Wilgenhoffers wil hof toe oor koshuis se tydelike sluiting

  • 0

Die stryd om die omstrede Wilgenhof-manskoshuis aan die Universiteit Stellenbosch (US) oop te hou gaan nou in die hof draai.

’n Groep studente en ouers gaan die Hooggeregshof in Kaapstad nader vir ’n dringende interdik om die universiteit te keer om Wilgenhof, te sluit.

Wilgenhof was vroeër vanjaar opnuut in die nuus ná die ontdekking van sekere items wat glo verband hou met beweerde geïnstitusionaliseerde rassisme in twee kamers van die koshuis vroeër in 2024.

’n Paneel van drie persone is aangestel om te ondersoek of die universiteit onaanvaarbare praktyke by Wilgenhof toesmeer.

Die paneel het bevind daar was vroeër wel onaanvaarbare praktyke by die koshuis wat herinner aan dié van die KKK en het aanbeveel dat die koshuis gesluit moet word.

Volgens Wilgenhof se alumnivereniging was die verslag wat voor die universiteitsraad gedien het, gevul met ongegronde en dikwels ingrypende aansprake, sowel as feitefoute.

“Die drie skrywers van die verslag het opspraakwekkende mediadekking as objektiewe waarheid aanvaar en het nie ’n goeie bewysgrondslag gebied vir die bevinding dat die sluiting van Wilgenhof die enigste opsie is nie,” lui die alumnivereniging se verklaring wat vroeër vanjaar uitgereik is.

Die US-raad het desnieteenstaande die afgelope Maandag besluit om die koshuis vir ’n jaar te sluit vir opgraderings, en daarna weer as ’n manskoshuis te heropen as ’n “herverbeelde en nuutgeïnspireerde” koshuis.

Die groep studente en ouers wat nou die stryd in die hof wil voortsit, meen die sluiting is onnodig en ’n skadelike ontwrigting van die huidige studente se verblyf, ondersteuningstrukture en akademiese roetine.

Die groep, genaamd die Vereniging vir die Bevordering van Wilgenhof-inwoners, se woordvoerder, Noelani King Conradie, sê die tydelike sluiting sal ’n sanksie wees wat op huidige inwoners opgelê word vir dade wat in die verlede deur individue gepleeg is.

Alumniwoordvoerder Jaco Rabie het aan Eyewitness News gesê die vereniging glo die sluiting van die koshuis dien geen doel nie.

“Dit is heeltemal buite verhouding, en dit is nie duidelik wat die universiteit beoog om te bereik deur Wilgenhof te sluit nie.”

Rabie het gesê die koshuis in sy huidige toestand is reeds inklusief.

“Hulle het ’n getransformeerde en inklusiewe ruimte waar die huidige inwoners, die alumni, die ouers van huidige inwoners, swart inwoners, swart alumni, almal oorweldigend ten gunste is van die koshuis en die rol wat dit speel in die persone wat daar woon se lewe.“

Die universiteit het gesê die koshuis sal gesluit wees vir opgradering om te voldoen aan die regering se beleid oor studentebehuising en om ’n hernude, herbedinkde en verjongde manskoshuis vir die studentegemeenskap te skep.

In ’n verklaring wat Maandagaand uitgereik is, het die US verduidelik: “Die nuwe koshuis sal Wilgenhof se konstruktiewe aspekte eerbiedig. Ons sal egter ’n definitiewe breek maak van die onaanvaarbare en geheimsinnige praktyke van die verlede.”

Om hierdie aanbevole verandering te implementeer sal die koshuis in 2025 opgraderings ondergaan. Dit sal ooreenstem met die Departement van Hoër Onderwys se standaarde vir studentebehuising by openbare universiteite. Die 121 jaar oue koshuis sal dan in 2026 heropen word, steeds as ’n manskoshuis. Dit is nog onseker of die naam verander gaan word.

Alle huidige Wilgenhof-inwoners wat aan die akademiese vereistes vir herplasing voldoen en in US-koshuise wil aanbly, sal vir 2025 in ander universiteitskoshuise gehuisves word. In 2025 sal hulle die geleentheid kry om vir 2026 aansoek te doen vir plasing in ooreenstemming met die US-koshuisplasingsbeleid, lui die verklaring.

Op sosiale media heers daar uiteenlopende menings oor die toekoms van die koshuis. Daar is groot steun vir diegene wat die hof wil nader om die tydelike sluiting van die koshuis te probeer keer, terwyl daar ook steun is vir die US-raad se besluit.

Andries Erwee het op Facebook gesê hy weet die koshuis het oor ’n lang tyd geweldig baie vir jongmans beteken. “Ek weet dat baie met my verskil, maar wat in of rondom Wilgenhof verkeerd geloop het, kan in een woord opgesom word, ‘geheimhouding’. Selfs die beste bedoelde dinge loop skeef as mense dit probeer geheim hou. Geheimhouding, wegsteek, vertroulikheid maak dit bitter moeilik om jou optrede te verdedig.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top