Die stryd om te keer dat die Universiteit Stellenbosch (US) se omstrede manskoshuis Wilgenhof gesluit word, het in alle erns begin.
Die US se Wilgenhof-alumnivereniging sê hulle sien daarna uit om die universiteit oor die lot van Wilgenhof te betrek.
Dit volg op ’n besluit van die universiteitsraad vandeesweek om die koshuis, wat vroeër vanjaar onder die soeklig gekom het, se toekoms verder te bespreek.
Sekere items wat na bewering verband hou met ontgroeningseremonies en beweerde rassisme wat in twee van die koshuis se kamers gevind is, het tot ’n yslike storm in die media gelei.
Die raad van die US het Maandag vergader en uitvoerig gedebatteer oor die aanbeveling van die rektor, Wim de Villiers, dat die Wilgenhof-koshuis in sy huidige formaat moet sluit. Hy is eenparig ondersteun deur die rektoraat, maar die aanbeveling van ’n omstrede verslag het die wind van voor gekry deur veral oudinwoners van die koshuis.
Volgens Wilgenhof se alumnivereniging is die verslag vol ongegronde en dikwels ingrypende aansprake sowel as feitefoute.
“Die drie skrywers van die verslag het opspraakwekkende mediadekking as objektiewe waarheid aanvaar en het nie ’n goeie bewysgrondslag gebied vir die bevinding dat die sluiting van Wilgenhof die enigste opsie is nie,” lui die alumnivereniging se verklaring.
Hulle sê as die raad gestem het om so ’n gebrekkige verslag te onderskryf, sou dit ’n baie gevaarlike presedent geskep het waardeur enige aktiwiteite onderworpe kon word aan uiterste sanksies op grond van min of geen bewyse van skade sonder om toe te laat dat behoorlike proses gevolg word nie.
Indien die #UniversiteitStellenbosch (US) se raad Maandag besluit het om met “so ’n gebrekkige verslag” saam te stem sou dit “ ’n baie gevaarlike presedent geskep het”. So sê Jaco Rabie, woordvoerder van die Wilgenhof-bond. https://t.co/sG2Uz4aKRP
— Netwerk24 (@Netwerk24) June 25, 2024
Een van Wilgehof se oudinwoners, die vooraanstaande boer Theo de Jager, voormalige president van die World Farmers’ Organisation (WFO) en voorsitter van Saai, FANRPAN en Agri All Africa, het op X gesê gegewe die oorweldigende reaksie wat die uitvoerende komitee van die konvokasie van die US van alumni, donateurs en personeel gekry het, is hy dankbaar dat die raad besluit het om nie die rektoraat se aanbeveling om Wilgenhof te sluit, goedsmoeds te aanvaar nie.
Gegewe die oorweldigende reaksie wat die die UK van die Konvokasie van die Univ Stellenbosch van alumni, donateurs en personeel gekry het, is ons dankbaar dat die Raad besluit het om nie die rektoraat se aanbeveling om Wilgenhof te sluit, goedsmoeds te aanvaar nie pic.twitter.com/ulXcO4G7um
— Theo de Jager (@TheoDJager) June 26, 2024
Volgens De Jager is meer stemme al uitgebring in die Stellenbosse konvokasiebestuur se peiling oor die aanbeveling om Wilgenhof toe te maak as persone wat verlede maand aan die konvokasieverkiesing deelgeneem het. Hy sê daar is groot vrae oor die integriteit van die verslag op grond waarvan die rektoraat van die US aan die raad aanbeveel om Wilgenhof te sluit.
Meer as 95 persent van die deelnemers aan die peiling het aangedui dat hulle gekant is teen die US se aanbeveling dat Wilgenhof gesluit moet word.
Meer stemme is al uitgebring in die Stellenboschse konvokasiebestuur se peiling oor die aanbeveling om Wilgenhof toe te maak, as wat verlede maand in die konvokasieverkiesing deelgeneem het! Klik hier om jou stem ook te laat tel: https://t.co/AKzsiiQN3q pic.twitter.com/84gfuxDGuf
— Theo de Jager (@TheoDJager) June 24, 2024
Wilgehof se alumi sê Wilgenhof is nie ’n plek van “wit oppergesag” soos die verslag sensasioneel beweer nie. “Om te beweer dat dit die Ku Klux Klan en Nazisme eer, is absurd. Die verslag het ’n onakkurate beeld van Wilgenhof in die publiek gevestig. Dit het ernstige benoudheid onder voormalige en huidige inwoners veroorsaak.”
Die Wilgenhof-alumini sê verder hulle is daartoe verbind om deel te neem aan prosesse wat help om Suid-Afrika se komplekse en pynlike verlede te hanteer. Hulle sê hulle was nog altyd meer as bereid om dit te doen. Dit blyk uit die feit dat die alumnivereniging tydens die aanvanklike ondersoek vroeër vanjaar voorleggings aan die paneel, insluitend ’n verskoning vir enige skade wat gedurende sy 121-jarige geskiedenis aangerig is, ingedien het.
“Die pyn wat deur oudinwoners en studente gely is, en dat die oorvertelling van sulke ervarings as ontstellend deur alumni en die universiteitsgemeenskap ontvang is, is ook tereg erken.”
Alle belangstellende en geaffekteerde persone en belanghebbendes is uitgenooi om skriftelike voorleggings in te dien oor die kwessies wat die sluiting of niesluiting van Wilgenhof tot gevolg mag hê en wat oorweeg moet word.
Daar kan ook kommentaar gelewer word wat die gevolge sou wees van die aanvaarding van die rektor se aanbeveling wat betref die herontwerp van Wilgenhof as ’n gewysigde en/of opgegradeerde koshuis en of daar alternatiewe vir die sluiting van Wilgenhof is wat redelikerwys die bekommernisse kan hanteer wat in die paneel se verslag uiteengesit is, en wat dit sou wees.
Alle voorleggings moet teen 17:00 op Woensdag 31 Julie 2024 skriftelik by hierdie skakel ingedien word: https://forms.office.com/r/ry1FJA6GqA.