..........
“Die beweerde korrupsie waarna die SARK verwys, sluit in die toekenning van kontrakte aan mense wat verbintenisse met die regering het om COVID-19-toerusting te voorsien, asook mense wat voorheen in die staatsdiens gewerk het.”
..........
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) sê hulle is met afgryse vervul deur die onthullings van skaamtelose plundering van fondse wat bestem is vir die bekamping van COVID-19 en die beweerde onreëlmatighede met tenderprosesse wat daarmee verband hou. “Dit is skokkend dat belastingbetalers se geld wat veronderstel is om lewens te red tydens die COVID-19-pandemie misbruik word om die hele land op dié manier te verlam.”
Die SARK sê in ’n skerp-bewoorde verklaring die geld word skaamteloos tot hulle eie voordeel deur gulsige individue misbruik wat soos aasvoëls en hiënas om ’n dooie karkas sirkel.
Die COVID-19-pandemie word deur hierdie “gierige individue” as geleentheid aangegryp om hulself te verryk ten koste van die armes, sê die kerkleiers. “Hulle het diep in korrupsie verval. Die Here sal hulle sonde teen hulle hou, Hy gaan hulle laat boet vir hulle oortredings,” sê die SARK in hul verklaring na aanleiding van die Bybelteks in Hosea 9:9.
Foto:Pixabay.com
Die beweerde korrupsie waarna die SARK verwys, sluit in die toekenning van kontrakte aan mense wat verbintenisse met die regering het om COVID-19-toerusting te voorsien, asook mense wat voorheen in die staatsdiens gewerk het.
President Ramaphosa het diegene wat wins probeer maak uit koronavirusnoodfondse ook beskryf as ’n klomp hiënas wat hulle gewonde prooi omsingel. In sy weeklikse brief aan Suid-Afrikaners verdoem hy die optrede van staatsamptenare wat hulle invloed gebruik om regeringskontrakte vir onder meer persoonlike beskermende drag vir die koronaviruspandemie te bekom.
From The Desk of the President - Monday, 03 August 2020 - https://t.co/r2uWwf9fQR Corruption during a national disaster is a particularly heinous type of crime, and perpetrators are going to be dealt with decisively and harshly. pic.twitter.com/D47hmrkZPl
— Presidency | South Africa ?? (@PresidencyZA) August 3, 2020
Ramaphosa het gewaarsku dat diegene wat die wet oortree om hulleself te verryk, vervolg sal word, ongeag wie hulle is of wie hulle ken. Dit volg nadat onder meer die presidensiële woordvoerder Khusile Diko se man, die LUR vir Gesondheid, Bandile Masuku, en twee van die ANC-sekretaris-generaal, Ace Magashule, se seuns na bewering verbind is met kontrakte van miljoene rand vir beskermende toerusting (rsg.co.za).
Die SARK sê die jongste bewerings het as ’n groot teleurstelling vir die hele land gekom. Die SARK sê verder die land se geskiedenis van korrupsie en die swak rekord om diegene wat daarvoor verantwoordelik is, tot verantwoording te bring, help geensins om vertroue in te boesem dat daar vorentoe eerlik omgegaan sal word met enige geld wat toegewys word om die COVID-19-pandemie te help beveg of om finansiële verligting te bring vir diegene wat dit nodig het nie.
Foto: Canva.com
Die kerkleiers het ’n beroep op die President en sy regering gedoen om baie meer te doen om die euwel van korrupsie te bekamp en wesenlike optrede te beloof. Hulle sê die land wil sien dat mense in hegtenis geneem en gevonnis word vir hul dade. Die kriminele wat daarvoor verantwoordelik is, het volgens die SARK bewys dat hulle nie eers afgeskrik word deur ’n vernietigende globale pandemie of mense wat besig is om van die honger om te kom nie.
Ramaphosa sê in sy nuusbrief ’n multidissiplinêre benadering moet gevolg word om die skuldiges vas te trek. Hy sê verskillende wetstoepassingsagentskappe is daarby betrek. Hy het ook ’n beroep op burgerlike organisasies en individue gedoen om hulle samewerking te gee sodat die skuldiges aan die pen kan ry.
..........
“Die SARK sê verder die land se geskiedenis van korrupsie en die swak rekord om diegene wat daarvoor verantwoordelik is, tot verantwoording te bring, help geensins om vertroue in te boesem dat daar vorentoe eerlik omgegaan sal word met enige geld wat toegewys word om die COVID-19-pandemie te help beveg of om finansiële verligting te bring vir diegene wat dit nodig het nie.”
..........
Hy sê hy sal elke ses weke tussentydse verslae oor die ondersoek ontvang. As daar bewyse van misdadigheid is, moet diegene wat daarvoor verantwoordelik is, so gou as moontlik vervolg word.
Tydens ’n spesiale blitsdebat wat hy oor die saak aangevra het by die speaker van die parlement, het die tussentydse DA-leier, John Steenhuisen, president Ramaphosa uitgedaag om oop kaarte te speel in die parlement en parlementslede se vrae oor die beweerde COVID-19-korrupsie in die parlement te beantwoord.
DA interim leader John Steenhuisen has challenged President Cyril Ramaphosa to face the nation in Parliament, and answer questions from MPs about alleged #Covid19 corruption. Steenhuisen has written to the Speaker of the National Assembly to request a snap debate on the matter. pic.twitter.com/m2LkfI5srl
— CapricornFM News (@CapricornFMNews) August 3, 2020
Die skrywer Eusebius McKaiser het op Twitter gesê daar moet doelgerig op gefokus word om korrupsie te beëindig en te red wat daar nog te red is uit die plundering. Hy sê die plunderaars moet strafregtelik, eties en polities verantwoordelik gehou word vir hul dade en daar moet vierkantig op die COVID-19-pandemie gefokus word.
We must focus relentlessly on ending corruption, recovering what's left of the loot, & insist on the looters being held legally, ethically and politicallly accountable. We must also focus squarely on the covid-19 pandemic right now.
Marital stories distract.
— Eusebius McKaiser (@Eusebius) August 3, 2020
Lees ook
Buro: NM