Die Nasionale Departement van Gesondheid en die minister van gesondheid, Joe Phaahla, probeer links en regs vure doodslaan nadat dit aan die lig gekom het dat honderde gegradueerde Suid-Afrikaanse dokters werkloos is en oorsee moet gaan om werk te soek.
Die SA Mediese Vereniging-vakbond (Samatu) het onthul dat data uit ’n onlangse opname aangedui het dat meer as 800 gekwalifiseerde dokters werkloos bly ná die voltooiing van hul twee jaar van mediese internskap en een jaar van gemeenskapsdiens.
Phaahla het Maandag tydens ’n inligtingsessie gesê hoewel daar begrotingsbeperkings is wanneer dit kom by die indiensneming van dokters wat in die staatsdiens wil aanbly nadat hulle gemeenskapsdiens voltooi het, werk die Departement van Gesondheid 24 uur per dag om dit aan te spreek.
Dr Phaahla says the healthcare sector is costly & that the salary increases & benefits such as overtime put pressure on the fiscus. He says an entry level community service doctor earns about R1.2 million per annum, while a chief specialist can earn R3 million a year. pic.twitter.com/9Z0FN0uuZR
— @SAgovnews (@SAgovnews) February 5, 2024
Samatu het egter hulle teleurstelling en uiterste ontsteltenis oor Phaahla se inligtingsessie uitgespreek. Samatu sê in ’n verklaring hulle is ontevrede oor die gebrek aan wesenlike optrede en die duidelike afwesigheid van strategie.
“Dit is ’n ontnugterende werklikheid dat dieselfde kernkwessies jaar na jaar opduik sonder betekenisvolle ingryping of vordering. Die minister se erkenning van hierdie uitdagings, sonder om ’n uitvoerbare raamwerk aan te bied om dit aan te spreek, is ’n voorbeeld van ’n swak vertoning van die departement. Dit wek ernstige kommer oor die departement se verbintenis tot ons gesondheidsorgpraktisyns en tot die gesondheid van ons nasie.”
Die vakbond Soliditeit sê in ’n verklaring die toestand van die plasings van dokters is nou kritiek, terwyl die DA Phaahla se reaksie op die krisis ook skerp kritiseer.
MEDIAVERKLARING
Solidariteit is tans betrokke by ’n reeks regsgedinge teen die NGV-wetsontwerp in ’n poging om die belange van die mediese beroep en die pas gegradueerdes te beskerm. @maroelamedia @Beeld_Nuus @Netwerk24 @sabcnuus @eNuus @zarsg @Klankkoerant https://t.co/nKbiEi9Vta— Solidariteit (@solidariteit) February 8, 2024
Meer as 1 000 dokters het die afgelope week die strate van Pretoria ingevaar en werk geëis.
“Solidariteit se netwerke in die mediese sektor is bekommerd oor die kritieke punt wat die dokterplasings bereik het,” sê Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese sektor, in ’n ope brief aan Phaahla.
Na wat berig word, is daar ongeveer 690 pas gegradueerde dokters wat tans werkloos is, en die druk op die reeds oorbelaaide gesondheidstelsel word erger.
“Die feit dat baie jong dokters oorsee moet gaan studeer en werk soek, is ’n duidelike aanduiding van die gebrek aan werksgeleenthede en die finansiële beperkings binne die Suid-Afrikaanse mediese sektor,” sê Marx.
Volgens Marx het die plasing van dokters amper breekpunt bereik, en dit op die drumpel van die bekragtiging van die Nasionale Gesondheidsversekering- (NGV-) wetsontwerp. Marx sowel as ander kenners wys daarop dat Suid-Afrika ’n groot hoeveelheid waardevolle mediese talent verloor weens ’n gebrek aan werksgeleenthede en finansiële ondersteuning van die staat se kant.
Marx beklemtoon die ernstige impak wat hierdie tekort aan dokters het, veral in vergelyking met ander lande wat van die staat se gesondheidsdienste afhanklik is. “Met 10,3 keer minder dokters vergeleke met sulke lande, het Suid-Afrika dus slegs 0,3 dokters per 1 000 pasiënte,” sê hy.
Die stryd word verder bemoeilik deur die regering se beplande implementering van die NGV. “Die NGV-wetsontwerp is reeds sterk teengestaan deur Solidariteit en ander organisasies in die mediese sektor, maar die regering weier om na die kenners en die publiek te luister,” sê Marx. Die ironie van die situasie word duidelik gesien aan die staat se onvermoë om selfs die onmiddellike behoeftes van onlangse mediese gegradueerdes te hanteer, en dit terwyl hulle probeer om ’n grootskaalse gesondheidsversekeringstelsel te implementeer.
Die DA se skaduminister van gesondheid, Michele Clarke, sê alhoewel dit waar is dat begrotingsbesnoeiings ’n geweldige impak op die vakaturekoers van mediese beroepslui het, sal vermindering van fondse minder impak hê as geld nie ook deur korrupsie deur ANC-affiliasies geplunder word, deur wanbestuur deur ontplooide ANC-kaders vermors word, of op toenemende mediese regseise vermors word nie.
Clarke sê in ’n verklaring die waarheid is dat die Departement van Gesondheid al jare lank begrotingsbesnoeiings blameer vir die probleem, maar niks doen om te verseker dat meer geld in die openbare gesondheidstelsel bly deur korrupsie en onbeholpenheid uit te roei nie.
Intussen is Solidariteit ook betrokke by ’n reeks regsgedinge teen die NGV-wetsontwerp in ’n poging om die belange van die mediese beroep en die pas gegradueerdes te beskerm.
“Ons is vasbeslote om tot in die hoogste howe vir die regte van dokters te veg in ’n poging om veranderinge in die huidige beleidsklimaat teweeg te bring wat die mediese sektor kan ondersteun en die voortsetting van gehaltegesondheidsorg in Suid-Afrika kan verseker,” sê Marx.