Suid-Afrikaners is woedend oor ’n donker Kersseisoen wat hulle in die gesig staar nadat Eskom die afgelope week fase 6-beurtkrag aangekondig het tot verdere kennisgewing.
Energiekenners het gewaarsku die land is nader as ooit aan ’n algehele ineenstorting van die kragnetwerk wanneer die helfte van Koeberg Donderdag ook vir herstelwerk afgeskakel sou word.
Die DA sê so ’n ineenstorting sal ’n bedreiging inhou vir nasionale veiligheid, op ekonomiese en sosiale vlakke, en die lewensbestaan van miljoene Suid-Afrikaners in gevaar stel.
Die DA-leier, John Steenhuisen, sê nou weet ons hoekom Pravin Gordhan nie wou hê dat hy die kragstasies besoek nie.
Now we know why Minister Pravin Gordhan didn't want me to do oversight on the power stations!
For our full set of solutions to blackouts please visit https://t.co/CZRugu8xdz pic.twitter.com/EWIz60Z7vm
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) December 8, 2022
Die DA het opnuut ’n beroep op die regering gedoen om “gesonde verstand te gebruik” en ’n beperkte ramptoestand ten opsigte van Eskom af te kondig.
Die energiekenner Chris Yelland het op Twitter gesê dit wil voorkom asof die Nasionale Elektrisiteitskrisiskomitee (NECCOM) en sy vennote die pad van ander "War Room"-inisiatiewe volg en vasgeval raak in regeringsgeleide burokratiese komiteevergaderings en praatjies in plaas van om op onmiddellike implementeringsaksies te fokus.
Yelland sê hy kry die gevoel dat die politici en regeringsamptenare se aandag afgelei word deur politiek, Phala Phala, die ANC se komende beleidskonferensie later die maand en wat daarna gaan gebeur eerder as om op die elektrisiteitskrisis te fokus.
I get a feeling the politicians & govt officials leading the National Electricity Crisis Committee (NECCOM) established by Pres @CyrilRamaphosa are too distracted by politics, Phala Phala, the ANC electrive Conference & what comes thereafter to focus on the electricity crisis. pic.twitter.com/QP8i1dAp3Q
— Chris Yelland (@chrisyelland) December 7, 2022
“Die President se noodplan is op 25 Julie 2022 aangekondig. Dit is nou Desember, en al waarvan ons lees is Phala Phala, die ANC se verkiesingskonferensie en beurtkrag, in plaas van die implementeringsaksies wat geneem is om die elektrisiteitskrisis te hanteer.”
Energiekenner Ted Blom meen ook Suid-Afrikaners moet hulle gereed maak vir hoër fases van beurtkrag.
"Fase 8 is baie moontlik en gegewe (die) Koeberg (-situasie) sal beurtkrag outomaties na fase 7 lei tensy ’n wonderwerk gebeur. Daar is geen dieselkussing om die vryval te keer nie. Net God kan ons red," het hy gesê.
Ted Blom warned about Stage 8 in December. @tedblom Eskom is currently warning that SA might go to Stage 8 in December. 💔😩 #Stage_6 #LoadsheddingUpdate pic.twitter.com/KRh3x4uZvo
— 🇿🇦El 🇿🇦 (@El123V) December 8, 2022
Eskom het gewaarsku dat dinge heel waarskynlik nie makliker sal word oor die volgende 12 maande nie. Dit was voordat die helfte van Koeberg Donderdag ook afgeskakel sou word vir noodsaaklike herstelwerk.
Nog ’n eenheid is Woensdagaand by die Kusile-kragstasie afgeskakel vir instandhouding en hervulling. Eskom-woordvoerder Sikonathi Mantshantsha het gesê dit sal kapasiteit verder verminder.
"’n Eenheid by Kusile sal ook vir ’n tydperk van sowat ses maande buite werking wees terwyl die herstelwerk daar gedoen word," het hy gesê.
Die kragonderbrekings sal regdeur die vakansie voortduur.
Intussen het Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, Eskom volgens News24 daarvan beskuldig dat Eskom “aktief agiteer vir die omverwerping van die staat” terwyl hulle voortgaan om beurtkrag te implementeer.
Mantashe het Donderdag by ’n ondertekeningseremonie vir 13 nuwe onafhanklike kragprojekte gesê beurtkrag word erger as staatskaping weens die manier waarop dit mense direk raak en ’n tol op die ekonomie eis.
Die minister het gesê Eskom moet bloot sy bedryfsprobleme regstel. Na sy mening behoort ses maande se gefokuste instandhouding genoeg tyd te wees om die saak aan te spreek.
Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, sê in sy verklaring terwyl Ramaphosa se luitenante besig is om oortyd te werk om hom van aanspreeklikheid oor die Phala Phala-skandaal te beskerm, is die land deur Eskom tot fase 6-beurtkrag gedwing.
“Die onteenseglike werklikheid is dat die ANC-regering lankal tou opgegooi het om ’n blywende oplossing vir die elektrisiteitskrisis te vind, en die land bevind hom nou op die drumpel van ’n totale ineenstorting van die netwerk. Ongelukkig sal die feesligte afgeskakel word namate mense gebuk gaan onder die werklikheid van minister Pravin Gordhan en die ANC-regering se mislukking.”
Dit is volgens die DA waarskynlik dat Eskom beurtkrag in die volgende paar dae verder sal moet eskaleer.
“Die reaksie op die elektrisiteitskrisis moet nou as ’n saak van nasionale veiligheid hanteer word, met die dringendheid, omvang en fokus van ’n oorlogsituasie.”
Die onmiddellike uitkoms van ’n beperkte ramptoestand ten opsigte van Eskom sal die kragvoorsiener volgens die DA in staat stel om ramphulpfondse van ander departemente en regeringshulpbronne te verkry en te herprioritiseer om die oopsiklusturbines aan die gang te hou.
Die versuim om ’n nasionale veiligheidsbenadering tot die elektrisiteitskrisis te volg het volgens die DA reeds ’n aansienlike ekonomiese koste op die land uitgeoefen en die vooruitsigte om die hoë werkloosheidsyfer aan te spreek belemmer.