Suid-Afrikaners is woedend omdat Eskom aandring op ’n tariefverhoging van meer as 32 persent terwyl die land gebuk gaan onder die ergste beurtkrag in menseheugenis.
Ontstoke elektrisiteitsverbruikers het hulle frustrasies oor Eskom die afgelope week op sosiale media uitgestort, wat daartoe gelei het dat sosialemediaplasings oor die kragverskaffer gegons het, waarvan die oorweldigende meerderheid uiters negatief teenoor Eskom was.
Social media postings about Eskom surged to a record this week as South Africans face more than four hours of power cuts at a time https://t.co/mlvMWpvmEh
— Bloomberg (@business) September 21, 2022
Terwyl die land meer as vier uur se kragonderbrekings op ’n slag in die gesig staar omdat die staatsbeheerde nutsmaatskappy nie genoeg elektrisiteit uit sy ou en swak onderhoude aanlegte kan produseer om in die vraag te voorsien nie, sê Eskom die huidige tariewe is nie hoog genoeg om die broodnodige instandhouding te doen nie.
Die land het vanjaar reeds meer as 107 dae beurtkrag verduur, wat meer is as ooit tevore in een jaar.
Eskom se tariefverhogingsaansoek van 32,02% is volgens die DA immoreel en heeltemal uit voeling met die lewenskoste-nagmerrie wat die meerderheid Suid-Afrikaners ervaar.
Met 2022 op koers om die ergste beurtkragjaar op rekord te word, is dit eenvoudig onaanvaarbaar vir Eskom om hoë tariewe te hef op ’n produk wat hulle nie kan lewer nie, het die DA Woensdag in ’n verklaring gesê .
Een van Eskom se senior konsultante in die tesourie-afdeling het Woensdag aan die nasionale energiereguleerder (Nersa) gesê beurtkrag sal nog langer nodig wees as die tariefsituasie nie reggestel word nie.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het reeds vroeër ’n skriftelike voorstel by Nersa ingedien om beurtkrag in ag te neem voordat die elektrisiteitstarief verander word.
Outa het kommer uitgespreek oor Eskom se verwagting dat hy volgende jaar weer ’n massiewe verlies van R15 miljard in die gesig staar, maar daarna opbrengste vir die volgende twee jaar van tussen R15 en R23 miljard wil maak.
And #OUTA says the bottom line is that South Africa cannot afford such an increase, however @Eskom_SA justifies it. Read about our presentation to @NERSA_ZA on this here: https://t.co/t75l0ExxPk https://t.co/oR5LjAWSGe
— OUTA (@OUTASA) September 20, 2022
Die organisasie het gesê Suid-Afrikaners kan nie gedwing word om 100% van hul elektrisiteitsrekeninge te betaal wanneer hulle net die helfte daarvan kan gebruik nie.
Eskom se tariefverhogingsaansoek is volgens die DA in wese ’n misbruik van die markoorheersing van ’n monopolie en ’n deursigtige poging om te oorvergoed vir ’n gebrek aan investering in nuwe opwekkingskapasiteit.
Die party sê as Nersa hierdie buitensporige tariefaansoek, wat vier keer die huidige inflasiekoers is, goedkeur, sal die sosio-ekonomiese impak op die armes onmiddellik en rampspoedig wees.
Today the DA is fighting to reject Eskom’s 32% tariff increase application at NERSA public hearings. The hike is immoral and out of touch with the cost of living crisis.
Why must you pay more for the electricity you don't have?
Read here: https://t.co/QA5LZm6S4i#CutFoodCosts pic.twitter.com/jK5rYQDFjB
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 21, 2022
“Energie-armoede sal eksponensieel toeneem namate mense van die netwerk ontkoppel weens onbekostigbaarheid; klein besighede sal vou; tienduisende sal by die geledere van werkloses aansluit en Suid-Afrika sal die gevaar van moontlike sosiale onrus loop.
“Dit is die verwoestende koste wat Eskom Suid-Afrikaners en ons sukkelende ekonomie vra om te dra deur hierdie aansoek wat moontlik die hoogste op rekord is wat nog ooit by Nersa ingedien is,” meen die DA.
Hoe enigiemand kan verwag dat mense moet betaal vir elektrisiteit wat hulle nie kry nie, is bo die verstand van enige redelike mens, sê die DA-skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia.
Hy sê as Eskom se aansoek toegestaan word, dit ’n situasie sal skep waar arm huishoudings gedwing sal word om te kies tussen kos op die tafel sit en vir elektrisiteit betaal. Dit is ’n keuse wat geen gesin behoort te maak nie.
“Met stygende voedselpryse sukkel die helfte van die bevolking om genoeg voedingstowwe in hul liggame te kry. Inflasie het in Julie tot 7,8% gestyg, die hoogste sedert Mei 2009, met voedselprysinflasie op ’n hoogtepunt van 8,6% in Junie, wat groot druk op lae-inkomste-huishoudings se begrotings geplaas het.”
Die DA sê in wese word huishoudings en besighede gevra om vir elektrisiteit te betaal ongeag of hulle dit kry of nie, en dit is niks anders as “korporatiewe afpersing” nie.