Woede oor Ramaphosa se "skaamtelose misbruik" om stemme te werf

  • 0

Minstens drie politieke partye wat ’n invloed kan uitoefen op die uitslag van vandag (Woensdag) se verkiesingsuitslae, is woedend vir president Cyril Ramaphosa omdat hy sy amp as president volgens hulle misbruik het om steun vir die ANC te werf.

Die DA en die MK het aangekondig dat hulle hofstukke ingedien het oor die aangeleentheid. Die Vryheidsfront Plus beskuldig Ramaphosa ook van skaamtelose ANC-opportunisme en misbruik van staatshulpbronne.

Dit volg nadat Ramaphosa die land Sondagaand regstreeks op televisie toegespreek het oor die verkiesing.

Die DA-leier John Steenhuisen, het in ’n verklaring gesê sy party sal ’n aansoek by die Kieshof teen Ramaphosa indien en hom in sy persoonlike hoedanigheid verantwoordbaar hou vir die oortreding van die verkiesingsgedragskode.

Die joernalis Pieter du Toit het op X gesê Ramaphosa se toespraak was duidelike misbruik deur die President, en ’n laaste en onbeskaamde boodskap aan kiesers om die sittende party te ondersteun. “Die lyn tussen party en staat is lankal uitgewis,” sê Du Toit in sy twiet.

Die verkiesingskode bepaal onder andere dat geen persoon in ’n magsposisie dit mag misbruik om die uitslag van ’n verkiesing te beïnvloed nie.

Die partye beweer dat Ramaphosa onder die dekmantel van sy  “toespraak aan die nasie” die hoogste amp in die land misbruik het en die verkiesingsgedragskode oortree het deurdat hy lugtyd wat aan geen ander party gegun is nie, op staatskoste misbruik het om op ’n flagrante wyse voorspraak vir die ANC te maak.

Steenhuisen sê Ramaphosa se manipulasie was sinies, berekend en ontwerp om die uitslag van die verkiesing te beïnvloed.

“Dit is nie die eerste keer dat Ramaphosa sy korrupte politieke party bo Suid-Afrika gekies het nie. As president moes hy van beter geweet het en moet tot verantwoording geroep word.”

Steenhuisen sê Ramaphosa het deur sy oortreding van die Kieswet duidelik te kenne gegee dat die ANC bereid is om die land se grondwetlike demokrasie te ondermyn om aan mag te probeer vasklou. “Dit moet dien as ’n dringende waarskuwing aan al ons demokratiese instellings, insluitend die OVK.”

Steenhuisen vra as Ramaphosa bereid is om sy amp vir beperkte politieke gewin te misbruik nog voordat die ANC sy meerderheid verloor het, wat sal hy anders bereid wees om te doen om die wil van die mense te ondermyn en aan mag vas te klou nadat kiesers Woensdag die ANC se meerderheid weggeneem het?

MK het Dinsdag ook aangekondig dat hy hofstukke ingedien het teen Ramaphosa se toespraak Sondag aan die nasie.

MK sê in hulle verklaring die desperaatheid en erns van Ramaphosa se optrede moet nie onderskat word nie. Die party sê deur staatstrukture vir partypolitieke doeleindes te misbruik, ondermyn Ramaphosa en die ANC nie net die beginsels van ’n vry en regverdige verkiesing nie, maar dit het ook die potensiaal om die uitkoms van die verkiesing te beïnvloed.

Die party vra in hulle hofstukke dat die Kieshof die ANC as politieke party deregistreer en dat daar kriminele klagte teen Ramaphosa ingedien word met ’n moontlike boete wat groot genoeg is om die erns van die saak te beklemtoon, met die moontlikheid van tronkstraf.

Die leier van die  Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het in sy reaksie gesê  Ramaphosa se “gesprek met die mense van Suid-Afrika” was blote politieke opportunisme en ’n skaamtelose misbruik van staatshulpbronne om ’n sinkende ANC-skip voor Woensdag se verkiesing te probeer red.

Groenewald sê in sy verklaring die toespraak was onbedekte voorbrandmaking om vir die ANC te stem met die “onreg van die verlede” as agtergrond. “Daar kan geen twyfel bestaan nie dat hierdie misbruik van die SABC bloot om die ANC se politieke oorlewing was.”

Volgens die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zilla, is die enigste manier om die situasie reg te stel om die getal stemme van die ANC deur middel van ’n hofbevel te verminder. Die DA voer aan dat ’n vermindering van 1%  van die totale aantal stemme wat die ANC ontvang, regverdig sou wees.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top