Woede oor vroueslaner se ligte vonnis

  • 0

Suid-Afrikaners is woedend oor die ligte vonnis waarmee ’n selferkende vrouelslaner weggekom het.

Die sakeman Jaco Swart is die afgelope week skuldig bevind aan aanranding met die doel om sy vervreemde vrou, Nicoleen, ernstig te beseer. Die Pretoria-Noord-Streekhof het Swart gevonnis tot ’n boete van R20 000 en drie jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.

Suid-Afrikaners, onder wie ’n aantal bekendes, het hul verontwaardiging uitgespreek oor Swart wat die tronk ontduik het, nadat snitte van hoe wreed hy sy vrou geslaan het, soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

“Ek kyk die #JacoSwart video’s en bewe onbedaarlik van woede. Hoe regverdig jy enigsins hierdie gewelddadige gedrag? Om te sien hoe jou kind só verniel word aan die hand van ’n man wie jy vertrou het! Watse saak het twee kante? #GBV,” het die radio- en TV-persoonlikheid Lynette Francis-Puren op Twitter geskryf.

Haar sentiment is deur verskeie ander Suid-Afrikaners gedeel. Die meeste mense meen die regstelsel het slagoffers van geweld met hierdie uitspraak erg in die steek gelaat.   

“Kyk die video tussen die karre. Hul seun staan en kyk na die mishandeling! Die staat het slagoffers van mishandeling in die steek gelaat. Die staat het die kinders in die steek gelaat. Die seun staan en kyk hoe sy ma geslaan word en die staat gee vir hom die boodskap dat dit ok is!?,” het een van die Twitterarti, Evette Lesch, in haar reaksie gesê.

Die voormalige joernalis Barry Bateman, wat hom onlangs by AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangesluit het, het ook op sosiale media uitgevaar teen die vonnis en het die video’s waarin Swart se vrou met die vuis in die gesig geslaan word, weer op sy profiel gedeel.

“Die beeldmateriaal het die hof nie te sien gekry nie. Vir hierdie geslagsgebaseerde geweld is Jaco Swart ’n boete van R20 000 en ’n opgeskorte tronkstraf opgelê,” het hy getwiet.

In ’n tweede video kan gesien word hoe Nicoleen deur ’n man geskop word.

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het Nicoleen kragtens ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak verteenwoordig.

Die oudrugbyspeler Kobus Wiese het in sy reaksie op Twitter gesê:  “Jaco Swart is nie net ’n lafaard nie, maar ons regstelsel is ’n verleentheid, om die minste te sê!” Wiese sê R20 000 boete is beledigend en maak ’n bespotting van alles waarvoor ordentlike mense staan ​​in die stryd teen geweld op vroue en kinders.

Swart het skuldig gepleit op twee klagtes nadat hy in die gesig gestaar is deur ’n skynbaar onaanvegbare saak wat beeldmateriaal van sy gewelddadige misdrywe insluit. Kringtelevisiebeeldmateriaal van hul besigheidsperseel wys hoe Swart sy vrou in 2018 slaan, stoot en skop. Van hierdie wrede aanvalle het voor die paartjie se twee kinders plaasgevind.

Die saak is voorheen van die rol geskrap. Daarna het Nicoleen en haar familie die privaatvervolgingseenheid om hulp genader. Die hoof van die eenheid, advokaat Gerrie Nel, en sy span het vertoë gerig aan die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) en het aangedui dat hulle bereid is om privaat vervolging in te stel. Daarna het die DOV in Mei 2021 beveel dat die beskuldigde summier vervolg moet word.

Die aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aansoek gedoen dat die beeldmateriaal toegelaat moet word as verswarend ten opsigte van vonnis, maar die hof het dit verbied nadat die verdedigingspan die egtheid daarvan bevraagteken het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê hulle het gehoop dat meer gedoen sou word om toe te sien dat die beeldmateriaal op rekord geplaas word sodat die landdros eerstehands Swart se gewelddadige optrede teenoor sy vrou kon sien.

Na afloop van die verrigtinge het Nicoleen gesê: “Alhoewel ek teleurgesteld is in die vonnis wat die hof opgelê het, is ek verheug oor die skuldigbevinding. Dit stuur ’n sterk boodskap uit aan vrouens dat hulle moet opstaan teen geslagsgebaseerde geweld en dat daar altyd ’n gewillige oor is wat bereid is om te luister.”

Nel meen: “Ons word gekonfronteer met die lippediens van die strafregstelsel teen geslagsgebaseerde geweld, asook ’n gebrek aan toewyding en bekwaamheid om na behore na die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld om te sien. Ons wil egter Nicoleen Swart se lof besing omdat sy besluit het om nie ’n slagoffer te wees nie, maar haar stem te laat hoor.”

IOL berig ’n woordvoerder van die NVG, Lumka Mahamjana, het gesê dit is nie ’n slegte vonnis nie.

“Dit is eintlik ’n goeie vonnis, want wat dit eintlik beteken is dat hy R20 000 betaal of vir drie maande tronk toe gaan, en sou hy oor vyf jaar aan aanranding skuldig bevind word, gaan hy vir drie jaar tronk toe.”

Sy het verduidelik dat mense wat aan aanranding skuldig bevind word, gewoonlik net ’n boete opgelê word; in hierdie geval was daar ’n boete en ’n opgeskorte vonnis.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top