Winter gooi sy sneeukombers oor groot dele van die land

  • 0

Die winterseisoen het amptelik sy opwagting gemaak en Moeder Natuur het haar sneeukombers die afgelope week met mening begin regskud.

Foto: Pixabay.com

In die Wes-Kaap en suidelike dele van die Noord-Kaap het die sneeu reeds op die berge begin uitsak. Die Oos-Kaapse sneeu is ook op pad en selfs in die binneland raak dit ysig koud.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Dinsdag foto’s gedeel van sneeu by die Groot Teleskoop by Sutherland en die Koue Bokkeveld.

In die Tuinroete het stormsterk winde Maandag op verskeie plekke chaos gesaai. Foto’s van die skade wat in die Mosselbaaise munisipale distrik aangerig is, asook skade aan geboue se dakke by die Life Bay View Hospitaal en Mikeva is ook op sosiale media gedeel. In verskeie gebiede was daar kragonderbrekings as gevolg van die gure weer.

Volgens die weerdiens kan die land hom gereedmaak vir ’n yskoue begin van die winterseisoen. Die meeste sneeu het tot dusver voorgekom op die berge in die Wes-Kaap en dan ook in die Oos-Kaap, suidelike hoogliggende gebiede in die Noord-Kaap en Lesotho asook QwaQwa in die Vrystaat.

Die weerdiens sê die weersisteem wat verantwoordelik is vir die koue winterweer wat oor die land gespoel het, is ’n intense kouefront wat sedert Sondagnag oor die westelike dele van die land begin beweeg het en gelei het tot reënbuie in die suidwestelike dele van die Wes-Kaap.

Sneeu het ook by die Matroosberg-natuurreservaat naby Ceres uitgesak waar die temperatuur tot 2 grade Celsius gedaal het.

Ook die Kammanasieberge in die Klein Karoo het groot neerslae sneeu gehad en inwoners het verskeie foto’s daarvan op sosiale media gedeel.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sou temperature in die Kaapprovinsies van Woensdag af geleidelik effens warmer word. Oggendmis, koue en ryp sal egter na verwagting voortduur in die binnelandse gebiede voordat die ergste koue opklaar.

Satellietfoto’s het getoon hoe die kouefront van Dinsdag af ooswaarts beweeg, wat yskoue temperature oor die suidelike en sentrale dele van die land tot gevolg gehad het. Reënbuie het op verskeie plekke oor die suidkus van die Wes- en Oos-Kaap uitgesak en inwoners is gemaan om hulle teen die koue te beskerm.

Netwerk24 berig die kouefront het Maandag die dorp Springbok in die Noord-Kaap in ’n grou kombers toegevou. Inwoners van dié Namakwalandse dorp wat erg onder die droogte gebuk gegaan het, se blydskap was groot oor die milde reën wat daar uitgesak het.

Inwoners in die Wes-Kaap wat die afgelope maande ook onder ’n knellende droogte gebuk gaan, het die winterreën verwelkom op sosialemediagroepe. Jan Theron het op die Facebook-groep Reënval in SA gesê daar was selfs donderbuie, en hael het geval. “Ons in die Strand kry maar min donderweer maar vannag so tussen 11 en 12 toe slaan hy kliphard. Van die slae was so kwaai dat die krag plek-plek in Strand en Gordonsbaai uitgeslaan was.”

Rudolph Scharneck van Rawsonville het gesê dit reën heerlik in die Boland. “My grasperk en tuin sug van verligting,” het hy gesê en ’n video van die lekker reënbui op Facebook gedeel.

Intussen het die Departement van Water en Sanitasie in ’n verklaring gesê die watervoorrade in die Wes-Kaap lyk aansienlik beter as verlede jaar dié tyd. Die groot opgaardamme waaruit Kaapstad se water kom, is 53,28% vol, wat meer is as verlede jaar se 45,44% in dieselfde tydperk en aansienlik meer as die 20,56% toe die droogte in 2018 op sy ergste was. Oor die algemeen lyk die watervoorrade in die Wes-Kaap goed vir dié tyd van die jaar, behalwe in die dele van die Karoo wat uit die Gouritsrivier-opvangsgebied water kry.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top