...
“Dit is wat ons aan swart seuns doen.”
...
Die Universiteit Stellenbosch (US) het met ’n volledige ondersoek begin na ’n voorval waar ’n wit student na bewering by ’n swart student se kamer by die koshuis ingebreek en op sy besittings geürineer het.
’n Video van die voorval het die afgelope naweek soos ’n veldbrand op sosiale media versprei en woedende reaksies onder studente uitgelok.
Die universiteit se senior direkteur van studentesake, Choice Makhetha, het Maandag aan die media gesê die oortreder is van die kampus verwyder toe die ondersoek begin het.
Die wit student is Maandag geskors. ’n Woordvoerder van die US, Martin Viljoen, sê die universiteit veroordeel die voorval ten sterkste.
Hy sê ’n verdere vinnige maar gedetailleerde ondersoek sal die finale uitkoms bepaal. “Uitsetting en/of kriminele aanklagte word nie uitgesluit van die moontlike beskikbare opsies nie, en sal afhang van die ondersoek se bevindinge,” het Viljoen gesê.
Woedende studente het Maandag buite Huis Marais by die US betoog na aanleiding van die voorval.
Angry students outside Huis Marais at Stellenbosch University, protesting following an incident in which a white student broke into a black student's room at the residence and urinated on his property. "Disgusting," some say. @News24 @TeamNews24 pic.twitter.com/zyoPk8ZLN8
— Tammy Petersen (@TammyPetersen87) May 16, 2022
Die slagoffer het volgens berigte geslaap toe hy om 04:00 ’n geraas in sy kamer hoor. Toe hy wakker word, het hy glo ’n ander student in sy kamer gevind wat besig was om op sy boeke en skootrekenaar te urineer. Toe hy hom vra wat hy doen, was sy reaksie na bewering: “Dit is wat ons aan swart seuns doen.”
Die US se Studenteraad (SR) sê in ’n verklaring dat die studenteliggaam bewus gemaak is van die voorval en dat hulle die geaffekteerde student sal bystaan.
Volgens die individu wat die video gedeel het, was daar geen woordewisseling of iets gedoen om die wit student uit te lok nie. Vrae is egter ook geopper oor hoekom die deur nie gesluit was nie en waar die kamermaats was (indien hy enige het).
Swart studente op Stellenbosch het voorheen ook verhale van beweerde rassisme op die kampus gedeel. Hulle beweer dit is nie uitsonderlik dat daar op grond van ras gediskrimineer word nie.
Op sosiale media het dit behoorlik gegons oor die voorval. “Stellenbosch verteenwoordig alles wat fout is met ons land. Dit is een instansie wat heeltemal behep is met die behoud van wit oppergesag,” het @AbutiMoshikwa getwiet.
“Al wat die universiteit gaan doen is om ’n skriftelike verskoning uit te reik en dan gebeur dit later weer,” het ’n ander student gekla.
Die South African Students Congress (Sasco) het ook ’n beroep op die universiteit gedoen vir vinnige geregtigheid vir “die vernedering wat gely word deur ’n medestudent, wat steeds deur die hele beproewing getraumatiseerd is”.
Sasco sê enigiets behalwe skorsing en potensieel kriminele aanklagte sal beskou word as ’n onreg. Hulle sê die “rassistiese kriminele daad” verdien die hoogste straf.
Die SR se voorsitter, Viwe Kobokana, het studente verseker dat die SR aktief met alle belanghebbendes saamwerk om te verseker dat al die nodige prosedures gevolg word, en dat ondersteuning aan die geaffekteerde student gebied word.
Kobokana sê die saak is reeds by die universiteit se Gelykheidseenheid aangemeld en aan ’n ondersoeker by Studentedissipline oorhandig. “Ons sal soveel moontlik doen om te verseker dat die uitkomste daarvan ooreenstem met die erns van hierdie situasie.”
Sy sê wat in Huis Marais gebeur het, was ’n tipiese voorbeeld van die optrede wat gemarginaliseerde gemeenskappe, en in hierdie geval swart studente, moet trotseer.
"Ons rol, as die SR, is in so ’n geval tweeledig: om te verseker dat die student ondersteun word deur psigoterapeutiese dienste te organiseer, hulle by te staan met vervoer huis toe indien hulle sou wou, en die beskadigde eiendom te vervang.
"Tweedens, om te verseker dat openlike dade van rassisme en diskriminasie institusioneel aangespreek word.”
Die EFF het ook ’n verklaring oor die insident uitgereik en dit sterk veroordeel.