Werkloosheid skiet die hoogte in

  • 0

Werkloosheid in Suid-Afrika het ’n nuwe rekordhoogte bereik en sowat tienmiljoen Suid-Afrikaners sit sonder werk. Dit is die hoogste werkloosheidsyfer in die land se geskiedenis. 

Die kommerwekkende toedrag van sake is deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) bekend gemaak in hulle jongste kwartaallikse indiensnemingspeiling.

Werkloosheid in Suid-Afrika het ’n nuwe rekordhoogte bereik 

Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer is tans 29% maar as die ontmoedigde werksoekers bygereken word, styg die syfer tot so hoog soos 38,5%. Dit beteken dat 10,2 miljoen van die land se inwoners sonder werk is.

Volgens SSA het werkloosheid die afgelope kwartaal met 1,4% gestyg van 27,6% die vorige kwartaal tot 29% in die tweede kwartaal vanjaar.

Hoewel die getal mense wat werk die afgelope kwartaal effens gestyg het, was daar ’n aansienlik groter styging in die getal mense wat nou werkloos is. Die aantal werkloses het met 7,3% of 455 000 mense gestyg en beloop tans 6,666 miljoen mense. Voeg daarby die duisende werksoekers wat nie werk kan kry nie en die syfer skiet die hoogte in tot sowat 10 miljoen.

Die Oos-Kaap is die provinsie met die meeste mense sonder werk (35,4%) terwyl Noord-Wes die meeste ontmoedigde werksoekers in die land het.  

Vroue gaan steeds die swaarste gebuk onder werkloosheid met ’n werkloosheidsyfer van 31,3%.

Die persentasie jongmense tussen die ouderdom van 15 en 24 wat nie werk, skoolgaan of opleiding ontvang nie, het tot meer as 32% gestyg – van 31,6% die vorige kwartaal tot 32,3% tans.

Dit was die vervoer- en konstruksiebedrywe wat die afgelope kwartaal die swaarste  getref is deur toenemende werkloosheid. In die vervoerbedryf het daar die afgelope kwartaal meer as 40 000 werksgeleenthede verlore gegaan. In die konstruksiebedryf is 24 000 nuwe mense in die tweede kwartaal van die jaar aangestel, maar daar werk 113 000 minder mense in die sektor as ’n jaar gelede.

Huiswerkers, tuiniers en kinderoppassers sukkel ook al hoe meer om werk te kry in die land. Byna 50 000 minder mense het as huiswerkers, tuiniers of kinderoppassers gewerk as ’n kwartaal gelede.

Twee van die sektore wat beter gevaar het as die vorige kwartaal, is die landbousektor en die informele sektor. Die informele sektor het 114 000 meer mense in diens gehad en die landbousektor 5 000 meer.

Vier van die tien bedrywe, wat deur SSA gemeet word, het in die tweede kwartaal van die jaar minder mense in diens gehad as die vorige kwartaal en sewe het minder mense in diens gehad as ’n jaar gelede.

Die ekonoom Roelof Botha het die land se werkloosheidsyfer as uiters kommerwekkendbestempel. Hy sê die struikelblokke vir groei en werkskepping moet uit die weg geruim word om meer werksgeleenthede te skep en daar behoort ’n moratorium geplaas te word op die huidige arbeidswetgewing sodat meer mense in diens geneem kan word.

SSA se volledige verslag kan hier gelees word. 

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top