Die tweespalt in die ANC dreig al hoe meer om soos ’n vuurspuwende vulkaan tot uitbarsting te kom. ’n Woedende oud-president Jacob Zuma dreig nou dat diegene wat hom van ongerymdhede beskuldig, besig is om ’n miernes oop te skop.
Dit volg nadat ’n paneel wat ondersoek ingestel het na die land se intelligensiedienste bevind het Zuma het die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) tydens sy bewind misbruik om politieke faksiegevegte in die ANC aan te blaas.
President Cyril Ramaphosa het die paneel verlede jaar saamgestel. ’n Verkorte weergawe van die verslag is die afgelope naweek uitgereik. Die bevindings kom daarop neer dat die SVA verrot is en deur Zuma gebruik is om sy eie politieke belange te bevorder en sy teenstanders in die ANC in ’n swak lig te stel, insluitend vir president Ramaphosa.
Die verslag dreig nou om die brose en gespanne verhouding tussen Zuma en Ramaphosa tot breekpunt te dryf. Dit is algemene kennis dat Ramaphosa en sy voorganger geen ooghare vir mekaar het nie nadat Zuma as’t ware deur Ramaphosa voortydig uit sy amp as staatspresident gedwing is.
Die twee ANC-leiers het tot dusver gepoog om mekaar nie in die openbaar aan te val nie. Dit word al hoe moeiliker om die vrede te bewaar en die oplaaiende spanning tussen hulle is besig om stilweg al hoe groter te word.
Ramaphosa se verwysing na die nege verlore jare tydens sy besoek aan die Wêreld-ekonomiese Forum se beraad in Davos Switserland, het Zuma reeds in Januarie warm onder die kraag gehad.
Die oud-president wat hom deesdae telkens tot Twitter wend om om sy kwalik bedekte misnoeë teenoor sy opvolger uit te spreek, het vuur gespoeg op Ramaphosa se opmerking sonder om hom by die naam te noem.
Hy het toe gesê sulke uitlatings hou ’n bedreiging in vir die ANC en is nie net ’n vingerwysing na hom as vorige president nie, maar ook na die ANC in die algemeen.
Die jongste verslag waarin Zuma se naam pertinent genoem word, naamlik die SVA-verslag, kan die reeds gespanne verhouding tussen die Zuma- en Ramaphosa-faksies verder versuur.
Zuma het hom die slag wéér tot Twitter gewend om sy misnoeë te kenne te gee. Dit is duidelik dat hy, sowel as sy ondersteuners waarvan daar nog baie is, woedend is oor die bewerings in die verslag wat deur sy opvolger geïnisieer is.
Zuma, wat steeds oor binne-inligting van verskeie senior lede in die ANC beskik, het daarop gesinspeel dat hy die deksel gaan lig wat ’n hele blik wurms sal laat uitpeul.
Hy sê hy is nooit deur die komitee wat ondersoek gedoen het na die werksaamhede van die SVA genader nie. Hy beweer ook daar het ten minste twee apartheidspioene in die komitee gedien.
I have never been asked any questions by this committee. This committee has 2 well known Apartheid spies. I’ve never sold out nor written letters to the SB. I feel nothing when Apartheid spies call me corrupt. I hope people are not opening a can of worms which they might regret
— Jacob G Zuma (@PresJGZuma) March 10, 2019
Die verslag wat Zuma rooi laat sien verwys ook na die Gupta-gesin en senior ministers wat glo medepligtig was aan die politieke spioenasie en manipulasie binne die SVA.
Die bekendmaking van die verslag so kort voor die verkiesing sal Ramaphosa se pogings om die eenheid in die ANC te bewaar tot die uiterste beproef.
Een van Zuma se ondersteuners het op Twitter gesê daar moet in gedagte gehou word dat Zuma 35 jaar lank hoof was van die ANC se ondergrondse intelligensieafdeling en oor al die inligting beskik van die sogenaamde uitverkopers binne die ANC. Ene Khethiwe Revival sê weens sy liefde vir die ANC wou Zuma tot dusver nie hulle name noem nie, maar hulle is besig om hom nou te dryf om dit te doen en dit sal nie aangenaam wees nie.
https://twitter.com/RevivalKhethiwe/status/1104790605371269121
Zuma se teenstanders meen egter sy blaf is erger as sy byt. Hulle het hom uitgedaag om die miernes waarvan hy praat oop te skop.
https://twitter.com/MphoG33/status/1104787856856399874
Buro: NB