Die Wes-Kaapse regering doen reuse stappe in die rigting van volhoubare mobiliteit deur die bekendstelling van elektriese voertuie in beide openbare vervoer en staatsvlote.
Hierdie inisiatiewe vorm deel van ’n breër strategie om kweekhuisgasvrystellings te verminder en die provinsie se vervoerinfrastruktuur voor te berei vir ’n koolstofarmer toekoms deur hul afhanklikheid van fossielbrandstowwe te verminder.
Die provinsiale regering sê in ’n verklaring hulle maak goeie vordering met hierdie inisiatiewe. Golden Arrow Bus Service en staatsmotorvervoer neem tans die leiding.
Die Wes-Kaapse Departement van Infrastruktuur het reeds ’n tenderproses vir die verskaffing van elektriese laaistasies van stapel gestuur. Die eerste installasies sal by vier staanplekke vir staatsmotors begin, met ’n beplande implementering vir die 2025/2026-boekjaar. Hierdie fasiliteite sal nie net staatsvlote ondersteun nie, maar ook die breër publiek aanmoedig om elektriese voertuie aan te skaf.
Met vervoer verantwoordelik vir ongeveer 28% van die provinsie se koolstofvrystellings, is die oorgang na elektriese voertuie volgens die provinsie se Departement van Vervoer ’n dringende prioriteit.
Volgens die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, is die fokus op volhoubare dienslewering, verminderde bedryfskoste en minder afhanklikheid van fossielbrandstowwe.
Golden Arrow Bus Services, ’n sleutelrolspeler in Kaapstad se pendelnetwerk, het reeds 20 elektriese busse in ontvangs geneem, met nog 100 wat teen einde 2025 in diens gestel sal word. Die nuwe vloot volg op ’n suksesvolle loodsprogram en ’n omvattende haalbaarheidstudie in 2023. Die elektriese busse het positiewe terugvoer van passasiers gekry, en passasiersforums het dit as ’n dawerende sukses beskryf.
“As ’n sleutelrolspeler in Kaapstad se openbare vervoerstelsel is Golden Arrow Bus Services die voorloper in die vermindering van kweekhuisgasvrystellings deur elektriese busse in sy vloot in te voer. In die openbare vervoersektor is die verskuiwing na elektriese voertuie van kritieke belang om volhoubare mobiliteit vir pendelaars te laat plaasvind en om ekonomiese geleenthede en werkskepping in verskeie sektore van die provinsie se mobiliteit te skep,” het Sileku gesê.
Openbare en regeringsvlote speel ’n leidende rol in die integrasie van elektriese voertuie om die haalbaarheid en voordele van die aanvaarding van nuwe soorte voertuie te demonstreer. Hierdie vlote sal aansienlike emissieverminderings bewerkstellig, terwyl dit as ’n model vir die private sektor dien.
“Soos die onlangse ontplooiing van elektriese busse in stedelike gebiede, en die gefaseerde benadering tot die elektrifisering van staatsvlote demonstreer, is dit noodsaaklik om klimaataanpassingspogings in infrastruktuur en diensbeplanning deel te maak van die hoofstroom in die vervoersektor. Dit het die potensiaal om ekonomiese geleenthede vir besighede en inwoners van die provinsie te maksimaliseer,” het Sileku bygevoeg.
Hy sê dit neem die Wes-Kaap nader aan die verwesenliking van sy langtermynvisie van nulvrystellings in ’n provinsie wat kan werk skep en klimaatbestand is.
Volgens Sileku is dit noodsaaklik om klimaataanpassingspogings in infrastruktuur- en diensbeplanning te veranker: “Hierdie oorgang dien nie net die omgewing nie, maar bied ook sake- en indiensnemingsgeleenthede regoor die provinsie.
“Golden Arrow se oorgang na elektriese busse stel nie net ’n nuwe standaard vir openbare vervoer nie, maar skep ook ekonomiese geleenthede vir entrepreneurs en klein besighede in die elektriesemobiliteitsruimte. Dit is ’n belangrike stap in ons strewe na ’n nettonulvrystellingsprovinsie.”
Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) het ook reeds 30 laai-eenhede, elk met twee laaisokke, by Golden geïnstalleer.
“Die elektrifisering van openbare en staatsvlote wys hoe ons aanpas en dit in dienslewering kan integreer. Die gevolg is maksimale ekonomiese voordele vir besighede en inwoners,” het Sileku opgemerk.