Wes-Kaap spog met van die wêreld se gewildste bestemmings

  • 0

Knysna, #19 (Foto: Ron Porter | Pixabay)

 

Vier van die wêreld se top 100 gewilde bestemmings is vanjaar in die Wes-Kaap.

Tourism Sentiment Index (TSI), ’n internasionale versamelaar van reisdata deur die bekroonde bestemmingsbemarkingsagentskap Destination Think, het sy “Leading places: the 100 most loved destinations around the world” vir 2021 vrygestel. Knysna is in posisie 19, Stellenbosch is op nommer 23, Hermanus op 41, en Kaapstad is in posisie 54.

TSI het die ranglys deur middel van ’n intensiewe datastudie opgestel. Dit word saamgestel deur die ontleding van meer as 1,6 miljard aanlyn gesprekke en inhoudstukke in die publieke domein oor  21 330 globale bestemmings om die 100 mees geliefde bestemmings te identifiseer.

TSI gebruik die nuutste tegnologie om die krag van kunsmatige intelligensie toe te pas om sentimente van mense se voorkeure te ontsyfer. Hierdie tegnologie bied volgens die samestellers van die lys ’n nuwe maatstaf vir bestemmingsbemarking, bekend as die Tourism Sentiment Score®.

Die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, sê vir vier Wes-Kaapse dorpe en die Moederstad om onder die top 100 mees geliefde plekke in die wêreld geïdentifiseer te word is ’n uitstaande prestasie.

Dit is die eerste keer ooit dat bestemmings regoor die wêreld op so ’n wyse gerangskik word om die plekke te ontdek wat werklik die mees geliefd is.

Volgens TSI se webwerf was hierdie toonaangewende plekke die 100 mees geliefde bestemmings in 2021 volgens wat mense werklik voel. Niemand het betaal om genoem te word nie en geen opnames het antwoorde voorgestel waaruit daar gekies moes word nie.

Mondelinge ongevraagde en onbevooroordeelde aanbevelings van persoon tot persoon het hierdie lys opgebou. Elkeen van hierdie 100 bestemmings het volgens die opstellers hulle plek verdien gedurende een van die moeilikste jare wat die toerismebedryf nog ooit in die gesig gestaar het.

TSI sê die tegnologie van hulle datawetenskaplikes het ’n nuwe maatstaf vir bestemmingsbemarking tot gevolg gehad. Hulle meen die Tourism Sentiment Score® is die maatstaf wat die toerismebedryf sedert die begin van die internet ontbreek het.

“Hierdie telling is die resultaat van ons metodologie wat oor die jare verfyn is om sentiment uit massiewe volumes inhoud oor reis die beste te skandeer en te interpreteer. Dit is doelgerig vir toerisme bedoel.”

Hulle maak daarop aanspraak dat dit die mees diepgaande studie van sy soort is wat nog ooit gedoen is.

Om die telling te bereken, versamel hulle al die gesprekke en inhoud rondom ’n bestemming en filtreer dit volgens ’n spesifieke formule om by ’n bestemming of toerisme-ervaring uit te kom.

TSI versamel elke dag meer as twee miljoen stukke inhoud wat in die openbaar aanlyn geplaas word oor globale bestemmings van elke vlak. Dit behels lande, state, provinsies, eilande, stede, dorpe, streke en selfs groot parke.

Die toerismebedryf gebruik die resultate van die Toerisme Sentiment Score® om huidige prestasie te meet en om ’n maatstaf daar te stel om oor tyd na te spoor. Dit is ’n weerspieëling van elke bestemming se toerismegewildheid met  ’n algehele telling en tellings vir tot 50 toerismebates wat elke bekende aspek van die reiservaring dek, soos vervoer, verblyf, besienswaardighede, geleenthede, ens.

Die Sonskynkus, Queensland, Australië, het die nommer 1-plek ingeneem, gevolg deur Whitsundays, Queensland, Australië (2); Udaipur, Rajasthan, Indië (3); Bora Bora, Frans-Polinesië (4); Noosa, Queensland Australië (5); Nice, Provence-Alpes-Cote d'Azur, Frankryk (6); Punta Cana, La Altagracia, Dominikaanse Republiek (7); Cancun, Quintana Roo, Mexiko (8); Cairns, Queensland, Australië (9) en Puerto Vallarta, Jalisco, Mexiko (10).

Die 100ste plek is gedeel deur Pensacola, Florida, VSA en Antwerpen, Vlaandere, België, wat albei 23,52 punte aangeteken het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top