Woede omdat regering burgers wil ontwapen

  • 0

Suid-Afrikaners is die harnas in oor die regering se voornemens om hulle van die reg te ontneem om ’n vuurwapen vir selfverdedigingsdoeleindes aan te skaf. 

Indien die regering se planne slaag, sal gewone burgers nie meer mag aansoek doen vir ’n vuurwapen om hulleself mee te beskerm nie. Selfverdediging sal nie meer as rede aangevoer kan word om ’n vuurwapen te besit nie.

AfriForum, die DA en die Vryheidsfront Plus het reeds te kenne gegee dat hulle die beoogde wysigings op die bestaande vuurwapenwetgewing wat die afgelope naweek vir kommentaar oopgestel is, hand en tand gaan beveg.

Die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, sê die voorstel is nie net roekeloos nie, maar plaas die lewens van baie Suid-Afrikaners in gevaar terwyl die land soos ’n oorlogsveld van misdaad lyk.

Die DA het die parlement in ’n verklaring versoek om dringend aandag te geen aan hierdie “drakoniese wetgewing”.

AfriForum sê in ’n verklaring die voorgestelde wysigings is irrasioneel en roekeloos, veral aangesien dié konsep burgers ontneem van die vermoë om ’n vuurwapen vir selfverdedigingsdoeleindes te besit. Verder blyk dit ook dat sportskuts en jagters aan die kortste ent gaan trek met die voorgestelde wysigings.

AfriForum sê hulle sal binnekort ’n veldtog bekendstel om hierdie drakoniese wysigings aan die vuurwapenwetgewing te beveg. Die DA het reeds met so ‘n veldtog begin.

Volgens AfriForum moet burgers oor die vermoë beskik om hulself en hulle gesinne, binne die raamwerk van die wet, teen misdadigers te beskerm. Hierdie konsep, in sy huidige formaat, sal tot gevolg hê dat burgers weerloos gelaat word in ’n land waar die Suid-Afrikaanse Polisiediens reeds ruiterlik erken het dat hulle nie oor die vermoë beskik om die burgers van die land teen ’n misdaadvlaag te verskans nie.

“AfriForum sal hierdie aanval op gemeenskappe se weerbaarheid stopsit. Die konsepwysigingswet sal met hand en tand beveg word en sal AfriForum se kernprioriteit wees,” het Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder van die gemeenskapveiligheidsafdeling gesê.

Die VF Plus het ook reeds aangekondig dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om die beoogde wetswysiging te keer.

Die party beskuldig die regering in ’n verklaring daarvan dat “die ontwapening van die burgery” misdadigers sal bevoordeel en misdaad sal bevorder wat dramaties sal toeneem.

“Die voorstel dat die besit van vuurwapens vir selfverdediging as kategorie geskrap moet word, sal Suid-Afrikaanse burgers kwesbaar laat teen misdaad, en ’n paradys skep vir misdadigers,” sê die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald.

Hy sê met ’n moordsyfer vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld (wêreld: 7/100 000; Suid-Afrika: 36/100 000) en die omvang van roof en plaasaanvalle, is dit noodsaaklik dat burgers vuurwapens moet kan besit om hulself te verdedig.

Die probleme in die polisie en die onvermoë om misdadigers suksesvol te vervolg dien volgens Groenewald as bewys dat die staat nie die burgers behoorlik kan beskerm nie. Hy sê hierdie voorstel is ’n klap in die gesig van wettige vuurwapeneienaars en die burgery.

“Dit is duidelik dat die minister van polisie, Bheki Cele, die blaam vir sy eie onvermoë van behoorlike en effektiewe vuurwapenbeheer deur die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) na wettige vuurwapeneienaars wil verskuif.”

Die Minister het reeds in 2018 in die parlement oor die aangeleentheid gereageer op ’n amptelike vraag van Groenewald.

Groenewald het gevra of die Minister van voorneme is om die kategorie om ’n vuurwapen vir selfverdediging te besit te laat verwyder, het Cele geantwoord dat hierdie kategorie strenger gemaak gaan word. Hy het as rede aangevoer dat hy die toename in onwettige vuurwapenbesit wil verminder. Hierdie rede getuig volgens Groenewald van onkunde deur die Minister. Onwettige vuurwapens neem na bewering toe weens onwettige wapenhandel, diefstal by polisiekantore en swak bestuur van die SVR.

“Met die skrapping van die kategorie vir selfverdediging, maak die Minister die bepalings nie strenger nie, hy verbied dit in effek.”

Die jongste misdaadsyfers is volgens die VF Plus ’n bewys dat die polisie misdaad, en veral geweldsmisdaad, nie onder beheer het nie en dus sy grondwetlike plig versuim om die mense van Suid-Afrika en hul besittings te beskerm.

“Indien die staat jou nie kan beskerm nie, het jy die volste reg om jou en jou gesin met al die moontlike middels te beskerm, insluitend die besit van ’n vuurwapen ter selfverdediging. Dit is ook ’n gemeenregtelike reg wat elkeen het,” sê Groenewald.

Hy sê die regering moet ophou om homself te mislei deur die indruk te wil skep dat vuurwapens die oorsaak is van die hoë moordsyfer in Suid-Afrika. Hierdie bewering word volgens hom misbruik en die regering gebruik dit as rookskerm om sy eie onbevoegdheid te verbloem.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top