die eerste kwartaal van 2023 was die onderindiensnemingskoers 6,3% vir diegene tussen die ouderdomme van 15 en 24 en 5,2% vir diegene tussen die ouderdomme van 24 en 34, wat hoër is as die nasionale koers van 4,9%. Die laagste onderindiensnemingskoers word aangeteken in die ouderdomsgroepe 35–44 jaar en 55–64 jaar, albei op 4,6%.