Wie’s baas op die RNE-plaas?

  • 0

Nou stamp die kommentators ook kop oor die ANC en die DA se toutrekkery oor wat die beste wyse is om die regering van nasionale eenheid (RNE) te laat slaag. In snelskrif (opgesom, kortpad) gaan die woordewisseling oor of die ANC se beleid en besluite onverhinderd voorkeur moet kry en of die DA dit mag bevraagteken of afkeur.

Hieroor het ’n voormalige DA-amptenaar, Ryan Coetzee, hom pas op die sosiale media-platform X uitgelaat. Uit Engels vertaal en ietwat verkort, kom dit daarop neer dat hy glo “die onderliggende dinamika in die RNE is dat die ANC onbelemmerd voort wil gaan asof hulle nie hul meerderheidsteun verloor het nie”. Die DA is nie daarvoor te vinde nie, tree hy dan in die bresse vir dié voormalige amptelike opposisieparty en nou die ANC se RNE-vennoot. “Dit krap die ANC om,” twiet Coetzee.

Dit is verder sy mening dat sake nie gaan verbeter nie – tensy en totdat die ANC aanvaar dat die party besluite moet bespreek en onderhandel (met die DA as tweede grootste RNE-party) en nie bloot moet poog om dit af te dwing nie. Dit is die “wil van die mense”, herinner hy die ANC aan een van dié party se gunstelingslagspreuke, “soos deur die verkiesing [op 29 Mei vanjaar] bevestig”.

Maar dan, soos die gesegde lui, “krap hy [skynbaar] waar dit nie jeuk nie”. Of dalk doen dit. Hy vryf daarmee sout in ’n rou wond: “Indien die ANC nie daarvan hou nie, kan die party altyd besluite met MK gaan onderhandel – en sterkte daarmee!” MK verwys na die uMkhonto we Sizwe-party wat deur die voormalige president, Jacob Zuma, sowat ses maande voor die verkiesing en soos ’n haas uit ’n hoed gepluk is.

Dié “haas” het vir Zuma die derde meeste stemme in die verkiesing gewen: 14,58% teenoor die DA se 21,81% en die ANC se 40,18%, wat in hierdie volgorde beteken laasgenoemde het 159 setels in die Nasionale Vergadering verwerf, teenoor die DA se 87 en ’n ongelooflike 58 deur MK. Die vorige derde grootste party, Julius Malema se EFF, is daarmee in die skadu gestel en die wind is behoorlik uit die ANC se seile gehaal.

Uit Londen, waar hy tans die School of Oriental and African Studies aan die Universiteit van Londen lei, antwoord Adam Habib, voormalige vise-kanselier en rektor aan Wits-Universiteit, dat Coetzee “heeltemal in die kol” is met sy ontleding. Die ANC kán nie “onbelemmerd voortgaan” nie. Maar, wag ’n bietjie, “die DA kan ook nie ’n vetoreg hê nie”. Dit het steun van slegs “in die lae 20’s [persentasiepunte]”.

Habib bied dan ’n blitslesing vir die DA aan, soos Coetzee s’n omgekeerd aan die ANC: “Die DA kan nie optree asof hulle die dominerende party is nie,” betoog hy. Maar ook: “Beide partye moet hul gedrag aanpas in verhouding tot hul verkiesingsteun.”

O, nee, reageer Coetzee toe: “Die DA het wél vetoreg” – en herhaal dan – “tensy die ANC eerder met MK wil saamwerk.” Dit is tog hoe die wiskundige berekenings en ook koalisies in die algemeen werk, beklemtoon hy. Bygesê: “Die DA aanvaar berge ANC-beleid in die RNE; die ANC, daarteenoor, skop vas teen ’n enkele kompromis.”

Hierdie “enkele kompromis” sou kon verwys na een van drie moontlike beleidspunte, naamlik die nasionale gesondheidsversekering, die BELA-wet oor onder meer skole se taal- en toelatingsbeleid, of dalk ook buitelandse beleid. Soos Gert van der Westhuizen vir Netwerk24 berig het, bly Suid-Afrika se internasionale beleid “’n skerp doring in die vlees van die RNE”.

Hieroor het die ANC se subkomitee gemoeid met dié kwessie verlede naweek ’n strategiese sessie gehou en dit baie duidelik gemaak het dat hulle nie sal swig voor DA-druk nie. “Progressiewe internasionalisme, anti-imperialisme en Pan-Afrikanisme” sal die ANC se beleid bly, ’n verbintenis uit die anti-apartheidstryd waarmee die eertydse bevrydingsbeweging hom aanhou skaar aan die kant van moondhede soos Rusland, China en Indië en ook die mense van Palestina teenoor, byvoorbeeld, Amerika en Israel.

Maar dalk is die wedywering oor beleid en die magsbalans in die RNE nie tans die ANC se grootste probleem nie. In ’n onderhoud ’n tydjie gelede met die eNCA-nuuskanaal het president Cyril Ramaphosa vol bravade verklaar dat hy nie slapelose nagte (bekommernis, angstigheid) beleef oor of die RNE staande gaan bly nie. Die benadering van sy politieke ikoon, Nelson Mandela, is wat hom soveel selfvertroue gee, te wete ’n benadering wat gerig is op die soek na oplossings, om verskille te oorkom en versoening te bevorder.

Waaroor Ramaphosa dalk wel slapelose nagte beleef, sonder dat hy dit gesê het, is die bedreiging wat MK inhou – of is die grootste moeilikheid vir die ANC in werklikheid die interne bedreiging van onenigheid en korrupsie en so meer? Die party het daarom pas verklaar dat die politieke skoling van bestaande en nuwe lede prioriteit sal geniet. Te veel sluit aan sonder ’n waardering vir die geskiedenis en die waardes van die ANC; te veel glo lidmaatskap van die ANC is die wyse waarop hulle toegang tot hulpbronne, tenders en omkopery kan ontsluit.

Natuurlik kan dit die teenoorgestelde uitwerking hê as hierdie “afvallige” lede eerder koers kies na sy voorganger, Jacob Zuma, se MK-party, wat in die onlangse verlede tot ’n prominente leiersfiguur van die EFF, Floyd Shivambu, afgerokkel het. Sommige politieke kommentators het lánk reeds gesuggereer dat die “goeie mense” in die ANC en die DA in werklikheid polities heelwat nader aan mekaar staan. ’n Openlike omhelsing is nog ontwykend, soos geïllustreer deur die koppestampery oor wie Baas en wie Klaas is op die RNE-plaas, waarvan Coetzee en Habib ook nou deel geraak het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top