Woedende Suid-Afrikaners wil strate toe oor beurtkrag

  • 0

Suid-Afrikaners is keelvol vir Eskom se voortslepende beurtkrag en die regering se klaarblyklike onvermoë om iets daaraan te doen. Politieke partye en burgerlike organisasies beplan om die strate in te vaar om hul misnoeë oor die situasie uit te spreek.

President Cyril Ramaphosa het die naweek bekend gemaak dat hy sy buitelandse besoek aan die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, kanselleer om aandag te gee aan die kragkrisis wat besig is om kritieke afmetings aan te neem.

“Die President belê tans ’n vergadering met leiers van politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word, die Nasionale Energiekrisiskomitee (Neccom) en die Eskom-direksie,” het sy woordvoerder gesê.

Politieke partye soos die DA en die EFF beplan optogte na die ANC se hoofkantoor, Luthuli-huis in Johannesburg, en die Uniegebou in Pretoria om hul woede te wys, terwyl burgerlike organisasies ook planne beraam.

Die hutsmerk  #NationalShutdown wat Suid-Afrikaners aanmoedig om protes aan te teken gons al sedert die naweek op Twitter.

#StandUpSA is nog ’n hutsmerk op Twitter wat vra vir ’n protesaksie teen Eskom.

’n Betoging word vir 2 Februarie vanaf die Sunninghill-taxi-staanplek na Eskom se Megawatt-park in Sandton beplan, terwyl planne ook gemaak is om in Kaapstad te betoog.

John Steenhuisen, die DA-leier, het gesê die party reël ’n optog na die ANC-hoofkwartier op 25 Januarie teen die “ANC-gemanipuleerde krisis”.

Julius Malema, die EFF-leier, het gesê: “Ons is ons eie bevryders; ons moet die ANC uit die kussings lig, maar selfs voor dit moet Ramaphosa met onmiddellike effek val en uit sy amp gestoot word.”

Die DA doen in ’n verklaring wat die naweek uitgereik is, ’n beroep op Suid-Afrikaners om die strate in te vaar teen die ANC se fase 6-beurtkrag en elektrisiteitsprysverhogings.

Die party het alle Suid-Afrikaners genooi om  op 25 Januarie by hulle aan te sluit om hul woede uit te spreek oor die ANC se “vernietiging van die land se energie-infrastruktuur en ekonomie”, en om dringende oplossings vir hierdie eskalerende krisis te eis.

“Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om by ons aan te sluit terwyl ons opstaan ​​teen dekades van mishandeling deur die ANC. Dit is tyd om ’n verenigde stryd te voer teen die party wat hierdie krisis veroorsaak het. Suid-Afrika moet die ANC in geen onsekere terme nie wys dat ons verenig is teen hul onverskillige en onregverdige behandeling van huishoudings en besighede, en dat ons dit nie langer sal aanvaar nie.”

Die DA sê in hulle verklaring hulle is keelvol daarvoor om vir ANC-korrupsie en wanbestuur te betaal. “Ons aanvaar dit nie, en ons kan nie die 18,65%-verhoging vanjaar of die 12,74% volgende jaar bekostig nie, wat ’n totale verhoging van 33,77% oor die volgende twee jaar is.

“Dit is tyd om vir die ANC te wys dat ons nie aanvaar dat hy altyd die opsie kies wat vir gewone Suid-Afrikaners die pynlikste is en vir hulself die minste, naamlik beurtkrag en prysstygings in dié geval, wanneer hulle die krane vir hul eie korrupsie moet toedraai nie.”

Die DA eis die ontbondeling van Eskom en privatisering van die meeste daarvan, die opening van die elektrisiteitsmark vir private mededinging, die inbring van vaardige ingenieurs, en die vrystelling van Eskom en ander energieprodusente van alle omslagtige lokalisering en SEB-reëls.

“Ons is moeg vir ’n president wat leë beloftes maak en dan verantwoordelikheid ontduik en die slagoffer speel. Genoeg is genoeg. Dit is tyd om mag aan die mense terug te gee, en die enigste manier om dit te doen is om die ANC in 2024 uit die mag te stem,” het John Steenhuisen gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top