Suid-Afrikaners is ontstoke oor die polisie se versuim om die afgelope naweek op te tree toe duisende mense die Covid-regulasies ten aanskoue van die hele wêreld oortree het. Dit was tydens ’n saamtrek by oud president Jacob Zuma se woonplek Nkandla in KwaZulu-Natal.
Min van die meer as 3 000 Zuma-ondersteuners het maskers gedra en daar was geen sprake van sosiale afstand nie. Hulle het hulle ook nie gesteur aan die verbod op saamtrekke wat ingevolge vlak-4 regulasies geld nie terwyl van die joernaliste op die toneel gevloek en geboelie is. Die saamtrek het plaasgevind in afwagting op Zuma se moontlike inhegtenisname nadat die Grondwetlike hof hom 15 maande tronkstraf opgelê het weens minagting van die hof.
Politieke partye het ook uitgevaar teen die wetteloosheid wat ooglopend deur die polisie toegelaat is. Terwyl daar tydens vorige inperkings streng opgetree is wanneer slegs ’n handvol mense dit tydens inperking gewaag het om op die strand te gaan stap, het die polisie die afgelope naweek nie vinger verroer om op te tree teen die onwettige samedromming by Nkandla nie.
Die ANC moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die wetteloosheid by Nkandla, het COPE se woordvoerder, Dennis Bloem, in ’n verklaring op Facebook gesê.
Bloem sê Zuma en sy ondersteuners kan nie toegelaat word om op te tree asof hulle bo die wet verhewe is nie. Hy sê die land bevind hom in ’n ernstige pandemie wat verwoesting en dood saai terwyl Zuma se ondersteuners geen ag daarop slaan nie en reg onder die polisie se neus besig is met onwettige samekomste.
Wetstoepassers en die veiligheidsmagte het Maandag gesê strafregtelike optrede sal nie op Nkandla geduld word nie. Die National Joint Operational and Intelligence Structure (NatJOINTS) sê in ’n verklaring die polisie het versterkings na die gebied gestuur.
[Read] The National Joint Operational and Intelligence Structure (NatJOINTS) on Sunday enhanced operational capacity in KwaZulu-Natal amid "flagrant disregard" for #COVID19 #AdjustedAlertLevel4 regulations https://t.co/2z7D9Yokkm pic.twitter.com/UZJZ768NTV
— @SAgovnews (@SAgovnews) July 5, 2021
Die polisiewoordvoerder, Vish Naidoo, sê polisiebeamptes en die bevelvoerders het duidelike opdrag dat hul die situasie op grondvlak behoorlik moet ontleed voor daar opgetree word.
Die DA sê in hulle reaksie op die naweek se gebeure dit is ondenkbaar dat gewone landsburgers en besighede tevrede moet wees met die vernietigende gevolge as gevolg van vlak-4 inperkings terwyl ondersteuners van Zuma en lede van die ANC toegelaat word om die wet sonder enige gevolge te breek. Die DA het ’n dringende beroep oppresident Cyril Ramaphosa gedoen om in te gryp en toe te sien dat daar opgetree word teen die skuldiges.
It is unthinkable that while citizens and businesses have had to endure devastating losses to adhere to level 4 restrictions, members of the ANC and Zuma can seemingly break them without consequence.
Ramaphosa must take urgent action. - @jsteenhuisenhttps://t.co/46xZk6uzhM
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 4, 2021
Tydens ’n nuuskonferensie het Zuma Sondagaand sy hande in onskuld gewas oor die wetteloosheid wat reg onder sy neus plaasvind. Hy het gesê die situasie is nie deur hom veroorsaak nie en hy weet nie waarom joernaliste hom peper met vrae wat eintlik niks met hom te doen het nie.
The situation right now pic.twitter.com/7shxNiPZo8
— JGZuma Foundation (Official) (@JGZ_Foundation) July 4, 2021
Zuma het ook van die joernaliste wat vrae gevra het versoek om hul maskers af te haal as hulle hom ’n vraag vra sodat hy kan “hoor” wat hulle sê. Op ’n vraag waarom Zuma nie ’n masker gedra het tydens die nuuskonferensie en toe hy sy ondersteuners toegespreek het nie, het een van sy woordvoerders gesê daar is mediese redes voor waarop hy wil ingaan nie.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) ’n striemende verklaring uitgereik oor die naweek se gebeure by Nkandla. Sanef sê in hulle verklaring hulle neem kennis daarvan dat Zuma se ondersteuners nie maskers gedra het nie doen ’n beroep op joernaliste om versigtig te wees en alle COVID-19 regulasies na te kom in die lig van die dodelike nuwe Delta-variant.
Sanef veroordeel ook die fisiese en verbale aanvalle op joernaliste deur sommige van Zuma se ondersteuners. Sanef sê joernaliste behoort nie geteister en beledig te word terwyl hulle probeer om hulle werk te doen nie.
SANEF is deeply worried & equally outraged by the brazen physical and verbal abuse of journalists by supporters of former President Jacob Zuma outside his Nkandla home in northern KwaZulu-Natal. https://t.co/LJC3fh9WX9
— SANEF (@SAEditorsForum) July 4, 2021
Die Minister van polisie, Bheke Cele, het Maandag aan joernaliste in Johannesburg gesê die rede waarom die polisie nie die afgelope naweek strenger opgetree het nie was omdat hulle bloedvergieting wou voorkom.