Wie hóé en wát drink, veroorsaak ’n korona-kopseer

  • 0

Wat gedurende een week van die koronapandemie in die Grendelrepubliek van Suid-Afrika toelaatbaar is, kan ’n week later weer taboe wees, het alkoholhandelaars en -gebruikers die afgelope dae op die harde manier geleer.

Hierdie dure les het drinkers (en nie die bedryf nie) oor hulself gebring, skyn die subteks te wees van pres Cyril Ramaphosa se aankondiging verlede Sondagaand (12 Julie 2020) dat alkohol met onmiddellike effek nie meer verkoop, vervoer en versprei mag word nie. Dit moes drinkers die Maandagoggend met ’n blouer as ooit babelas uit die bed uit laat opstaan het, maar dit is veral restaurante, drankwinkels en die groter drankbedryf wat moes gewonder het of hulle Ramaphosa reg gehoor het.

Die wêreld ken Suid-Afrika as een van die voorste wynprodusente en ’n land wat ook nie terugdeins wanneer dit by die brou van bier kom nie. Hoekom anders sou AB InBev dan in 2015 ’n SAB Miller-sluk vat om uiteindelik een van die grootste internasionale biermaatskappye te vorm? Ook wat handgemaakte boetiekjenewer betref, kielie plaaslike distilleerders behoorlik die smaak- en reukkliere.

En nou die herinstelling van die verbod as deel van die regering se voortgesette planne om ’n ongekende globale pandemie plaaslik te probeer bestuur, oftewel die kurwe van infeksie plat te hou. Die besluit laat egter die kurwe van bederf én die verlies aan inkomste aan die drankbedryf se kant die hoogte inskiet. In reaksie op die nuutste verwikkeling het Distell aangedui dat daar reeds ’n oorskot van 240 miljoen liter in die bedryf bestaan weens die aanvanklike drankverbod, wat uiteraard deur die nuwe beperkings sal vermeerder. Tavernes, wat jaarliks vir tot soveel as R50 miljard se verkope sorg, word ook ’n behoorlike kopseer toegedien – en dít, waarsku rolspelers, kan tot ’n toename in onwettige drankhandel aanleiding gee.

Die groot kritiek uit die bedryf ten spyt, het die regering die herinstelling van die verbod geregverdig aan die hand van die bewese hoër voorkoms van traumagevalle, padongelukke en misdaad wat deur drankgebruik veroorsaak word.

Dit is ’n swaard wat na twee kante toe sny: Naas die aansien wat Suid-Afrika as ’n topvervaardiger van drank geniet – en waarmee plaaslike wyn, brandewyn, whiskey, bier en jenewer gereeld internasionaal pryse inpalm – word Suid-Afrikaners egter ook as een van die wêreld se grootste drinkersbevolkings in peilings en statistieke van onder meer die Wêreldgesondheidsorganisasie beskou.

Hierdie twyfelagtige prestasie is waarom die regering met die aanvanklike verklaring van ’n rampstaat laat Maart opsluit die verkoop, vervoer en verspreiding van drank as een van verskeie inperkingsmaatreëls verbied het. (Soos ek voorheen hier op Voertaal geskryf het, het dieselfde lot tabakprodusente en -gebruikers getref.) ’n Streng inperking was noodsaaklik, is dié stap verduidelik, om te verseker dat die infeksiekoers sodanig “bestuur” word dat openbare gesondheidsorgfasiliteite gereed sou wees wanneer die onvermydelike piek die land sou tref.

Dié piek moet nog kom: September is as die uitverkore maand geïdentifiseer.

Sedert begin Junie is die inperkingsmaatreëls egter op so ’n wyse verslap dat drank weer op sekere dae en binne sekere ure gekoop kon word (Maandae tot Donderdae tussen 9 vm en 5 nm) en ook is byvoorbeeld die aandklokreël opgehef. Mense kon ook weer heeldag gaan oefen nadat dit aanvanklik geheel ontoelaatbaar was en later vir slegs drie ure soggens (tussen 6 vm en 9 vm) toegelaat is.

Nou was dit in die landsburgers se hande om sélf verantwoordelik op te tree in die aangesig van die vernietigende pandemie, was Ramaphosa se pleidooi met die aankondiging – ’n aanhaling wat hy uit ’n toespraak van sy politieke mentor, Nelson Mandela, geleen het.

Die uiteinde van hierdie toegewing was egter presies die teenoorgestelde as waarop die owerhede gehoop het (of was dit eintlik maar ’n strik wat vir drinkers gestel is? het sekere kommentators hardop gewonder). Pasiënte in hospitale se trauma-eenhede, padongelukke en misdaad in die algemeen het meteens weer toegeneem, waar die ongevalle-eenhede sedert die strenger inperking so stil soos die graf was, as dié uitdrukking nie onvanpas voorkom nie.

Terwyl drankverbruik en die drankbedryf uiteraard die land se ekonomie stu, moet die koste van die las wat dronkgevalle op die openbare gesondheidsorgsektor plaas, egter ook verreken word. Hieroor was mense soos Charles Parry van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) onomwonde toe hy tydens ’n onlangse vergadering van die parlement se portefeuljekomitee oor gesondheid oor die kwessie ’n voorlegging gedoen het.

Navorsing van die SAMNR wat deur Parry aangehaal is, toon dat sowat 17 000 bykomende hospitaalbeddens binne die komende twee maande vir COVID-19-pasiënte beskikbaar sal wees noudat die hernude drankverbod ingestel is.

Dit is wel vir hom verblydend, maar hy het ook sommer die geleentheid gebruik om ’n versoek tot die land se wetgewende gesag te rig dat die strenger beheer van alkoholgebruik – selfs ná die beëindiging van die rampstaat of grendelstaat – ’n instelling moet word. Sommige van sy aanbevelings sluit in dat minder dranklisensies toegestaan moet word, dat handelsure permanent verkort moet word, en dat die wettige ouderdom om alkohol te mag drink van 18 tot 19 jaar verhoog moet word, want in die Suid-Afrikaanse drinkkultuur is dit nie vreemd dat jongmense op 15 (en selfs jonger) al begin drink nie.

Hierdie situasie is uiteraard ’n groot rede tot kommer. Maar daar is ’n vraag wat verdere bespreking verg, naamlik hoekom die regering alle drinkers oor een kam skeer as dit nie almal is wat drank onverantwoordelik gebruik nie. Dit is wel nie slegs 5% van drinkers wat te veel drink, soos die bedryf aanvoer nie; dit is tot tienvuldig meer (tussen 50% en 60%) wat minstens een keer per maand te veel drink, as jy na Parry luister.

Wat nie onthul word nie, is hoe dié syfers lyk as jy ’n onderskeid moet tref tussen wyndrinkers en diegene wat bier of iets sterkers verkies. Niemand behoort daaroor te kan stry nie dat die wyndrinkkultuur meer dikwels ’n tuisdrinkkultuur (of restaurantkultuur) is, teenoor die partytjiekultuur waarmee bier en sterk drank geassosieer word. Dit is heel moontlik in laasgenoemde geval dat jy meer dikwels diegene sal vind wat vir padongelukke en bakleiery verantwoordelik sal wees en wat dan aanleiding gee tot die toename in traumagevalle by staatshospitale, soos gesien is die afgelope ruk toe die drankverbod opgehef was.

En hierin lê die dilemma vir die regering opgesluit: Selfs al ontwikkel groter getalle bruin en swart drinkers ’n palet vir wyne, is dit steeds ’n dranksoort wat meer dikwels in wit gesins- en vriendekringe voorkeur geniet. Hierteenoor drink ander rasse hoofsaaklik bier en ander sterker drankies.

Om in die toepassing van inperkingsmaatreëls en die drankverbod hierdie (onwetenskaplike) onderskeid in te span om besluite te neem, sou egter op ’n onbedoelde wyse die rasseskeidslyn ook in terme van drinkgewoontes in ’n reeds rasbehepte samelewing onderstreep.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top