Wet op raskwotas kan duisende se werk kos

  • 0

Die voorgestelde kwotas in die Wysigingswet op Diensbillikheid sal veroorsaak dat minstens 220 000 wit mense, 85 000 bruin mense en 50 000 Indiërs hul werk in Gauteng alleen verloor.

So sê die DA in ’n verklaring oor die hoogs omstrede rassekwotawet wat tans uit verskeie oorde onder skoot is.

Die vakbond Solidariteit het reeds verlede week aangekondig dat hulle reusehofoptrede beoog teen die nuwe rasregulasies wat op werkgewers afgedwing kan word.

Solidariteit is van mening dat hierdie wetgewing ’n “nuwe rasselaagtepunt” in Suid-Afrika is. “Suid-Afrika word nou volledig volgens ras gereguleer en is nou sonder twyfel die mees rasgereguleerde land ter wêreld,” het hulle in ’n vroeëre verklaring gesê.

Die DA sê die teikens wat deur die regering voorgestel word, is nie gesiglose getalle nie. “Dit verteenwoordig ’n naderende sosiale en ekonomiese ramp wat die risiko loop om ons ekonomiese ratte heeltemal tot stilstand te bring.”

Volgens die DA kan altesaam 404 608 wit individue, 116 934 Indiërs en 71 518 bruin mense hul lewensonderhoud binne die volgende vyf jaar verloor indien die kwotawet se riglyne ten volle nagekom word.

Die DA se skaduminister van indiensneming en arbeid, Michael Cardo, het Maandag ’n lys parlementêre vrae ingedien om vas te stel watter modellering deur die Departement van Arbeid gedoen is en op grond waarvan hierdie teikens saamgestel is.

“Die Departement van Indiensneming en Arbeid, en die betrokke minister, Thulas Nxesi, moet onmiddellik hul metodologie agter hierdie absurde kwotas toelig.”

Cardo sê kwotas in goedgekeurde wetgewing wat daartoe sal lei dat minstens 600 000 Suid-Afrikaners hul werk verloor, kan sekerlik nie lukraak vasgestel word nie.

Die DA sê die onsamehangendheid van die wet se kwotas verraai die haastige en lomp manier waarop dit geformuleer is en is niks anders as ’n verkiesingsfoefie sonder enige deurdagte oorweging van die verreikende implikasies wat dit inhou nie.

“Hoe is hierdie data bekragtig en verwerk om te verseker dat hulle die huidige stand van ons arbeidsmark akkuraat verteenwoordig?”

Die DA wil ook weet watter spesifieke stappe geneem is om die metodologie wat gebruik is om die rassemaatstawwe ingevolge die Wysigingswet op Diensbillikheid te stel, te bekragtig. “Was daar ’n formele portuurbeoordelingsproses wat onafhanklike kundiges in arbeidsekonomie en statistiese modellering betrek het? Indien wel, kan die minister die terugvoer wat van hierdie kundiges ontvang is, deel en hoe dit by die finale metodologie geïnkorporeer is?”

Solidariteit gaan op hulle beurt met ’n veldtog begin om werkgewers op groot skaal aan te moedig om tot die hofstryd toe te tree.

Solidariteit sê sy regspan sal binnekort hofstukke bedien in sy uitdaging van die Wysigingswet op Diensbillikheid, wat president Ramaphosa in April as wet onderteken het.

Die wet is volgens Solidariteit ongrondwetlik en verleen drakoniese rassemagte aan die betrokke minister.

Die wet vereis dat werkgewers met meer as 50 personeel diensbillikheidsplanne moet indien wat spesifiseer hoe hulle die teikens sal bereik.

“Werkgewers word die swaarste getref. Hulle gaan nie meer mense kan aanstel op grond van wat hulle kan doen nie, maar hoe hulle lyk. Die regulasies maak reuse-inbreuk op die vryheid om te kan werk en besigheid te doen. Enige sodanige ingryp in die mark het verlies van werk tot gevolg. As die regulasies toegepas gaan word, gaan eienaars van kleiner ondernemings nie meer self hulle ondernemings kan bestuur nie,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Hermann sê hulle vertrou dat honderde werkgewers, burgerlike organisasies en politieke partye tot die stryd sal toetree. Hy meen die regulasies is ’n “ambisieuse plan van sosiale manipulering”.

Sentrale beplanning van bevolkings het in die verlede tragiese gevolge gehad. Sentrale rasbeplanning is in alle opsigte verkeerd en Suid-Afrika moet oor rassegrense heen opstaan daarteen,” het Hermann gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top