Die lot van duisende werklose dokters en aptekers wat die strate ingevaar het om hul frustrasies uit te spreek, gee blykbaar nie die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, slapelose nagte nie.
So sê die DA na aanleiding van die duisende werklose dokters en ander mediese beamptes in die land.
Mediese beroepslui regoor die Oos-Kaap en ander provinsies, soos Gauteng, het die afgelope naweek die strate ingevaar om hulle kommer uit te spreek oor die situasie.
In Gauteng het werklose aptekers ’n beroep op die regering gedoen om die begroting te hersien sodat meer werksgeleenthede vir aptekers geskep kan word. Betogers buite die departement van gesondheid in Pretoria het gewaarsku dat tekorte die gesondheidsorgstelsel in duie kan laat stort.
The number of unemployed pharmacists, doctors, teachers, social workers, to name but a few, is increasing.
At this rate, the only secure jobs will be those of politicians, courtesy of you & me, of course. #ANCNEC Mbalula Sonia Panyaza Gauteng & KZN Gogo Maweni #BBMzansi pic.twitter.com/YhDGDlk7mT
— Brandon (@Umalumewabantu) January 20, 2025
Motsoaledi het vroeër gesê die regering het nie die geld om werklose dokters aan te stel nie, ten spyte van die tekort aan hul dienste in hospitale.
Health Minister Dr Aaron Motsoaledi says government does not have the money to hire unemployed doctors despite the shortage of their services in hospitals.
Watch: https://t.co/dX5kHTKrLq#Newzroom405 pic.twitter.com/mLKbBt5d9X
— Newzroom Afrika (@Newzroom405) January 9, 2025
Volgens antwoorde wat die DA deur middel van parlementêre vrae bekom het, is daar nasionaal 2 000 vakante poste in openbare hospitale. Sedert April 2024 is ’n gemiddeld van 14% van alle poste vir mediese beamptes op nasionale vlak nie gevul nie. Die Vrystaat, Noordwes en Limpopo loop die ergste deur weens vakante poste.
Doctors are sitting at home - unemployed due to no funds to employ them.
Those who are left behind have to pull up the slack for everyone. pic.twitter.com/pkouyiocMO
— Nokhwezi Mfeka (@Khwezikazib) January 21, 2025
Die DA se woordvoerder oor gesondheid, Michéle Clarke, sê die hemelhoë aantal vakante poste en werkloosheid van mediese beroepslui is al jare lank die norm in die openbare gesondheidsektor.
Verlede jaar September het dit aan die lig gekom dat van die totale aantal dokters wat hul gemeenskapsdiens in 2023 voltooi het, slegs 60% in befondsde poste as mediese beamptes in staatsfasiliteite aangestel is. Dit beteken dat 40% werk in die privaatsektor moes kry, of werkloos is, of moes emigreer.
Clarke sê in ’n verklaring die minister se “taamlik gevoellose reaksie” oor begrotingsbeperkings weerspreek die honderde miljoene wat die minister aan sy “ydelheidsprojek”, die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), bestee het.
Die DA sê hulle sal verdere parlementêre vrae indien om te bepaal hoeveel poste sedert verlede jaar gevul is, en om uit te vind hoeveel vakante poste daar tans in die mediese beroepe in die openbare gesondheidsektor is.
Motsoaledi se pos as minister van gesondheid word volgens Clarke gekenmerk deur ’n dualiteit waarin hy verwag dat die privaat-gesondheidsektor die openbare gesondheidsektor sal red, terwyl hy terselfdertyd ook probeer om hulle keel af te sny.
Sy sê die minister moedig nuwe dokters aan om hul lot in die privaatsektor te vind, met die volle wete dat hy binnekort verantwoordelik sal wees vir die ineenstorting van daardie einste sektor, sou die NGV-waansin voortduur.
“Die vakante poste is rampspoedig vir gemeenskappe soos Motherwell in die Oos-Kaap waar die NU8-kliniek gedwing is om te sluit omdat dit nog net ’n paar verpleegsters gehad het wat dienste kon lewer. Jy kan byna enige openbare gesondheidsfasiliteit in die land besoek en jy sal met ernstige hulpbronbeperkings te kampe hê, ook ’n gebrek aan dokters en ander mediese personeel.”
Die DA sê hulle voer tientalle ondersoeke per jaar uit en het die verskriklike uitdagings gesien waarmee die oorblywende mediese personeel en pasiënte te kampe het.
Die feit dat die minister gevoelloos lyk oor hierdie krisis is uiters kommerwekkend, sê die DA in hulle verklaring.
Volgens Clarke is Motsoaledi in ’n uitstekende posisie om die situasie te probeer regstel, maar hy kies eerder om net op sy NGV-droom te fokus en nie op die onmenslike werklikheid van die openbare gesondheidsektor nie.
Werklose dokters, tandartse en aptekers in die Oos-Kaap het drie weke lank in Bhisho betoog en onmiddellike indiensneming geëis. Die provinsiale regering het vroeër gesê hy benodig fondse om in te gryp.
[WATCH] Unemployed doctors and pharmacists in the Eastern Cape have protested in Bhisho for three weeks, demanding immediate employment and claiming a lack of assistance. The provincial government previously stated it was seeking funds for intervention. pic.twitter.com/bCb4XhK2Lo
— SABC News (@SABCNews) January 21, 2025
City Press berig dat die aanhoudende noodkrete deur die groep dalk vrugte afgewerp het, aangesien hulle die afgelope Dinsdagoggend ’n vergadering met premier Oscar Mabuyane gegun is.