Wilgenhof se stof wil nie gaan lê nie

  • 0

Die stof rondom die Universiteit Stellenbosch (US) se Wilgenhof-drama wil net nie gaan lê nie.

’n Paneel onder leiding van oudregter Johann Kriegler het in ’n verslag bevind dat sowel Wim de Villiers, die Matie-rektor, as Nicky Newton-King, die US se raadsvoorsitter, ingemeng het in ’n verslag oor die toekoms van Wilgenhof.

De Villiers en Newton-King is Maandag deur die universiteitsraad oor die vingers getik oor hulle optrede. Talle mense meen egter dit is nie genoeg nie. Hulle dring daarop aan dat daar koppe moet rol en sê die universiteit moet ontslae raak van diegene wat  in die Kriegler-verslag genoem word. 

De Villiers se termyn strek tot 31 Maart aanstaande jaar, terwyl Newton-King se termyn as raadsvoorsitter tot 1 April 2026 strek.

Die US het Maandag in ’n verklaring gesê die raad het ná ’n robuuste bespreking ’n mosie met ’n meerderheidstem aanvaar wat erken dat die visekanselier en voorsitter van die raad ’n fout begaan het deur nie die raad van wysigings aan die De Jager-paneelverslag in kennis te stel nie. Die minderheidstemme teen die mosie is aangeteken soos versoek.

Die raad het aanvaar dat nie een van hulle "kwaadwillig of te kwader trou of met enige bedoeling om die besluite van die Raad met betrekking tot Wilgenhof-koshuis te beïnvloed opgetree het nie, en slegs gedoen het wat hulle geglo het in die beste belang van die Universiteit Stellenbosch is".

Daar is nou aan beide kante van die debat ongelukkigheid oor die huidige toedrag van sake. Sommige is ongelukkig omdat die visekanselier en voorsitter van die raad so lig daarvan afgekom het, terwyl ander vies is oor die bevinding van Kriegler en sy paneel.

Netwerk24 het Dinsdag berig die drie paneellede wat die omstrede verslag opgestel het, waarin daar aanbeveel word dat Wilgenhof gesluit moet word, is ontstoke oor die bevindings in Kriegler se verslag dat daar met hulle verslag gepeuter is.

Hulle het ’n prokureursbrief aan die universiteit gestuur waarin hulle sê hulle verwerp die bevindings in Kriegler se verslag. Volgens hulle is die Kriegler-paneel se bevindings “besonder gruwelik en grens aan bisar”.

Dit is egter nog lank nie die einde van die Wilgehof-drama nie. Die Wilgenhof-bond, wat meen die Kriegler-verslag is verdoemend, beplan steeds om hulle hofgeding teen die universiteit rakende die hele Wilgenhof kwessie voort te sit.

Die raad het Maandag ingestem om sy bestuursprosesse, wat met kommunikasie tussen die rektoraat, die voorsitter van die raad en met die raad verband hou, te heroorweeg.

Verder het die raad sy besluite oor die sluiting en heropening van die koshuis as ’n “herverbeelde, herskepte manskoshuis” herbevestig. Dié besluit is volgens hulle "in ooreenstemming met ’n meer inklusiewe, deelnemende (raadgewende) benadering wat die Raad gevolg het".

Die raad het ook twee mosies goedgekeur waarin hy sy "teleurstelling en ontsteltenis" uitspreek oor die uitlek van die Kriegler-paneel se verslag aan die media. Hulle sê sodanige optrede is in stryd met die raad se gedragskode, en dit ondermyn die werk van die raad, en het tot benadeling gelei vir die individue wat daardeur geraak word.

Oud-Wilgenhoffers het op sosiale media hulle tevredenheid uitgespreek oor die bevindings in die Kriegler-verslag, maar verlang verdere optrede.

W Brian Wasmuth het op Facebook geskryf hoe jy dit ook al sien, is dit ’n skande dat ’n instelling van hoër onderwys soos die US aan “nonsens soos hierdie” onderwerp moet word. Hy sê as De Villiers en Newton-King enige waardigheid het, sal hulle dadelik bedank, aangesien dit onder hulle toesig is dat dit plaasgevind het.

Met verwysing na die ongelukkigheid onder sommige oor die bevindings in die Kriegler-verslag sê hy die spreekwoord “die dame protesteer te veel” kom by hom op. “Ek veronderstel hulle dink die beste vorm van verdediging is aanval”.

Die US sê in hulle verklaring die raad erken dat dit ’n uitdagende oomblik vir die  universiteitsgemeenskap is. “Ons is vol vertroue dat die Universiteit Stellenbosch sterker na vore sal tree, met ’n hernude fokus op die bou van ’n instelling wat aanspreeklikheid en respek vir almal op die hart dra.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top