Wie ry regtig die soustrein tussen die DA en ActionSA?

  • 0

Die DA en ActionSA het mekaar behoorlik in die hare gevlieg oor watter een van die twee partye die lekkerste op die soustrein ry.

Die twee partye beskuldig mekaar oor en weer daarvan dat van hulle verkose leiers in peperduur luukse voertuie rondrits waarvoor die belastingbetalers moet opdok.

Die vonk in die kruitvat was ’n openbare beskuldiging van ActionSA-parlementslid Dereleen James teenoor die DA-leier en minister van landbou in die RNE, John Steenhuisen. Sy sê hy geniet die gemak van ’n vloot van drie luukse blouligsportwaens, terwyl die DA voorgee dat DA-ministers in die RNE nie blou ligte gebruik nie.

James sê in ’n verklaring Steenhuisen se skriftelike antwoord op ActionSA se parlementêre vraag weerspreek die DA se federale voorsitter, Helen Zille, se stelling dat geen DA-minister van blou ligte gebruik maak nie, aangesien hy bevestig dat elkeen van sy ampsmotors toegerus is met blou ligte en die toepaslike seinstelsels.

“Terwyl Steenhuisen die beeld voorhou dat hy in ’n beskeie Toyota Cross reis, onthul sy eie antwoord dat hy eintlik die gemak van ’n vloot van drie luukse bloulig-SUV’s geniet.”

Sy beskuldig die DA van leë aansprake ​​teen verkwistende uitgawes en die misbruik van staatshulpbronne. Volgens haar geniet Steenhuisen die voordele van verskeie luukse sportnutse, insluitend ’n Audi Q7, BMW X5 en ’n Toyota Prado, elk met ’n koopprys wat konserwatief R1 miljoen oorskry.

Die DA se nasionale woordvoerder, Willie Aucamp, het heftig hierop reageer. Hy het in ’n verklaring teruggekap en gesê ActionSA se aansprake is onwaar en skaad die geloofwaardigheid van sy leiers wat Suid-Afrika belowe het dat hulle vanuit die agterbanke in die parlement ’n konstruktiewe opposisierol sal speel.

Hy sê die feite vertel ’n ander storie en beskuldig ActionSA van ’n oneerlike agenda en dat hulle op die “wa van sensasie” gespring het.

Alle ministeriële voertuie vir DA-kabinetsministers is volgens Aucamp van die vorige administrasie geërf. Die verkryging van nuwe voertuie is streng deur die DA-ministers self geblokkeer.

In hul haas om hul fantasie in die pad van feite te laat staan, het ActionSA hulself  as huigelaars blootgelê, sê Aucamp.

“Hul huidige burgemeester van Pretoria, Nasiphi Moya, het twee sekuriteitsingerigte luukse BMW-voertuie wat sy vir haar amptelike pligte gebruik”, en dieselfde geld vir die ActionSA-speaker van Johannesburg.

Die DA sê terwyl alle geërfde voertuie met blou ligte toegerus is, het DA-ministers dit duidelik gemaak dat die blou ligte in hul amptelike voertuie onder geen omstandighede gebruik sal word nie.

“Die DA glo dat geen minister die voorreg het om deur middel van blouligkonvooie te reis wat verkeer ontwrig en ministers die ongeregverdigde luukse gun om nie hul reise en afsprake reg te beplan nie.”

DA-ministers het hul veiligheidspersoneel opdrag gegee om altyd by verkeerswette te hou en nie van blou ligte vir ministeriële reise gebruik te maak nie, het Aucamp gesê.

Hy sê lede van die uitvoerende gesag word, soos wat nog altyd die praktyk was, voorsien van twee amptelike voertuie in Gauteng en die Wes-Kaap. Amptelike voertuie word slegs in hierdie provinsies voorsien. By die uitvoering van amptelike pligte buite Gauteng of die Wes-Kaap word voertuie deur die onderskeie departemente gehuur sodat ministers na hul werk kan omsien.

In Steenhuisen se geval gebruik hy:

  • ’n ses jaar oue Audi A7 wat hy van die vorige minister, Thoko Didiza, geërf het met ongeveer 135 000 kilometer op die afstandsmeter
  • ’n sewe jaar oue Toyota Prado wat ongeveer 230 000 kilometer afgelê het wat hy van die destydse minister, Senzeni Zokwana, geërf het.

Aangesien hierdie voertuie nie die persoonlike voertuie van die minister is nie, word dit deur regeringswetgewing en handboekregulasies gespesifiseer, en aangesien albei voertuie deur voormalige ministers gebruik is, was hulle albei reeds toegerus met sekuriteitstoerusting soos die sogenaamde blou ligte. Dit is standaard vir alle uitvoerende voertuie, insluitend dié wat deur provinsiale en plaaslike regeringsbestuurders gebruik word, sê die DA in hulle verklaring.

Die redakteur van Biznews.com, Alan Hogg, het op X gesê hy is nie seker hoe ActionSA gedink het hulle sal wegkom met sulke selfgeskepte verontwaardiging oor ’n luukse blouligbrigade wat eenvoudig nie bestaan ​​nie. “Die Herman Mashaba wat ek ken, is soveel beter as dit. Of dalk, die een wat ek geken het”.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top