Wes-Kaapse polisie mors op met ondersoeke na geslagsgeweld

  • 0

Byna 80 sake oor geslagsgeweld is binne ses maande in die Wes-Kaap van die hofrol geskrap weens die polisie se ondoeltreffendheid.

Tussen Oktober 2022 en Maart 2023 was daar ’n verbysterende 283 sake in die provinsie wat by 33 howe gemonitor is. Van die 283 sake hou 77 verband met geslagsgeweld, terwyl die ander 206 sake onder meer aanranding met ernstige liggaamlike besering, moord, roof met verswarende omstandighede, besit van en handel in dwelms en die besit van vuurwapens en ammunisie insluit.

Die Wes-Kaapse eenheid oor polisietoesig en gemeenskapsveiligheid sê in ’n verklaring  die howe wat gemonitor is, is geleë in Khayelitsha, Bishop Lavis, Blue Downs, Strand, Philippi, Mitchells Plain, Bellville, Wynberg, Athlone, Goodwood, Kuilsriver, Atlantis, Malmesbury, Paarl, Vredenburg, Ceres, Clanwilliam, Vredendal, Oudtshoorn, George , Mosselbaai, Plettenbergbaai en Knysna

Die eenheid is ’n inisiatief van die Departement van Polisietoesig en Gemeenskapsveiligheid (POCS) om hul vermoë om toesig oor die polisie uit te voer en te verbeter soos gemagtig deur artikel 206(3) van die Grondwet. Albei verslae is met die SAPD gedeel.

Die Wes-Kaapse minister van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, sê hierdie statistieke skets ’n baie donker prentjie wat hom diep ontstel.

Hy sê dit is werklike mense wat deur die SAPD en die hele kriminele stelsel klaaglik in die steek gelaat is. “Wat verder kommerwekkend is, is dat dit net die sake is wat ons gemonitor het, wat daarop dui dat daar baie soortgelyke sake kan wees wat ook uit die hof gegooi word. Die aanklag is verdoemend en duidelik. Ondersoekers werk onder geweldige druk en soms sit hulle elkeen met meer as 200 dossiere. [Dit] regverdig egter nie hul onvermoë om hul grondwetlike mandaat na te kom nie.”

Geslagsgeweld is in Suid-Afrika aan die toeneem.

Suid-Afrika word as die verkragtingshoofstad van die wêreld beskou, met duisende verkragtingsake wat jaarliks aangemeld word. Die koers waarteen vroue deur intieme maats in hierdie land vermoor word, is vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld. Dit is ’n wydverspreide en algemene verskynsel in Suid-Afrika en diep ingeburger in huise, werkplekke, kulture en tradisies.

Allen sê hy sal die SAPD se provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Thembisile Patekile, by die saak betrek om vas te stel of die beamptes wat die provinsie se burgers in die steek gelaat het, aanspreeklik gehou gaan word indien dit nog nie gebeur het nie.

“Ek sal nie aanhou toelaat dat hierdie tipe versuim binne die SAPD voortduur nie. Die pyn, lyding en ongeregtigheid wat die slagoffers moet verduur, moet aangespreek word en daar moet ’n toevlug vir die slagoffers wees. Ons het ’n aantal aanbevelings gemaak op grond van hierdie bevindinge. Een daarvan is dat die SAPD ’n verbeteringsplan moet ontwikkel om die aantal sake wat weens hul ondoeltreffendheid van die rol geskrap word, tot die minimum te beperk.”

Hy sê hy sal ook die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, advokaat Nicolette Bell, betrek, aangesien daar toegesien moet word dat hierdie tipe resultate nie herhaal word nie. “Ek is bewus daarvan dat daar ’n standaard bedryfsprosedure tussen ondersoekers en aanklaers is, en daar moet vasgestel word waar die fout is. Ons mense wat slagoffers is, verdien beter en ons moet werk om hierdie tekortkominge uit te roei,” het Allen gesê.

Hy sê dit is uiters belangrik dat verslae soos hierdie tot beter dienslewering lei. “Dit is ook nog ’n duidelike herinnering waarom die SAPD na ’n bekwame provinsiale regering soos ons s’n afgewentel moet word. Ons wil verseker dat die SAPD geloofwaardig en betroubaar is, terwyl ons ’n diens lewer wat professioneel en van die hoogste standaard is, en wat individue beskerm en bedien wat dikwels diep deur misdaad geraak word,” het Allen gesê.

Verskeie sake is teruggetrek omdat die dossiere nie by die hof was nie. In ander gevalle was die ondersoek onvolledig of sake is teruggetrek omdat die forensiese verslae uitstaande was. Sake is ook teruggetrek omdat die beskuldigdes nie voor die hof gebring is nie of omdat die getuies nie gedagvaar is nie.

Die top drie polisiekantore oor die twee kwartale in al 283 sake waar dossiere nie by die hof was nie, is Knysna (6), Vredendal (4) en George (3).

Die top drie polisiestasies oor die twee kwartale in al 283 sake met die hoogste aantal onvolledige ondersoeke is Lutzville (12), Kraaifontein (8) en Kuilsrivier (6).

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top